Gedurende die laaste paar dekades was daar ’n stelselmatige afname in die area onder koring aangeplant in Suid-Afrika. Dit is as gevolg van klimaatsverandering asook die lae winsgrens vir droëlandkoringproduseerders. Hierdie afname in koringproduksie het tot gevolg gehad dat Suid-Afrika nou ’n netto invoerder van koring is.
Daar word jaarliks tussen 40% en 50% van Suid-Afrika se koringverbruik ingevoer. Alhoewel koring histories nie die belangrikste stapelvoedsel in Afrika suid van die Sahara is nie, neem die verbruik van koringprodukte toe. Dit is grootliks as gevolg van populasietoename en die verandering in voedselvoorkeure wat met verstedeliking gepaard gaan.
Om produsente in staat te stel om genoeg koring vir die Suid-Afrikaanse bevolking te produseer, streef die LNR-Kleingraan om koringkultivars met uitstekende opbrengste te teel. Die LNR het drie koringteelprojekte vir die drie verskeie produksieareas. Die drie projekte voorsien Suid-Afrikaanse produsente al sedert die 1960’s met wenkultivars. Die lentekoringprojek vir die besproeiingsarea het al gunstelingkultivars soos T4, Palmiet, Kariega, Steenbras en Duzi vrygestel. Hierdie ouer kultivars het hul betroubaarheid oor dekades bewys, maar kan nie meer met die nuwer kultivars kompeteer nie.
Die eerste stap in die ontwikkeling van ’n nuwe koringkultivar is om twee ouers sorgvuldig te kies en met mekaar te kruis. Die ouers moet geskikte eienskappe soos siekteweerstand, bakkwaliteit en hoë opbrengs aan die nageslag oordra. Die LNR se telers evalueer ook internasionale kwekerye en gebruik dit om verbeterde en meer diverse kultivars te teel. Alle kruisings word in glashuise in Bethlehem in die Vrystaat gedoen. Die F2-saad word dan na hul onderskeie areas gestuur vir verdere evaluering. Die lentekoring vir die besproeiingsarea word by die Vaalharts-proefplaas vir die seleksieproses geplant.
Vir die volgende vier jaar word die lyne as enkelrye geplant. Elke jaar word geselekteer op grond van opbrengs en die agronomiese eienskappe wat produsente benodig. Daar word jaarliks duisende lyne geëvalueer om ’n nuwe kultivar te ontwikkel. Vir die eerste drie jaar word die seleksies as enkelare of -plante geoes en weer as ’n enkelry geplant die volgende jaar. Na die vierde jaar word die hele ry geoes om sodoende die meel vir bakkwaliteit te toets.
Die lyne wat verhoogde opbrengs en geskikte bakkwaliteit het, kan dan die volgende jaar in gevorderde plotproewe geplant word. Junior en senior plotproewe word steeds by Vaalharts geplant. Die data wat uit hierdie proewe gegenereer word, kan nou statisties geanaliseer word met die beste lyne wat na die eliteproewe bevorder word. Eliteplotproewe word op ses verskillende lokaliteite in die Noord-Kaap geplant om sodoende die lyne in verskillende omgewings te evalueer. Elitelyne word dan na die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) gestuur vir kwaliteittoetse. Slegs koringlyne wat deur SAGL getoets is en deur ’n komitee goedgekeur word, mag vrygestel word. Teen die tyd dat lyne vir vrystelling goedgekeur is en planttelersregte deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) toegeken is, het die teling van daardie kultivar bykans nege jaar vroeër met die eerste kruising begin.
LNR-Kleingraan het tans vier kultivars wat kommersieel beskikbaar is. Hierdie kultivars is Kariega, Duzi, Renoster en Koedoes. Die oudste kultivar, Kariega, is reeds meer as 20 jaar oud. Wat opbrengs betref, kan Kariega nie met die nuwe kultivars kompeteer nie, maar dit is ’n baie stabiele en betroubare kultivar. Om dié rede bly dit populêr, veral by kleinboere. Kariega het ’n medium- tot lang groeiperiode en uitstekende bakkwaliteit. Duzi bly ook steeds ’n gunsteling onder produsente. Alhoewel dit ook ’n ouer kultivar is, kan dit steeds met die nuwer kultivars kompeteer. Gedurende die 2021-seisoen het Duzi 11 t/ha in die koeler besproeiingsarea gerealiseer.
Renoster en Koedoes is die twee nuwer kultivars, beide met ’n kort groeiperiode en uitstekende opbrengste. Die kort groeiperiode van dié kultivars stel produsente in staat om besproeiing vroeër te staak en sodoende water te bespaar. Produsente moet in gedagte hou dat dié kultivars nie na rypwording besproei moet word nie, aangesien dit moontlik die valgetal kan affekteer, alhoewel dit nog nêrens waargeneem is nie. Renoster en Koedoes het beide ’n gemiddelde opbrengs van 11 t/ha.
Daar is ook twee nuwe kultivars waaraan gedurende 2022 planttelersregte toegeken is: Usutu en Selons. Usutu het ’n lang groeiperiode en uitstekende opbrengste. Dit het ’n strooilengte van 105 cm; geen omvalprobleme nie ten spyte van sy groot are asook ’n gemiddelde opbrengs van 12 t/ha. Selons het ’n mediumgroeiperiode en effense korter strooi as Usutu. Dit het ’n strooilengte van 95 cm en ook geen omvalprobleme nie. Met ’n gemiddelde opbrengs van 11,4 t/ha is Selons ook ’n uitstekende opsie vir die toekoms. Selons en Usutu is egter nog nie aan ’n bemarker toegeken nie. Sodra die twee kultivars kommersieel beskikbaar is, sal plaaslike boereverenigings in kennis gestel word.
Vir meer inligting oor die kultivars kan produsente vir Kim Delport kontak by 021 809 3558.