Hoe verskil trekkerdienskoste volgens fabrikaat en plek?

Gepubliseer: 31 Julie 2024

255
Albert Muller, Natuur- en Landbou-wetenskappe-fakulteit, Universiteit van die Vrystaat

Aan die einde van 2022 het die produsente van Graan SA se Produksie-en-Inset-werkgroep ’n versoek gerig om die diensstelle (service kits) van verskillende fabrikate se koste tussen dorpe en trekkers te vergelyk. Gedurende dié periode was verskeie produsente bekommerd oor die koste van onderdele en ingevoerde trekkerbande.

Net soos met die verbruikersprysindeks (VPI), is daar voorgestel dat ’n mandjie van algemene diensgoedere opgemaak word en so vergelyk word. Die dienskostemandjie word hoofsaaklik opgemaak uit lugfilters; oliefilters; dieselfilters en hidrouliese filters. Dié projek is aangepak in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat en die resultate word oorhoofs in hierdie artikel bespreek.

Data-insameling
Aanvanklik is die koste van die diensstelle ingesamel vanaf ses fokusareas: Wesselsbron, Bothaville, Bloemfontein, Klerksdorp, Douglas en Caledon. Die diensstelle van verskillen­de trekkerhandelsmerke wat John Deere, McCormick en Landini insluit, is verkry. John Deere se 6B-reeks (71 kW tot 101 kW), 6M 4 Cyl-reeks (71 kW tot 122 kW), 6M 6 Cyl-reeks (98 kW tot 138 kW) en 8R-reeks (212 kW tot 278 kW) is in die projek ingesluit. McCormick se X8-reeks en Landini se Super Cab-reeks en 7-reeks was ook deel van die data-insameling. In elk van dié areas is inligting by landboubesighede en handelaars van die area ingesamel.

Die opname is later verbreed om ook Case as handelsmerk in te sluit vir trekkers in die 80 kW-; 150 kW- en 250 kW-kategorieë. Om te verseker dat al vier trekkerhandelsmerke werkswinkels in elke area bevat, is die areas aangepas om Middelburg, Malmesbury, Bethlehem en Delmas in te sluit.

Data-ontleding
Dié projek het ’n magdom data gegenereer tussen die eerste periode van insameling in die ses verskillende fokusareas wat geval het tussen Oktober 2022 en Februarie 2023. Na die verfyning van die eerste stel opnames, wat Case nou ingesluit het, is data tussen Julie en September 2023 ingesamel. Om die opname op ’n praktiese en verteerbare wyse terug te gee, is slegs die grootste en belangrikste dienste (1 000 uur- en 2 000 uur-dienste vir John Deere asook 1 200 uur- en 2 400 uur-dienste vir Landini, McCormick en Case) in diepte geanaliseer.

Resultate
Vanaf Figuur 1 kan ’n margi­nale verskil in die diensstelkoste waargeneem word. Om John Deere as voorbeeld te gebruik, was Bothaville en Klerksdorp se diensstelkoste presies dieselfde as gevolg van die nabye geografiese ligging van die areas wat die vervoerkoste van onderdele onveranderd maak. Gesamentlik is Bothaville en Klerksdorp se diensstelkoste ook die hoogste vir al die John Deere-reekse. By die John Deere 6B-reeks is daar ’n R3 165-verskil wanneer Bothaville en Klerksdorp met Wesselsbron vergelyk word. By die John Deere 6M 4 Cyl-reeks is daar ’n R3 320-verskil in dienskoste wanneer Bothaville en Klerksdorp met Bloemfontein vergelyk word. By die John Deere 6M 6 Cyl-reeks is die verskil R2 074 wanneer Bothaville en Klerksdorp met Wesselsbron vergelyk word. By die John Deere 8R-reeks is daar ’n R5 338-verskil in dienskoste wanneer Bothaville en Klerksdorp met Bloemfontein vergelyk word.

Figuur 1: Koste van diensstelle vir John Deere se 1 000 uur-diens vergelyk met Landini en McCormick se 1 200 uur-dienste.

Uit Figuur 2 kan waargeneem word dat Bothaville en Klerksdorp se 2 000 uur-diensstelkoste uitskiet. By die John Deere 6M 4 Cyl-reeks is daar ’n R3 968-verskil in koste wanneer Bothaville en Klerksdorp met Bloemfontein ver­gelyk word. By die John Deere 6B-, 6M 6 Cyl- en 8R-reekse is die verskil R4 502, R5 380 en R5 775 onderskeidelik wanneer Bothaville en Klerksdorp met Wesselsbron vergelyk word. Die verskille in diensstelkoste kan hoofsaaklik gebaseer word op die opbouende vervoerkoste van onderdele na verder geleë areas. Tabel 1 bied ’n samevatting van al die inligting.

Figuur 2: Koste van diensstelle vir John Deere se 2 000 uur-diens vergeleke met Landini en McCormick se 2 400 uur-dienste.

Dit is duidelik sigbaar in Grafiek 1 dat Delmas se dienskoste vir hierdie John Deere-reeks redelik hoër was (R5 250 tydens die 1 000 uur-diens en R6 061,76 tydens die 2 000 uur-diens) as Middelburg en Bethlehem se dienskoste, wat presies dieselfde was.

Grafiek 1: John Deere: 1 000 uur- en 2 000 uur-dienskoste in Middelburg, Bethlehem en Delmas.

In Grafiek 2 kan dit opgetel word dat Case in Middelburg en in Bethlehem se 1 200 uur- en 2 400 uur-dienste vir die 80 kW hoër is as die ander areas s’n. Nietemin strek Middelburg se dienskoste ver bo die ander areas vir die 150 kW- en 250 kW-­Case-trekkers. Daar is ’n prysverskil van R7 138,37 in die 1 200 uur-dienskoste van Case se 150 kW-trekker wanneer Middelburg met Malmesbury vergelyk word.

Grafiek 2: Case: 1 200 uur- en 2 400 uur-dienskoste in Middelburg, Bethlehem en Malmesbury.

Grafiek 3 wys duidelik die verskil tussen die dienskoste van Delmas, Middelburg en Malmesbury. Die Landini Super Cab se diens­koste tussen die drie areas het ’n relatief konstante tendens getoon. Hoewel groter verskille waarneembaar was by die Landini 7-reeks en McCormick X8-reeks, is dit opvallend dat pryse in Malmesbury aansienlik hoër is as in die ander areas.

Grafiek 3: Landini en McCormick se 1 200- en 2 400 uur-dienskoste in Middelburg, Malmesbury en Delmas.