Junie se held: Herman Drotsky
As boerdery in jou bloed is, maak dit nie saak hoe oud jy is nie, jy is ’n boer. Só glo Dehan Drotsky (12) van Bethal wat die My Hero-kompetisie raakgesien het. Hy het sy ma, Tersia, se arm gedraai om hom te help om sy held, pa Herman, in te skryf. “My pa is meer as ’n held vir my. Hy is deel van die rede vir my bestaan. Hy maak my drome waar. Hy lei my op vir die toekoms. Hy is die rede waarom ek in boerdery glo met my hele hart. Sonder my hero sou ek nie ’n liefde vir die grond gehad het nie. Saam met hom en liewe Jesus kan ek eendag my boer-droom laat waar word, want ek wil mielies en sojabone plant,” deel die lewenslustige jong boertjie waarom hy sy pa as ’n landbouheld sien.
Vandat Dehan sy eerste tree gegee het, wou hy net in sy pa se voetspore loop. “Hy wil liewer op die plaas saam met sy pa wees – vir hom is skool net ’n ‘verpligte moet’,” vertel Tersia. Sy voeg by dat Dehan wel goed presteer op akademiese en sportgebied, maar dat die plaas sy eerste liefde en prioriteit bly. “Ek wil nie regtig skool toe gaan nie, maar my pappa sê boere moet kan somme maak want jy moet weet hoeveel diesel jou trekker nodig het en hoeveel kunsmis jy gebruik – so ek byt maar vas,” verduidelik Dehan waarom hy nog nie voltyds boer nie.
Herman (48) het grootgeword in die Hendrina-omgewing. Sy liefde vir boerdery is egter in Namibië gebore waar sy oupa ’n Duitse sendingboer was. Nes klein Dehan, was daar vir hom net een beroep. Hy het dus na die voltooiing van sy skoolloopbaan ’n “pampoenboer” geword en landbou op Potchefstroom gaan studeer. Sedertdien werk hy vir kommersiële produsente in die omgewing waar hulle woon.
Nadat hy vir 19 jaar by dieselfde boerdery-onderneming was, het hy besluit op ’n nuwe uitdaging en is nou die plaasbestuurder van FST, ’n gemengde boerdery wat as ’n trust bedryf word. Hier word mielies, sojabone, broodkoring en sonneblom verbou. Herman plant en stroop en is ook in beheer van die veevertakking wat uit Bonsmara-beeste en swartkopdorper-skape bestaan.
Herman geniet die spanmaat aan sy sy en het Dehan se plaastakies aangepas soos wat hy ouer, groter en sterker geword het. Tans help Dehan om vragte uit saadsilosakke te laai en trek dan sommer self die trekker met die wa oor die weegbrug. “Hy kan al van ’n baie jong ouderdom bestuur en noudat sy voete die pedale bykom, wil hy alles self bestuur,” vertel Tersia. Sy gunstelingvoertuie is die vurkhyser en hoogloopspuit, maar as hy haastig is, gryp hy dadelik sy fiets – veral as hy beeskraal toe wil gaan.
Met planttyd en strooptyd staan Dehan saam met Herman voor die hoenders op. “Hy help my waar hy kan en geniet al die aktiwiteite op die plaas,” sê Herman. Al waar hy sy pa ’n bietjie lastig val, is wanneer hy iets wil regmaak. “Hy wil alles met cable ties herstel.” Dehan voel pa Herman behoort nie dae te hê waar hy “net ’n bietjie wil asemhaal” nie, want ’n boer moet elke dag net boer.