Met bemestingskoste en algemene produksiekoste wat die laaste paar jaar die hoogte ingeskiet het, word dit al hoe belangriker om die meeste te maak van elke inset om winsgewend te bly.
Een van die grootste uitgawes in enige saaiboerdery is ongetwyfeld bemesting. In hierdie verband is die volgende faktore uiters belangrik:
- Die regte peile;
- die regte bron;
- die regte plasing; en
- die regte tydsberekening.
Dié faktore geld vir die totale bemestingsprogram sowel as vir topbemesting.
Breedwerpige uitstrooi
Dit het deesdae ’n algemene praktyk geword om stikstof (N) breedwerpig uit te strooi, aangesien dit baie gerieflik is. Met dié praktyk gaan heelwat van die effektiwiteit van die bemesting egter verlore. Die grootste massa haarwortels by ’n rygewasplant is in ’n radius van omtrent 15 cm om die plant. In ag genome dat voedingstowwe in ’n suspensie binne ’n radius van 2 mm om ’n wortel moet wees vir die plant om dit te kan opneem, kan aanvaar word dat ’n groot gedeelte van stikstof wat breedwerpig uitgestrooi is nie benut gaan word nie. Hoe wyer die rywydte, hoe groter die probleem, aangesien daar minder wortelvolume is hoe verder van die plant beweeg word.
Die volgende probleem is die tydigheid van topbemesting. Moderne mieliekultivars se opnamekurwe op veral stikstof is as volg: ongeveer 25% tot en met V8, ’n addisionele 25% tot en met blom en die ander 50% na blom (Figuur 1).
Hierdie eienskap van die moderne kultivars stel produsente in staat om meer beheer te hê oor bemestingskoste. Indien op V8-stadium gesien word die potensiaal is goed en daar is genoeg vog, kan ekstra N neergesit word. As die potensiaal nie daar is nie, hoef N nie toegedien te word nie en kan die koste laer gehou word sonder om die oes te beperk.
Bandplaas van topbemesting
Almal weet om topbemesting te bandplaas is beter as om dit breedwerpig te versprei, maar met ’n skoffel en ’n topbemestingstel is dit stadig en duur. Die vraag is hoe om stikstof beter en meer tydig en vinnig by die plant te plaas. Daar is gelukkig nuwe tegnologie soos die Y-Drop van 360 Yield Center wat vloeibare kunsmis presies kan toedien waar die produsent dit wil hê. Die Y-Drop-stelsel word gemonteer op enige hoogloopspuit of implementbalk vir vroeëseisoentopbemesting en stel die produsent in staat om vloeibare ANO direk teen die stam te plaas sonder die risiko van brand.
Met hierdie nuwe tegnologie kan die produkte vinnig en presies op die regte plek toegedien word. Die breedte van die balk en die spoed van die spuit sal bepaal hoeveel hektaar per dag toegedien kan word. Die effektiwiteit van die metode is ook baie goed.
Die ander voordeel van dié manier van plasing is dat die kleinste bui reën die kunsmis sal inwas met behulp van die blare wat as tregter dien of selfs dou wat akkumuleer om die stam van die plant. Deur stikstof en selfs kalium te “spoonfeed” in plaas van om alles op een slag toe te dien en die risiko te loop om daarvan deur loging te verloor, kan tot ’n 30%-verbetering in stikstofbenutting verkry word. Produsente kan dus meer produseer met dieselfde hoeveelheid stikstof of dieselfde produseer met minder stikstof.
Volgens Gregg Sauder van 360 Yield Center het navorsing in Amerika getoon dat hulle stikstofverbruik van mielies van 1,1 lb N/bu (19,68 kg N/ton) kon verminder na 0,75 lb N/bu (13,42 kg N/ton) deur stikstof meer gereeld op die regte plek vir die plant beskikbaar te maak. In Suid-Afrika is daar produsente wat die stelsel geïmplementeer het wat al praat van stikstofverbruiksyfers van so laag as 11,4 kg N/ton mielies geproduseer.
Dit is so dat die bemesting wat uitgespuit word die produsent sal dwing om die toerusting gereeld en deeglik skoon te maak. Die toediening moet net soos ander metodes op ’n gereelde basis gekontroleer word om seker te maak dit is presies soos vereis word.
Suid-Afrikaanse produsente moet noodgedwonge op wêreldvlak met lande kompeteer wat gunstiger weerstoestande het. Boonop kan wêreldpryse dalk laag bly. Produsente moet dus alles in hul vermoë doen om effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog om sodoende winsgewend en kompeterend te bly produseer.