Dok Jan bring produsente en wetenskap bymekaar

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 31 Julie 2024

254

Julie se held: Dr Jan Dreyer

Dr Jan Dreyer het sy professionele loopbaan as landbouwetenskaplike aan die ontwikkeling van die graan- en oliesadebedryf toegewy. Hoewel hy aanvanklik op grondbone gefokus het, kronkel sy loopbaanpad verby die Instituut vir Groente en Sierplante, waarna hy die leisels as bestuurshoof (direkteur) by die LNR-Instituut vir Graangewasse (IGG) in Potchefstroom oorneem.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Julie is dr Jan Dreyer.

In sy loopbaan van nagenoeg 43 jaar het hy verskeie oorsese studietoere onder­neem. Hy het ook sy PhD oor die groeireaksie van grondbone in 1980 aan die Universiteit van Florida verwerf.

Ná sy uittrede as direkteur van die destydse LNR-IGG in 2004, bly hy verbonde aan die IGG en plaas tot en met sy aftrede in 2011 opnuut sy fokus op grondboonnavorsing. Hierna sluit hy hom aan by die Proteïennavorsingstigting (PNS) as ’n kontrakteur op sojabone tot en met sy finale uittrede op 29 Februarie vanjaar.

Dok Jan, soos hy algemeen bekend staan, het ’n besondere verbintenis met somergraanprodusente, NAMPO en Graan SA gehad. Hy word gereken as ’n vriend van die organisasie en het oor jare sy diensbaarheid teenoor die ontwikkeling van die bedryf, verskeie gewasse en die mense in landbou bewys.

Annelie en Attie de Beer. Attie het Dok Jan genomineer as held in die My Hero-reeks.

Attie de Beer vertel: “Ek ontmoet Dok Jan in 1981 by die nuut gestigte Instituut vir Graangewasse op Potchefstroom na sy terugkeer uit die VSA, waar hy ’n PhD in grondboonfisiologie aan die Universiteit van Florida in Gainesville voltooi het. ’n Uitsonderlike eienskap van hom was dat hy blitsig op sy voete kon dink. Hy is ’n mense-mens en het opreg belanggestel in elkeen wat saam met hom gewerk het. Hy het nie net ’n oop kantoordeur gehad nie, maar ook ’n oop hart.

“Dok Jan is vinnig bevorder tot direkteur van navorsing en het die meeste van sy tyd as direkteur by die IGG deurgebring. Na die stigting van Graan SA het hy baie hard gewerk om die navorsingsinstituut nader aan die produsent te bring deur goeie samewerking met Graan SA. Hy dien 26 jaar op die keurings­komitee vir die Graanprodusent van die Jaar. Dok Jan is in 1990 deur Graan SA as Wetenskaplike van die Jaar aangewys en ontvang ook ’n oorkonde van hulle vir sy bydrae tot die landbou. Vir sy leierskap en bydrae tot die Suid -Afrikaanse landbou is ons Dok Jan opreg dankbaar.”