Die landbousektor en spesifiek graanprodusente verkeer onder ’n swaar las van onsekerheid as gevolg van die droogte. Hierdie is ’n eenmanstryd teen die aanslae van die elemente en die onvoorspelbaarheid van die natuur en dit verg ’n ongelooflike hoeveelheid moed en deursettingsvermoë om die wa deur die drif te trek.
Ten spyte van die droogte bly die graanbedryf in Suid-Afrika steeds sterk in ’n tyd wat hongersnood ander lande in Suider-Afrika in die gesig staar weens armoede en ’n gebrek aan produksiekapasiteit. Dit onderstreep die belangrikheid van vryemarkbeginsels met gepaste ondersteuningsmaatreëls om internasionaal mededingende produksie te verseker, insluitende logistiek, toegang tot die beste genetiese en ander tegnologie en finansiering om die volhoubaarheid van produsente te verseker te midde van uitsonderlike weersomstandighede.
Ek wil ons lede egter verseker dat hulle nie alleen staan in hierdie tyd waartydens moeilike besluite geneem moet word nie. Graan SA werk onverpoosd om produsente op alle terreine te ondersteun. Ons is in gesprek met die regering oor die moontlikheid om finansiële bystand te verskaf deur middel van ’n landbourampfonds asook toegang tot bekostigbare kredietoplossings en inkomsteversekering wat produsente in staat kan stel om die storm te deurstaan.
Graan SA se onlangse Kongres op NAMPO Park het blywende indrukke van uiteenlopende aard by my gelaat. Die organisasie is meer vaartbelyn gemaak om uitdagings namens ons lede aan te pak deur die vasstelling van duideliker gesagstrukture en ’n verdeling in afsonderlike groepstrukture om direkte ledebelange asook ontwikkeling, transformasie en navorsing te dien. Ek wil graag ons voorsitter, Derek Mathews, en visevoorsitters, Richard Krige en Jeremia Mathebula, bedank vir hul leierskap en insig in hierdie verband.
David Hughes, visepresident van die Internasionale Plaasbestuursvereniging van Argentinië, het Kongresgangers vertel dat Suid-Afrikaanse graanprodusente deel is van ’n internasionale broederskap van produsente wat elke seisoen soortgelyke prys-, produksie- en markuitdagings die hoof moet bied. Dit was enersyds interessant om te sien dat heelwat van ons uitdagings met internasionale produsente gedeel word, maar andersyds ook hoe anders en uniek van ons uitdagings is. Dit was veral boeiend om te hoor hoe ons Argentynse eweknieë die gedeelde struikelblokke soos klimaatsverandering asook produksie- en markuitdagings met ’n tipiese boer-maak-’n-plan-benadering aanpak – en dít boonop met beperkte hulpbronne! Hughes het ook benadruk hoe belangrik dit is om kommunikasiekanale met die regering en die volle landbouwaardeketting te bewerkstellig om resultate te bevorder – iets waarna Graan SA daagliks streef.
Met globale landbou-uitdagings is die behoefte aan samewerking en kennisdeling tussen boere van kardinale belang. Deur ervarings te deel, beste praktyke uit te ruil en gesamentlik aan oplossings te werk, kan produsente ’n sterk en veerkragtige internasionale gemeenskap skep wat die toekoms van landbou wêreldwyd kan bevoordeel.
David O’Sullivan, mede-outeur van die boek Rassie: Stories oor rugby en die lewe, het Kongresgangers geïnspireer met Rassie Erasmus se innovasie en benadering tot die bestuur, spelplan en uitbou van Suid-Afrikaanse rugby wat uitgeloop het op opeenvolgende Wêreldbeker-oorwinnings.
Net soos wat ’n rugbyspan ’n spelplan benodig om ’n oorwinning te behaal, floreer ’n plaas met ’n duidelike visie en strategie. Graanproduksie – net soos die spel van rugby – is ’n proses van voortdurende aanpassing, uithouvermoë en ’n ysere wil om nie net die bekende nie, maar ook onbekende en dikwels onverwagte uitdagings die hoof te bied.
Rassie het vroeg in sy rugbyloopbaan begin om tegnologie aan te wend om teenstanders se spel te ontleed. Hy het besef – net soos boere – dat jy nie kan weet wat jy nie meet nie. In hierdie verband sien ek uit na die NAMPO Oesdag se fokus op “Landbou in ’n digitale era”. Tegnologie stel produsente in staat om produksie te meet en analiseer en insette optimaal toe te dien.
’n Suksesvolle produsent kan ook nie net op sy individuele vermoëns staatmaak nie, maar vorm deel van ’n groter gemeenskap en waardeketting. Dit is ’n spanpoging – dink byvoorbeeld aan die belangrike bydraes van jou gesin, werknemers, selfs jou buurman en die verskillende landbou-georiënteerde raadgewers. Rassie het dit reggekry om rugby-administrateurs, politici, oudspelers en die publiek te inspireer en te belyn om ’n omgewing te skep waarin die Bokke hulle beste kon lewer.
O’Sullivan het verder gedeel dat Rassie veral trots is op sy program om transformasie aan te pak. Hy het ’n oënskynlik onoorkomelike uitdaging in ’n strategiese voordeel verander deur ’n atmosfeer te skep waarin jong spelers van verskillende agtergronde inklusief kon groei en gedy tot die mees mededingende span in die wêreld. Net so werk Graan SA elke dag om ’n omgewing te skep waarin toekomstige produsente van verskillende agtergronde landbousukses kan bereik.
Met die algemene verkiesing wat binnekort in Suid-Afrika gaan plaasvind, kan ons verwag dat daar ’n toename in populistiese en soms opruiende politieke uitsprake sal wees wat die landbou-omgewing in die spervuur sal plaas ten einde stemme te werf.
Dit is egter noodsaaklik vir produsente om te midde van hierdie politieke geraas kalm te bly. Kennis oor die politieke landskap se impak op die landbousektor is belangrik, maar moenie toelaat dat die emosionele storm van die politieke debat jou gesonde oordeel beïnvloed nie. Fokus op die dinge waaroor jy beheer het. Graan SA sal vir seker jou saak bevorder daar waar jy nie beheer oor die prosesse het nie en wanneer jy ’n oplossing vir ’n probleem soek – probeer in rugbyterme dink.