Om ’n seisoen akkuraat vooruit te voorspel, bly maar moeilik. Ag moet geslaan word op die huidige waarskuwingstekens wat dui op ’n moontlike droë jaar. In sulke gevalle is dit raadsaam om eerder vir ’n gemiddelde na ondergemiddelde reënseisoen te beplan, sonder om potensiaal in te boet indien die seisoen in ’n goeie een ontwikkel.
Die afgelope seisoen het vir heelwat uitdagings gesorg. Baie hektare was nadat dit geplant is onder water as gevolg van te veel reën. Met strooptyd kon die effek steeds op mielie-aanplantings gesien word, alhoewel dit nie werklik sigbaar was waar sojabone onder water was nie. Dan was daar die droogteperiode van drie tot vier weke met gepaardgaande hittegolwe wat geheers het gedurende Februarie en Maart, net om weer later in die jaar bo normaal te reën.
Bewerking
Dit is belangrik dat waar daar van primêre bewerking gebruik gemaak word, dit so gou as moontlik na die stroopaksie sal plaasvind – veral in hierdie jaar waar grondvogtoestande gunstig is. Daar word ’n positiewe opbrengsreaksie verkry indien daar vroeër bewerk word. Let daarop dat die grond die bewerking en bewerkingsdiepte moet dikteer om sodoende die volle potensiaal daarvan te benut. Hef verdigtings- en smeerlae op. Hiervoor is die enigste en akkurate manier om van profielgate gebruik te maak. Laat die vorige jaar se gewas se plantwortels leiding gee in die verband. Plantwortels wys altyd die ware verhaal.
Landgeskiedenis, beplanning en plantdatums
Tydens beplanning is dit beter om eerder na die langertermyngeskiedenis van landerye te kyk. Moet nie net vaskyk in wat in die afgelope drie jaar gebeur het nie – kyk eerder na ’n tienjaargeskiedenis en beplan daar rondom. Skaal af op plantpopulasie en maak gebruik van produkte wat kan aanpas en stabiel is by moeiliker omstandighede gegewe die komende seisoen se vooruitsigte.
Bly by beproefde praktyke wanneer dit kom by plantdatum, bewerking, gewasse en kultivars. Indien gronde baie nat is, kan daar ’n kans gewaag word om af te wyk van die optimale plantdatums. Korrekte plantdatums is veral uiters belangrik vir die westelike gebiede, waar daar gewoonlik ’n midsomerdroogte kan voorkom wat tipies van 25 Desember tot 20 Januarie strek. Aanplantings op watertafelgronde hanteer gewoonlik die midsomerdroogte heelwat beter as gronde sonder ’n watertafel – dit kan tot 21 dae grasie gee tydens ’n droogte.
Bemesting
In ’n droë jaar is dit raadsaam om ’n deel van die topbemesting terug te hou en dit slegs toe te dien indien vogtoestande dit toelaat. Dit is ook beter om gereelde grondontledings te doen, dan kan daar meer akkuraat beplan word ten opsigte van bemesting. ’n Grondontleding is die basis waarop bemestingsbeplanning berus. Die akkuraatheid van die ontledingsverslag word bepaal deur die akkuraatheid waarop die grondmonsters getrek is. Wanbalanse wat mag voorkom, kan nou reggestel word. Diens die planter en gee veral aandag aan kunsmisplasing. Sorg dat elke planterry presies gelyke hoeveelhede lewer asook die afstand en diepte wat kunsmis vanaf die pit geplaas word. By sandgronde is die plasing van kunsmis vanaf die saad uiters belangrik.
Aalwurms
Aalwurms het die afgelope jaar dikwels voorgekom. Een van die hoofoorsake was die baie reën wat aalwurms na die grondoppervlak toe forseer het. Die konsentrasie van aalwurms was dus by die wortelsone en in vele gevalle wou plantjies net nie goed groei nie. Alle gewasse kan aalwurms kry, maar daar is wel vlakke van weerstand tussen kultivars. Maak gebruik van geregistreerde aalwurmdoders indien nodig.
Springhaasrotte
Die probleem van springhaasrotte neem jaarliks toe. Skade kan beperk wees tot enkele plante of dit kan die totale oorplant van landerye vereis. Die toename in veral geenbewerkingspraktyke asook dekgewasse lei verder tot verhoogde populasies van die pes.
Veranderings
Doen deeglike navorsing en gaan leer by ander produsente voordat daar groot veranderinge aan enige stelsel gedoen word.
Versekering
Oorweeg dit sterk om van insetkosteversekeringsplanne gebruik te maak.
Kragkrisis
Die kragkrisis is een van die grootste kopsere waarmee produsente sit. Dit het ’n uiters nadelige invloed op besluitneming van veral besproeiingsprodusente. Hierdie produsente moet deeglik besin oor wat hulle te doen staan. Moontlikhede sluit in die gebruik van kragopwekkers of daar kan selfs besluit word om slegs die helfte van die besproeiingsgronde te beplant om ten minste op ’n gedeelte voluit te boer. Verder kan besluit word om besproeiingslande soos droëlandaanplantings te hanteer en reën na te boots en net te besproei as dit nodig sou wees.
Met hierdie benadering word groot klem gelê op sterker meerkoppige basters in die geval van mielies om sodoende kompensasie toe te laat. Hier moet dan ook ’n tipiese droëlandplantestand gehandhaaf word om risiko ten opsigte van waterbeskikbaarheid te oorkom. Bemesting moet aangepas word om by die praktyk aan te pas.
Chemiese bespuitings
Goeie aantekening van chemiese spuitprogramme moet gehou word asook die effek daarvan op opvolggewasse.
GMO
Indien nie-GMO-mielies op ’n land geplant word waar daar vroeër GMO-mielies verbou is, is die produsent nie verseker dat die produk gelewer GMO-vry sal wees nie. Opslagplante kan die oorsaak wees van kontaminasie, net soos ’n naburige land vanwaar stuifmeel kan inwaai. Dieselfde beginsel sal hier geld as waar ’n witmielieland direk langs ’n geelmielieland geplant is – die geel stuifmeel kan die witmielieland so kontamineer dat dit tot laer grade lei, aangesien geel dominant is oor wit.
Wisselbou
Oorweeg dit sterk om ’n wisselbouprogram te implementeer. Sojabone beslaan deesdae baie hektare. Wees egter bedag op Sclerotinia wat kan voorkom, sou dit jaar vir jaar op dieselfde land geplant word. Dieselfde beginsel geld vir ander plantsiektes en gewasse.
Kalium
Hou in gedagte die hoeveelhede van veral kalium (K) wat sojabone per ton uit die grond onttrek. Mielies onttrek nagenoeg 4 kg suiwer K uit die grond per ton graan teenoor 25 tot 40 kg suiwer K in die geval van sojabone. Die belangrikste stadium vir sojabone is die R4- tot R5-stadium (begin tot einde van peulvul) waartydens tot 3 kg K per dag uit die grondprofiel onttrek kan word. Daar word dikwels gesien dat K-vlakke besonder laag daal waar sojabone sonder bemesting geplant word. Dit kan weer aanleiding gee tot erge omvalprobleme by mielies in die daaropvolgende jaar.
Presisieboerdery
Opbrengskaarte dien as hoeksteen van sukses as dit kom by presisieboerderystelsels. Die gebruik van opbrengskaarte moet juis wees om vordering te maak om die grondpotensiaal ten volle te kan benut.
Gronde moet deeglik beplan, gekarteer en bemonster word deur gebruik te maak van ruitontledingspraktyke. Die heel belangrikste om mee te begin is om pH-regstellings te doen deur middel van korrekte en variërende kalktoedienings. Daar moet in ag geneem word dat die diepte van stikstofplasing en veral ongebruikte stikstof een van die grootste oorsake van grondsuurheid en ondergrondsuurheid is. Om ondergrondsuurheid op te hef is nie maklik nie en kos baie, daarom is dit raadsaam om stikstof in paaiemente toe te dien.
Siektes en plae
As reën gedurende die winter voorkom, sal daar meer groenigheid wees waarop bladspringers kan oorleef wat mieliestreepvirus (MSV) oordra. Indien daar in ’n area geboer word waar MSV histories voorkom, kan die nodige praktyke gevolg word om oordraging te beperk.
Tans word daar redelik houtskoolvrot (Macrophomina phaseolina) waargeneem op veral mielie-aanplantings. Houtskoolvrot is ’n stremmingsiekte en droogte of versuiping kan daarvoor verantwoordelik wees. Opbrengste op hierdie gedeeltes is nie altyd na wense nie, en graan sal ligter wees. Alle gewasse kan vatbaar wees vir houtskoolvrot.
Stof tot nadenke
Dit is besonder belangrik om die komende jaar met groot omsigtigheid te benader. Daar word aanbeveel dat denke en beplanning aan die konserwatiewe kant moet wees, alles met die oog op die moontlike droë jaar wat voorspel word.
Vir enige navrae kontak Pieter Rademeyer by 066 1903 891 of stuur ’n e-pos na pieter.rademeyer@delta2000.co.za.