NAMPO Kaap: SA landbou bly die ruggraat van ekonomiese groei

Graan SA en Bredasdorp Park NPC
Gepubliseer: 27 Junie 2024

926

Die Overberg is besig om haar mooiste klere aan te trek vir NAMPO Kaap wat vanjaar van 11 tot 14 September deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC op Bredasdorp Park aangebied word.

2024 vier die vyfde aanbieding van NAMPO Kaap en ook die 30-jaarherdenking van die eerste Meganisasiedag wat in 1994 plaasgevind het. NAMPO Kaap het sedert sy ontstaan die voortou geneem om landbou op sy beste in die Kaap voor te stel – en vir produsente asook die gemeenskap ’n platform te skep wat innovasie, tegnologie en netwerkgeleenthede soos min bied.

Dié jaar se tema – “Landbou: Die Ruggraat van Ekonomiese Groei” – is meer relevant as ooit tevore, veral te midde van die kompleksiteite van 2024 wat genavigeer moet word. Landbou bly die hoeksteen van globale ekonomieë: Dit dryf volhoubare ontwikkeling, verseker voedselsekerheid en bevorder innovasie in ’n toenemend gekoppelde wêreld. Die landbousektor is ’n noodsaaklik enjin vir ekonomiese groei. Dit voed nie net miljoene nie, maar verskaf ook ’n beduidende deel van die bevolking se lewensbestaan. Met vooruitgang in landboutegnologie – van presisieboerdery tot volhoubare praktyke – beleef die sektor ’n transformeringsfase wat bydra tot ekonomiese stabiliteit en veerkragtigheid.

“Die belangrikheid van landbou strek verder as blote produksie. NAMPO Kaap speel ’n belangrike rol in landelike ontwikkeling en die bevordering van sosiale groei. Deur produsente met moderne toerusting en kennis te bemagtig, kan ons produktiwiteit en inkomste ’n hupstoot gee, wat lei tot ’n meer lewendige en robuuste landbousektor. Boonop maak landbou se integrasie met ander sektore, soos hernubare energie en biotegnologie, nuwe weë oop vir ekonomiese diversifikasie en innovasie,” het dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering, gesê.

NAMPO Kaap se sukses is sigbaar in sy volgehoue groei. Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park-direksies, is daar 38 addisionele uitstalruimtes van 15 x 20 m op die terrein langs die proefpersele ingerig om in die vraag te voorsien. Nuwe masjinerie en tegnologie word jaarliks by NAMPO Kaap bekendgestel en nuwe uitstallers kan danksy die vergrote uitstalarea met gemak gehuisves word. Verder kan battery-aangedrewe motorfietse, vierwielmotorfietse en voertuie op die toegewyde demonstrasiebaan besigtig word.

Skaaphond-ekspo
Besoekers aan NAMPO Kaap kan vanjaar uitsien na ’n skaaphondekspo wat van die Woensdag tot die Vrydag in die BKB-veesentrum aangebied word. Hierdie program, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging, behels lesings, demonstrasies en kompetisies. Die finaal van die jaarlikse Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie word op Vrydag 13 September gehou, en tydens dié geleentheid sal die skaaphondveiling plaasvind.

Lipizzaners
Die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse Lipizzaners sal weer daaglikse vertonings lewer. Hierdie wit hingste sal besoekers betower met hul asemrowende bewegings op die maat van bekende musiek.

’n Fees van fynbos
Besoekers aan NAMPO Kaap word elke jaar verras met ’n fees van fynbos. Marjolijn Malan se indrukwekkende blommerangskikkings in die Voermol-saal sal beslis nie teleurstel nie. Die Neptun-fynbosuitstalling in die Neptun-saal beloof om vanjaar, onder leiding van Jan Hagen, weer die asem weg te slaan met ’n uitstalling wat die verskeidenheid plante endemies aan die streek so na as moontlik in hulle natuurlike habitat uitbeeld. Verskillende biome sal uitgebeeld word deur onder meer proteas, speldekussings, verskeie ander fynbosspesies asook aalwynsoorte wat in die omgewing voorkom. ’n Teetuin maak deel uit van die uitstalling om as oase te dien wanneer besoekers aan NAMPO Kaap asem wil skep en iets wil nuttig in ’n natuurtuinatmosfeer.

Die jeug is die toekoms van landbou
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou se skoleprogram beoog om vanjaar 500 leerders van 30 skole wat landbou as vak aanbied, by die ekspo te betrek. Hier kan die leerders dit wat hulle in die klaskamer leer, aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun.

Op Saterdag 14 September vind die jaarlikse Overberg-streeksjeugskou plaas. Leerders kan inskryf vir die volgende klasse: suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns, suiwelbereiding en fotografie. Seuns en meisies tot 17 jaar neem in drie ouderdomsgroepe deel: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Vroueprogram
Vanjaar se vroueprogram beloof om soos altyd stampvol te wees – met bekende gaste en interessante onderwerpe. Beslis iets om na uit te sien! Die gewilde NAMPO Kaap-instapskoonheidsalon sal weer die skoner geslag van kroontjie tot toontjie bederf.

Sien jou daar!
Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2024 aanlyn beskikbaar by www.ticketpro.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlyn aankope teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag 11 tot Vrydag 13 September (08:00 tot 17:00) en Saterdag 14 September van 08:00 tot 14:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas-toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584/082 896 2225 of www.overberg-info.co.za.

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2024, besoek www.nampokaap.co.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za.