’n Algemene wanopvatting onder talle verbruikers is dat landbouprodusente ons grond oorbenut, onbeheers besoedel en aansienlik bydra tot koolstofvrystellings. Dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Graanprodusente beskou grond as die basis vir voortreflike produksie asook hul nalatenskap aan toekomstige geslagte. ’n Mens vind nie sommer produsente wat oormatig van plaagdoder gebruik maak nie, veral as die hoë koste van diesel in ag geneem word.
Hoe dit ook al sy, klimaatwisselvalligheid is ’n dringende kwessie met diepgaande gevolge vir die globale landbousektor. In Suid-Afrika is dit te sien in die negatiewe impak wat stygende temperature, veranderende reënvalpatrone en die toename in ekstreme weersomstandighede op graanproduksie het. Dit maak dit moeilik vir produsente om konstant genoeg kwaliteitgraan te lewer om voedselsekerheid en ’n lewensbestaan te verseker. Daarom is dit noodsaaklik dat Graan SA – as verteenwoordiger van ons lede – sal deelneem aan wêreldwye pogings om klimaatsverandering te hanteer met die doel om produsente asook hul nalatenskap aan generasies wat kom, te ondersteun.
Heelwat Suid-Afrikaanse graanprodusente het begin om volhoubare landboupraktyke soos gewasrotasie en presisieboerdery toe te pas om produksiekoste te verlaag, en het gevolglik hul koolstofvoetspoor verminder en veerkragtigheid verbeter. Daar is egter steeds ’n kritieke behoefte aan meer gedetailleerde data en navorsing om die uitwerking van klimaatsverandering op graanproduksie in Suid-Afrika aan te pak.
In hierdie verband vereis streeksklimaatmodellering, grondgesondheid, waterbestuur, klimaatbestande graanvariëteite, ekonomiese en sosiale implikasies en die doeltreffendheid van volhoubare praktyke verdere navorsing om bewaringslandbou te ondersteun. Deur die invul van hierdie kennisgapings sal graanprodusente die nodige hulpmiddels en ondersteuning verkry om by klimaatsverandering aan te pas, wat ’n volhoubare en veerkragtige graanproduksiebedryf in Suid-Afrika sal verseker.
Die noodsaaklikheid van sulke navorsing is beklemtoon deur die vrystelling van die konsepverslag oor sektorale vrystellingsdoelwitte (SET) deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE). Hierdie verslag sal dien as die basis vir die samestelling van ’n nasionale aanpassingstrategieplan vir klimaatsverandering volgens die Wetsontwerp op Klimaatsverandering wat tans wag om deur die president onderteken te word.
Volgens die huidige SET-verslag word 11% van die land se koolstofvrystellings deur landbou veroorsaak, maar dit gebruik ’n algemene benadering wat nie ’n graanprodusent se unieke omstandighede in ag neem nie. Faktore soos streek, grondtipe en boerderypraktyke veroorsaak aansienlike variasies in die koolstofvoetspoor van graanproduksie en moet in ag geneem word. Graan SA sal voortgaan om sulke navorsing en data-insameling te ondersteun om ’n akkurate assessering- en moniteringstelsel te ontwikkel om die impak van graanproduksie op die omgewing te versag terwyl dit ’n volhoubare toekoms vir ons bedryf verseker.
Graan SA sal ook aanbeveel dat die koolstofpoelpotensiaal van graanproduksie in ag geneem word wanneer die vrystellingsvoetspoor van die sektor bepaal word. Ons moet ’n holistiese benadering volg wat beide vrystellings en die potensiaal vir koolstofsekwestrasie erken om ’n omvattende begrip te verseker van die rol wat graanproduksie in die breër klimaatsveranderinglandskap speel.
Die vooruitsig bestaan ook dat graanprodusente gehou gaan word aan SET-doelwitte waaroor hulle min beheer het, soos elektrisiteitsopwekking asook brandstofvrystellings deur vervoerverskaffers en kunsmis- en plaagdodervervaardigers. Ons benodig dus meer gedetailleerde en genuanseerde data as ons koolstofvrystellings in die landbousektor doeltreffend wil aanpak. Dit sal die ontwikkeling van bewysgebaseerde beleid en praktyke moontlik maak wat graanprodusente sal ondersteun om hul koolstofvoetspoor te verklein.
Verder moet die finansiële implikasies van voldoening aan SET oorweeg word. Dit is noodsaaklik dat beleid ontwikkel word wat doelwitte vir die vermindering van vrystellings balanseer met die ekonomiese realiteite waarmee produsente te kampe het om ’n volhoubare en regverdige oorgang na ’n laerkoolstof-landbousektor te verseker. Dit hou vir graanprodusente aansienlike koste in as hulle praktyke wil implementeer om vrystellings te verminder, soos om nuwe tegnologie te gebruik of hul boerderymetodes te verander. Sonder voldoende finansiële ondersteuning en aansporings kan hierdie koste onbekostigbaar wees, wat moontlik die lewensvatbaarheid van graanproduksie-ondernemings en die voedselsekerheid wat hulle bied, kan bedreig.
Graanprodusente kan egter gerus wees dat terwyl hulle daarop fokus om die nasie te voed, Graan SA hierdie beleids- en regulatoriese uitdagings proaktief hanteer. Dit blyk duidelik uit ons kommer oor die SET-verslag wat amptelik aan DFFE voorgelê is, ons deurlopende konsultasie met lede van die landbouwaardeketting en ons aktiewe deelname aan die amptelike interregeringswerkgroep in hierdie verband.
Ons lede is deeglik bewus van hul toesighoudende verantwoordelikheid teenoor ons natuurlike erfenis en Graan SA verwelkom enige inisiatief om volhoubaarheid te verbeter. Hierdie inisiatiewe moet egter op feite gebaseer wees en nie die regulatoriese las op produsente verhoog nie.