Die winter van 2024

Gepubliseer: 2 Julie 2024

379

Beste Grootneef

Die wintermaande het stilweg aan­gebreek met herfsdae wat al hoe korter geword het en ’n sonnetjie wat al hoe yler geskyn het. Die 1ste Junie het die kwik in die Vrystaat steeds tussen 5 ˚C en die mid-20’s geskommel.

En toe kom die winter in al haar glorie op 2 Junie en strooi ryp soos as oor die Vrystaatse vlaktes. Van die Matroosberge in die Kaap tot op die pieke van die Maluti’s het die winter ingewig met ysreën en kapok. In sommige streke in die groot Karoo is droë lope omtower in bruisende riviere met malende water op pad see toe.

Die yswinde het mens en dier laat skuiling soek teen die mag van die natuur. Baie plekke het temperature ver benede vriespunt aangeteken. Die koudste plek in die land was egter Luthuli-huis – met ’n ysige minus 73.

Nie net het die winterwinde oor die Suidland geskeer nie, maar die winde van verande­ring het ook magsdeling in baie kiesafdelings tot gevolg gehad. Soos die winter uiteindelik deur die somerhitte gebreek het, so ook het ’n nuwe seisoen in ons land se ge­skiedenis aangebreek waar een enkele party nie met ’n gewaarborgde meerderheid besluite deur die parlement kan stoomroller nie.

Die vraag is wat die vrug van die nuwe orde sal wees. Gaan daar hande gevat word om die land te laat werk of gaan ons ingesuig word in ’n spiraal van konflik met wantroue in die rand? As dit ooit die geleentheid vir die Buffel was om as staatsman na vore te tree en besluite in belang van die hele Suidland te neem, is dit nou.

Wintertyd is egter ook oestyd in die Vrystaat. Buurman laat weet dat die geluksbuie van die afgelope seisoen die stroper van 2 ton tot 7 ton in dieselfde land laat oes. In sommige gebiede – veral in die ooste – word mooi oeste afgehaal, maar in die weste word die impak van die hittegolwe van Februarie terdeë gevoel met lae opbrengste. Boerdery gaan nie makliker word nie. Vir die nuwe seisoen sal potlode spesiaal skerp gemaak moet word om die somme te laat klop.

Winter met kaggelvuuraande en ’n sagte hanepootjie bring egter ook vreugde. Winter is die seisoen om bees te slag en ’n blesbokkie of twee te jag. As jy weer kyk, is die biltong en droëwors reg vir afhaal en uitdeel om saam met die koshuiskinders te stuur wanneer die skool weer open.

In elke mens se lewe is ’n seisoen van winter nodig. Om ’n bietjie ou takke te snoei, blare af te skud en reg te maak vir ’n nuwe groeiseisoen wat in die lente wag. Ou Neef, geniet jou winter, dit gaan gou verby.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.