Topprodusent glo in deurdagte beplanning

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 1 Maart 2023

534

“Om erkenning uit die bedryf te kry, is ’n groot voorreg,” gesels André Brink, 2022 se Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar, oor die toekenning wat die span van Groot Phesantekraal naby Durbanville op 21 Oktober 2022 ontvang het. Verder is die blootstelling wat hulle deur dié eerbewys ontvang vir hom ’n geleentheid om ’n advertensie vir landbou te wees.

Die Brinks bedryf ’n gemengde saai-en-vee­boerdery en het in 1998 ook wingerde aangeplant. “Elke bedryfsvertakking van ons is 30% groter as die land se gemiddeld. Al het elke komponent van ons boerdery die reg om op sy eie te kan funksioneer, word dit as ’n eenheid bedryf met vertakkings wat mekaar komplementeer en sodoende die beste resultate lewer en goeie kontantvloei verseker,” vertel hy. Die graankomponent, wat koring, kanola, hawer en gars insluit, se waardetoevoeging tot die boerdery se inkomstestaat beloop sowat 55%.

Volgens André is tegnologie die oplossing vir die graanbedryf se winsgewendheid.

Beplanning maak die verskil
Vir André is goeie holistiese en oorhoofse beplanning een van die hoekstene waarop die sukses van sy boer­deryonderneming rus. ’n Les wat hy op skool reeds geleer het, is: “Dink drie keer, meet twee keer, saag een keer.” Alles begin vir hom by die stel van doelwitte en die beplanning om dié doelwitte te bereik. “My lewensleuse is om goed te beplan voor jy iets uitvoer. Ek ag myself as iemand wat op sy voete kan dink, maar as ek besluite moet neem, word alles goed deurdink en daarna word doelwitte opgestel.” Die neem van berekende risiko’s asook die bestuur van uitdagings word hierop geskoei met goeie rekordhouding wat bydra om besluite vir die toekoms makliker te kan neem.

Buiten vir deurdagte besluitneming, dra ’n paar ander aspekte soos grondgesondheid en goeie dissipline by tot André se sukses. “Grond is ’n produsent se belangrikste bate. Indien jy grond bykoop, is dit belangrik om eers deur ’n siklus te gaan en jou grond te evalueer voordat jy wegspring en alles verander. Laat ondervinding jou wys wat jy moet verander.” Hy glo dat ’n mens aanpassings moet maak waar jy met die kleinste verandering die grootste impak kan hê. “Ver­andering kos geld en bewerkingspraktyke het so ver­ander oor die jare dat jy stelselmatig moet verander.”

Die ou stal, wat in 1767 gebou is, huisves nou die restaurant en is ’n mengsel van verlede en hede met kenmerke soos die oorspronklike klipvloer en houtkrippe wat gebruik is. Hier staan die Brink-gesin in die restaurant: die drie kinders, Rennie, Marizanne en Jeandré, saam met hul ouers, Ronelle en André.

Gesonde grond = gesonde oes
Grondgesondheid is vir hom van kardinale belang. “Hoe sterker jou grond se immuunstelsel is, hoe beter kan jy jouself verskans teen dit waaroor jy nie beheer het nie – soos droogtes, ’n te nat seisoen of grond­erosie.” Chemiese grondontleding is belangrik en omdat regstellings duur is, word grondgesondheid op Groot Phesantekraal oor tyd verbeter. “’n Drastiese wanbalans in die grond word nie eenmalig reggestel nie. Ons werk stelselmatig en versprei die koste oor ’n paar jaar.” André glo dat goeie bewerkingspraktyke, vooropkomsonkruiddoders en die medics-wisselbou­stelsel ’n groot rol speel in die grondgesondheid op hulle plaas.

Wat bemesting betref, is André se beleid om nie te oorbemes nie. Blaartoetse word gedoen om te kyk wat nodig is. Omdat dit vir hulle belangrik is om die grond se fosfaatvlakke op die regte vlakke te behou, word daar gereeld regstellings gedoen, maar stikstof en kalium word slegs wanneer nodig toegedien. Om die organiese materiaal en lewe in die grond te behou, word minimumbewerkingspraktyke toegepas. Sodoende word die grond so min moontlik versteur en help dit ook met vogbewaring.

Die Brinks boer in ’n koring/medics-stelsel, waar ’n land elke tweede jaar met koring geplant word aangesien koringoeste ná medics ’n goeie opbrengs lewer. “Medics is ’n goeie stikstofbinder wat die plaas se stikstoftoediening en -rekening met rasse skrede laat daal het.” Medics stimuleer verder die grondlewe en vorm in die somer ’n effense deklaag op die grond wat lieflike weiding aan die vee bied. Die afgelope seisoen was daar op Groot Phesantekraal ’n 400 kg-verskil in opbrengs tussen ’n land in ’n medics-stelsel teenoor ’n land in monokultuur.

André sien landbou as ’n “maklike beroep” omdat dit siklies van aard is en ’n produsent die geleentheid bied om dinge wat nie reg uitgewerk het nie te verander óf om dit te verbeter deur klein aanpassings te maak. “As jy ’n fout gemaak het, het jy twaalf maande om dit reg te stel.”

’n Sonkragstelsel is geïnstalleer om te verhoed dat werksaamhede tot stilstand kom tydens beurtkrag. Dit dra by tot die volhoubaarheid van die boerdery.

Volhoubare winsgewendheid
’n Belangrike aspek in dié boerdery-onderneming is volhoubare winsgewendheid wat ook begin by die beplanning van alle aspekte van die boerderyvertakkings. Om volhoubaar te bly boer, is die wins­gewendheid van elke stelsel belangrik. Die verskillende vertakkings moet nie net oor die lang termyn winsgewend wees nie, maar moet ook die totale boerderystelsel se winsgewendheid verhoog.

Goeie rekordhouding bied waardevolle insig oor die toekoms en help met besluitneming. André glo aan konserwatiewe beplanning, goeie rekenkundige stelsels en finansiële monitering. Die aanstelling van ’n finansiële bestuurder het ’n groot bydrae hiertoe gelewer. “Jy kan nie net aanneem alles is in plek nie – jou boeke moet klop om jou boerdery winsgewend en volhoubaar te hou.”

Hy is passievol oor die saaibedryf. “Ek is lief vir masjinerie, so die tegnologie in die saaibedryf is vir my baie opwindend,” deel André oor sy passie vir die graanvertakking van die boerdery. Hy glo dat tegnologie die oplossing vir die graanbedryf se winsge­wendheid is. “Die stroopproses gee jou tyd om ’n jaar se werk die dag ná daar gestroop is, te kan evalueer en onmiddellike regstel­lings aan te bring.”

Al staan al die verskillende bedryfsvertakkings van André se boerderyonderneming op hulle eie bene, is hulle interafhanklik van mekaar. Oesreste word gebruik om waarde toe te voeg in die veekomponent. “Ons vee benut die stoppels en van die mis uit die voerkrale gaan weer terug op die land.”

Daar word ook gefokus op waardetoevoeging soos om die graankwaliteit te verbeter en die voorafskoonmaak van die vragte voor lewering. “Graankwaliteit is van kritieke belang in die graanwaardeketting en ’n beter graad beteken ’n beter prys.”

’n Verkorrelingsaanleg is onlangs opgerig waar voer vir die skape en beeste gemaak word. Ongeveer 2,5 ton korrels word per uur hier vervaardig. Die vee benut ook die medics baie goed.

Kontinuïteit sonder konflik
André is die vierde geslag wat op dié familiegrond – wat reeds se­dert 1897 in die familie is – boer. Toekoms- en opvolgbeplanning is vir hom ’n topprioriteit. Hy verwys daarom na “ons besigheid” en nie na “my besigheid” nie. “Dit is ’n familiebesigheid, al is dit groot genoeg dat elke vertakking op sy eie kan funksioneer,” noem hy. “As jou basis groot genoeg is, hoef niemand oor die krummels te baklei nie.”

Op Groot Phesantekraal is die basis groot genoeg om verdere geslagte te huisves. Sy twee seuns, Rennie en Jeandré, is reeds aktief betrokke in die onderneming – met Rennie aan die saaikant en Jeandré wat die veekomponent bestuur. Daar is in die besigheid ’n beleid wat voorsiening maak vir ’n uittreeklousule wat stipuleer dat indien iemand nie meer wil boer nie, hulle met ’n ander besigheidsgeleentheid geakkommodeer sal word, wat sal verhoed dat die plaasopset uitgekoop of opgebreek word.

André noem dat hy tevrede is met sy familiebesigheid en dat hy al hoe nader beweeg aan ’n mentorskaprol waar die seuns die bestuur van die boerdery sal oorneem. As hy ’n tikkie wysheid wat hy wens hy op hulle ouderdom gehad het met sy seuns kan deel, is dit dat hulle nooit moet stagneer en in ’n gemaksone inbeweeg nie. Raad aan ander produsente: “Begin konserwatief, leer jou besigheid ken en brei dan stelselmatig uit. Hou jou oog op jou besigheid – en doen die regte ding op die regte tyd. Moet nooit aanneem dat iemand anders soos jy dink nie. ’n Suksesvolle besigheid word op jou oog gebou.”