Ureumstabiliseerders verbeter N-BENUTTING en RENDEMENT

Dr Erik Adriaanse, namens Kimleigh Chemicals SA (Pty) Ltd

316

Die effektiwiteit van Kimleigh se stikstofstabiliseerders vir mieliepro­duksie is voorheen met statisties en ekonomies bewese proefresultate wat in die Rysmierbult-omgewing verkry is, geïllustreer (SA Graan/Grain, Julie 2021). Hierdie resultate is op ’n goed gedreineerde sandgrond verkry en daarna het die vraag ontstaan of soortgelyke reaksies op ’n swak gedreineerde watertafel-sandgrond in die Kroonstad-omgewing verkry sou word.

Kimleigh vervaardig twee vorms van ureum­stabiliseerders:

  1. ’n Urease-inhibeerder wat die vervlugtiging en toksiese effekte van ureum verminder (Azanon U).
  2. ’n Nitrifikasie-inhibeerder wat die loging van stikstof (N) verminder (InnoX).

Hierdie twee produkte is ook in een produk, wat as DetaiN bekend staan, gekombineer.

DetaiN
Die effektiwiteit van ureum wat met DetaiN behandel is teenoor onbehandelde ureum en ’n kontrole wat geen N na plant ontvang het nie, is in ’n statistiese proef met vier herhalings getoets. Die proef is op 28 Desember 2022 met die mie­liekultivar PAN5B-49 teen ’n plantpopulasie van 22 700 en ’n rywydte van 1,5 m geplant.

Met plant is 34 kg N/ha, 34 kg P/ha (fosfor) en 34 kg K/ha (kalium) op al die persele gebandplaas. Behandelde en onbehandelde ureum is 22 dae na plant teen 92 kg N/ha, 35 cm vanaf plantrye in bande op die grond gestrooi en vlak ingeskoffel. Graanopbrengs, N-inhoud in die grond en N-inhoud in blare is gemeet.

Die opbrengs wat met DetaiN-behandelde ureum verkry is, was 0,63 t/ha (9,35%) meer as met onbehandelde ureum (Grafiek 1). Hierdie opbrengsverhoging vergelyk goed met ’n verhoging van 0,439 t/ha (10,8%) wat voorheen by Rysmierbult met DetaiN verkry is. Die opbrengsverskil by Kroonstad was statisties betekenisvol teen 90%-sekerheid. Die koste verbonde aan die behandeling met 92 kg N/ha as ureum het nagenoeg R201,48/ha beloop. Die netto winsverhoging (teen ’n mielieprys van R3 800/ton) wat met DetaiN-behandeling van ureum verkry is, was R2 394/ha.

Grafiek 1: Opbrengsreaksies van ureum wat met DetaiN behandel is teenoor onbehandelde ureum en ’n kontrole wat geen stikstof na plant ontvang het nie. Die N-peil was 92 kg N/ha. KBV (P = 0,10) = 0,22 t/ha (n = 4).

Ontledings van anorganiese N (nitraat-N + ammonium-N) in die boonste 30 cm grond teen 44 dae na plant word in Grafiek 2 aangebied. Die gevolg van DetaiN-behandelde ureum teenoor onbehandelde ureum was ’n verhoging van 18,4 mg N/kg of 71,8 kg N/ha teen ’n digtheid van 1,3 kg/m3. Hierdie verskil in N-inhoud in hierdie grondlaag op hierdie tydstip is van groot betekenis omdat N-opname juis dan drasties toeneem en omdat die meeste wortels dan in hierdie grondlaag is. Die rede vir die verskil kan aan minder N-vervlugtiging en N-loging weens die DetaiN-behandeling toegeskryf word.

Grafiek 2: Anorganiese N in die boonste 30 cm grond, 22 dae na topbemesting en 44 dae na plant (n = 3).

Die N-inhoud in die blare vir die DetaiN-behandelde ureum was betekenisvol hoër as vir onbehandelde ureum teen 105 dae na plant (Grafiek 3). Hierdie resultaat is ’n aanduiding dat meer N oor die groeiseisoen opgeneem is wanneer ureum met DetaiN behandel is. Die feit dat daar teen 44 dae na plant ook meer N in die grond was wanneer ureum met DetaiN behandel is (Grafiek 2), hou hiermee verband.

Grafiek 3: N-inhoud in blare teen 105 dae na plant (n = 3). KBV (0,05) = 0,43%.

Gevolgtrekking

  • Die behandeling van ureum met DetaiN het opbrengs, rendement, grond-N en N-opname in die blare betekenisvol verhoog.
  • Statisties betekenisvolle opbrengsverskille dui op herhaalbaarheid van resultate onder soortgelyke omstandighede.
  • Die opbrengsverhoging (%) van DetaiN-behandelings stem ooreen met vorige resultate wat op ’n goed gedreineerde sandgrond verkry is.
  • Suboptimale N-peile en DetaiN-behandelde ureum-toedienings teen nie later as vier weke na plant nie, is voorvereistes vir die herhaalbaarheid van soortgelyke resultate.

Raadpleeg Kimleigh vir meer lokaliteitspesifieke toepassings. Besoek www.kimleigh.com of skakel 018 293 1028.

Dr Andre Nel, Danie Minnaar, die Sand­grondontwikkelingskomitee en die Mielietrust word bedank vir die uitvoering van die navor­sing en die beskikbaarstelling van data.