ERKENNING AAN RAADSLEDE EN PERSONEEL

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
foto’s: Lizelle Snyman
Gepubliseer: 31 Julie 2024

123

Graan SA se Raadsfunksie word jaarliks in Junie/Julie tydens die organisasie se Raadsvergadering, wat oor twee dae strek, aangebied. Dit is ’n aand van deernis en erkenning, het Nico Vermaak, maatskappysekretaris van Graan SA, gesê toe hy die gaste verwelkom by vanjaar se geleentheid wat op 10 Julie op NAMPO Park plaasgevind het.

Die funksie bied die geleentheid om afskeid te neem van Graan SA-lede wat voorheen in die organisasie se Raad gedien het. Graan SA-personeel ontvang ook langdienstoekennings tydens hierdie geleentheid.

Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, het raadslede en hul gades, personeel en gaste bedank dat hulle deel van die Graan SA-familie is. “Ons weet watter geweldige opoffering dit is vir produsente om hierdie organisasie aan die gang te hou. Ons is ook dankbaar vir elke Raadslid se gesin wat familietyd prysgee sodat hierdie landbouleiers Suid-Afrikaanse graanprodusente kan verteenwoordig.

“Ek besef ons het elkeen maar ’n kort tydjie om ’n verskil te maak. Soos die katedrale in Europa wat oor dekades gebou is en elke messelaar in sy gegewe tydperk lagie vir lagie stene kon lê, so ook het Raadslede die geleentheid om aan Graan SA te bou. Hierdie is ons kans om baksteen en sement neer te sit en die organisasie verder op te bou tot voordeel van graanprodusente,” het hy bygevoeg.

Graan SA se bestuurspan gee jaarliks erkenning aan ’n Raads­lid vir uitnemendheid en toewyding en dié trofee het Jose de Kock, Raadslid vir Streek 27, vanjaar te beurt geval. Sy liefde en passie vir die bedryf asook die uitnemende manier waarop hy leiding neem het vir die span uitgestaan. Hy is ook die voorsitter van die Nasionale Garsbedryfskomitee.

Jose de Kock is deur die personeelspan aangewys as die afgelope jaar se Uitnemende Raadslid.

Die Raadsfunksie is moontlik gemaak deur Bayer. “Dit is die tiende jaar dat Bayer deel is van hierdie besonderse byeenkoms en ons sien ons betrokkenheid as ’n geleentheid om landbouers te ondersteun. Dankie dat julle as boere namens ander boere optree. Dit is ons hoop dat Graan SA en Bayer se gesamentlike passie vir landbou hierdie verhouding net sterker sal maak,” het Johan Bibbey, hoof van Bayer se saaddivisie in SA, gesê.

Afskeid is geneem van Paul Corver, uittredende Raadslid vir Streek 17. Graan SA-voorsitter Derek Mathews het Corver bedank vir sy unieke bydrae en die invloed wat hy in sy streek uitgeoefen het. “Dankie vir die kalm manier waarop jy sake op die tafel hanteer het.” Corver het Graan SA bedank vir die positiewe manier waarop hulle die organisasie bestuur. “Dit is as gevolg hiervan dat ek kans ge­sien het om die werk te doen.” Saam met Corver op die foto is sy vrou, Francis, dr Tobias Doyer (links) en Derek Mathews (regs).
Maseli Letuka, voormalige Raadslid vir Streek 31, het gesê die twee termyne wat hy gedien het was vir hom ’n belewenis. “Ek het dit geniet om op die verskillende werkgroepe te dien, so het ek die organisasie goed leer ken.”
Die Raadsfunksie bied geleentheid vir die Graan SA-familie om heerlik saam te kuier.
Alzena Gomes, Graan SA se uiters bekwame skakelbeampte, het ’n langdienstoekenning ontvang vir tien jaar se diens. Dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO (Pty) Ltd (regs) het met lof gepraat van die professionele wyse waarop Gomes die organisasie se kommunikasie hanteer. “Graan SA vertoon uiters professioneel te danke aan Alzena se harde werk.”
Jerry Mthombothi en sy vrou, Elizabeth, is hier saam met Jane McPherson, wat interim konsulteer vir Graan SA/Phahama Grain Phakama (PGP), en dr Tobias Doyer. Mthombothi ontvang ’n langdienstoekenning vir 20 jaar diens aan Graan SA.
Gerhard Bruwer, uittredende Raadslid vir Streek 25, het tydens sy afskeidsrede gesê dit is sy pa wat hom geleer het om homself te omring met positiewe mense, dié wat probleme kan oplos en droom. “Daarom is ek dankbaar dat ek deel kon wees van hierdie ongelooflike organisasie waarmee ons landbou vorentoe kan vat.” Bruwer staan hier saam met sy vrou, Lizel, dr Tobias Doyer (links) en Derek Mathews (regs).
Die groep Reborn het vir regstreekse vermaak gesorg.