Watter metode is die beste wanneer dit kom by die toedien van kunsmis? Dit is beslis iets waaroor graanprodusente behoort te dink. Om die vraag te beantwoord moet produksietoestande eerstens in ag geneem word.
Gronde verskil in vrugbaarheidstatus. Sandgronde het byvoorbeeld nie die vrugbaarheidsvlakke van gronde met meer klei nie. Sekere gronde het spesifieke kleiminerale en chemiese eienskappe wat toegediende voedingselemente kan vashou en minder toeganklik vir die plant maak. Dit is gewoonlik gronde met ’n hoë klei-inhoud. Grondvog en temperatuur speel ook ’n uiters belangrike rol in wortelgroei en sal bepaal of die plante voeding doeltreffend kan opneem.
Die belangrikste beginsel wat in ag geneem moet word, is dat die plantvoeding wat toegedien word so maklik as moontlik deur die plante opgeneem moet word. Hoe nader die voeding aan die wortels is, hoe beter kan die plante dit opneem. In Tabel 1 word aangetoon watter toedieningsmetode (bandplaas/uitstrooi) die opname van sekere voedingstowwe sal bevoordeel of benadeel. Die tipe kunsmis en toedieningspeil sal ook bepalend wees. Soos in Tabel 1 aangedui, is fosfaat (P) en kalium (K) minder geskik vir uitstrooi. Die hoofrede hiervoor is dat dié twee elemente meestal deur diffusie opgeneem word. Dit beteken dat die kunsmis vanaf die kunsmisband in die wortel inbeweeg as gevolg van die konsentrasieverskil. ’n Hoë konsentrasie in die band is belangrik vir die opname van P en K. Sekere gronde kan ook P en K vaslê – in dié gronde sal bandplasing dus ook die beter toedieningsmetode wees.
Op goed opgeboude gronde met ’n hoër vrugbaarheid sal bandplasing ’n kleiner impak hê as op sandgronde. Mikro-elemente soos sink (Zn), mangaan (Mn), koper (Cu), yster (Fe), boor (B) en molibdeen (Mo) sal ook beter in ’n band opgeneem word. Daar moet egter gewaak word dat mikro-elemente nie teen hoeveelhede toegedien word wat toksies vir die plante kan wees nie.
In Grafiek 1 word die opbrengsreaksie van mielies op twee rywydtes (1,5 m en 0,75 m) aangedui waar kunsmis gebandplaas is en ook uitgestrooi is. Die verskille in die voorbeelde is groot en bevestig die belangrikheid om plantvoeding so naby as moontlik aan die plantwortels toe te dien vir vinnige en effektiewe opname.
Dieselfde produk is in beide die voorbeelde teen dieselfde toedieningspeil en op dieselfde tyd gebruik. Slegs die toedieningsmetode het verskil. In dié geval het die produsent baie beter waarde vir sy geld gekry deur te bandplaas as om uit te strooi.
Die meeste graanprodusente maak gebruik van bandplasing en ook uitstrooi van kunsmis as toedieningsmetodes. Maak seker dat die toedieningsaksie die effektiewe opname van bemesting ondersteun. Indien dit nie die geval is nie, moet die toedieningsmetode aangepas word vir maksimum doeltreffendheid. Bemesting wat na opkoms uitgestrooi word, is afhanklik van reënval om die opname van voeding te verseker. Bemesting wat gebandplaas word, is reeds in die grond waar daar meer vog beskikbaar is vir opname. In die laaste paar nat seisoene het bandplasing ook baie beter gewerk as uitgestrooide kunsmis vanweë die hoër konsentrasie voeding in die band. In sommige gevalle was uitstrooi die enigste werkbare opsie. Die goeie reënval op die uitgestrooide kunsmis het wel effektiewe opname verseker, wat ’n groot verskil in opbrengs gemaak het.
Grafiek 2 dui die opbrengsreaksie aan van kunsmis op sojabone wat gebandplaas is en uitgestrooi is met dieselfde produk teen dieselfde toedieningspeil. Net soos met mielies, is die opbrengsverskil groot. Die rywydte op die sojabone was 0,86 m. In hierdie proef was die opbrengsverskil ongeveer 600 kg/ha.
Dit is nie net die fisiese opbrengsverskille wat groot is tussen bandplaas en uitstrooi nie. Die verskille is ook duidelik in satellietbeelde sigbaar. Satellietbeelddata van ’n mielieproef waar die plantdatum en hoeveelheid bemesting toegedien dieselfde was vir beide toedieningsmetodes, wys ook die verskille baie duidelik soos aangedui in Figuur 1.
Die gedeelte aan die linkerkant van Figuur 1 wat groener vertoon, is gebandplaas en groei baie sterker as die deel op die regterkant, waar die bemesting uitgestrooi is. Tydens stroop was daar groot opbrengsverskille ten gunste van bandplaas.
Al die voorbeelde wys daarop dat plante beter reageer op ’n hoër konsentrasie van plantvoedingselemente. In die kunsmisband kan die konsentrasie kunsmatig geskep word. Breedwerpige uitstrooi van die kunsmis kan dus nie op ’n konsentrasiebasis kompeteer met bandplasing nie. Om maksimum opbrengs op ’n kunsmisbelegging te kry, moet daar verseker word dat kunsmis van goeie gehalte (fisies en chemies) gebruik word teen die regte toedieningspeil en met die beste moontlike toedieningsmetode.
Daar is altyd ’n geveg oor die koste en tyd om kunsmis vir topbemesting uit te strooi of om kunsmis te bandplaas. Dit is ongetwyfeld so dat dit baie goedkoper is om die topbemesting uit te strooi as om dit met ’n trekker en skoffel toe te dien. Die spoed waarteen die topbemesting uitgestrooi kan word, is ook heelwat vinniger as wanneer dit gebandplaas word. As die vergelyking tussen ’n agtryskoffel met kunsmisbakke en ’n 1 500 liter-strooier wat 24 meter wyd strooi gemaak word, kan daar met een skoffel ongeveer 25 ha/dag toegedien word. Met die strooier kan daar gemaklik 115 ha/dag gestrooi word. Om dieselfde hektare per dag te skoffel, moet vyf trekkers dus gelyk werk.
Dit behoort in die orde van R390/ha te kos om die topbemesting te bandplaas, terwyl dit ongeveer R62/ha gaan kos om dit net te strooi. Sit nou net die skoffelaksie by wat R361/ha kos, dan is die prysverskil nie regtig meer ’n vergelyking nie. As die som regdeur gemaak word, sal dit geregverdig wees om dalk ’n paar skoffels en trekkers te bekom om die topbemesting te bandplaas. Sê die opbrengsverskil is 1 t/ha of R3 500/ha vir mielies en 1 000 ha word geplant, dan beteken dit R3 500 000 of ongeveer drie trekkers ekstra per jaar.
Met die winsgewendheid daarvan, maak dit vir seker sin om topbemesting te bandplaas, maar as die seisoen jou inhaal, is die uitstrooi van topbemesting beslis ’n opsie om te oorweeg.
Die maklikste manier van toediening is nie altyd die beste manier nie en dikwels is die beste manier beslis nie die vinnigste manier nie. Dié stelling is baie waar wanneer bandplasing met uitstrooi van kunsmis vergelyk word. Elke graanprodusent moet poog om bemesting so doeltreffend moontlik te benut om maksimum opbrengs op die belegging te kry. Moontlik gaan die strewe na goeie opbrengs op die kunsmisbelegging dalk ’n verandering in die tipe kunsmis, die toedieningspeil of die metode van toediening noodsaak. In die proses of strewe na maksimum doeltreffendheid, sal die voedingstowwe beter benut word en die omgewingsimpak van bemesting aansienlik verminder. Die geproduseerde grane en ander gewasse sal ook meer voedingstowwe bevat om die ewig-groeiende plaaslike en internasionale bevolking te voed.
Kontak gerus jou naaste Omnia-landboukundige vir advies oor optimale bemesting.