Wisselbou – dit is waar verskillende gewasse mekaar op ’n land oor tyd opvolg – het as praktyk ’n interessante geskiedenis. In twee van die eerste boeke wat in 1923 oor die landbou in Suid-Afrika gepubliseer is, stel die skrywers, ene Mundy, Leppan en Bosman, dit duidelik dat as iemand ekonomies volhoubaar graan wil produseer, wisselbou noodsaaklik is. In beide boeke word genoem dat skade weens siektes en plae in wisselbou afneem en dat die produktiwiteit van die grond sodoende behou word.
Betreklik onlangs is besef dat grond ’n lewendige ekostelsel van mikroörganismes bevat wat vir die produktiwiteit daarvan verantwoordelik is. So het die term “grondgesondheid” beslag gekry om dit te beskryf en te kwantifiseer. ’n Gesonde grond het die deurlopende vermoë om as essensiële ekostelsel
te funksioneer wat plante, diere en mense onderhou. Kortom, gesonde grond is noodsaaklik vir ons volhoubare voortbestaan en wisselbou het ’n belangrike rol daarin te speel.
Maar terug na die geskiedenis. Gedurende die 1960’s word ’n spesiale ondersoek na die stand van die landbou deur die destydse Minister van Landbou gelas. Die bevinding op daardie stadium was dat wisselbou selde in die somerreënvalgebied toegepas is. Die rede was die relatiewe gemak waarmee koring en mielies verbou is en die ekonomie van dié twee gewasse teenoor die van alternatiewe gewasse. Die koms van chemiese produkte soos kunsmis en plaagbeheermiddels het ook hiertoe bygedra. Wisselbou as doelbewuste praktyk het op daardie stadium grootliks van die toneel verdwyn.
Status van wisselbou tans
Sedert die 1960’s het die vraag na sekere grane verander en die oppervlakte waarop alternatiewe gewasse verbou word, het aansienlik toegeneem. ’n Goeie onlangse voorbeeld is sojabone, waarvan die oppervlakte met sowat 77% oor die afgelope tien jaar toegeneem het.
In 2021/2022 was die oppervlakte onder sojabone en sonneblom saam 1,57 miljoen ha. Dit is 60% van die oppervlakte onder mielies. Aangesien sonneblom en sojabone gewoonlik nie in monokultuur verbou word nie, het wisselbou byna ongesiens weer deel van gewasproduksie geword. Intussen word die insluiting van dekgewasmengsels in wisselboustelsels om veral grondgesondheid te bevorder, ook gepropageer. Dit wek, ten goede, baie belangstelling by produsente.
Op ’n inligtingsdag wat op 4 Maart deur die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) aangebied is, het 60 produsente ’n vraelys oor wisselbou ingevul. Die meerderheid besef dat wisselbou belangrik is en dat dit opbrengste kan verhoog, die grond se gesondheid kan bevorder en die winsgewendheid van gewasse kan verbeter.
Meer as 90% van hulle pas wisselbou doelbewus toe. Stelsels bestaan gewoonlik uit mielies wat met sojabone, sonneblom of koring afgewissel word. ’n Diversiteitsindeks kon ook bereken word wat van nul – waar slegs een gewas verbou word – tot een – waar volledig gediversifiseer is – strek. (Dit is waar ’n bepaalde gewas nie twee seisoene na mekaar op ’n spesifieke land verbou word nie.) Sowat 13% van die produsente het ’n indeks van nul, wat beteken hulle pas monokultuur toe, terwyl meer as 50% ’n indeks van 0,5 of hoër het, wat toon dat wisselbou tot ’n groot mate deur hulle toegepas word.
Wisselbou-effek
’n Bepaalde gewas beïnvloed die grond en dit kan die groei en opbrengs van ’n daaropvolgende, andersoortige gewas beïnvloed – soms opwaarts, soms afwaarts. Dié invloed word die wisselbou-effek genoem wat uit verskillende en komplekse faktore of meganismes bestaan wat verder deur die heersende weer geaksentueer of onderdruk kan word.
Die verskillende meganismes kan soms saam, of afsonderlik, die wisselbou-effek veroorsaak. Bekendes is die hoeveelheid oordragwater op dieper gronde van een seisoen na die volgende, remstowwe wat in die grond afgeskei word (allelopatiese effek) en die beïnvloeding van die grondgesondheid.
Patogene se spore en ander oorlewingstrukture is ook deel van die mikrobes in of op die grond en dit neem dikwels oor tyd in monokultuur toe. Die ekologie van die mikroörganismes in monokultuur word gevolglik versteur of skeefgetrek.
Wisselbou plaas die mikrobe-ekologie weer op die herstelpad. Met ’n herstelde ekologie verdwyn die patogene nie noodwendig nie, maar hul vermoë om skade aan die gewas aan te rig, word beperk of selfs uitgeskakel. Dekgewasmengsels in wisselbou speel in dié verband waarskynlik ’n belangrike rol.
Belangrik om van kennis te neem, is dat baie plaagbeheermiddels wat aan die gewas toegedien word ook die grondekologie kan versteur. Swambeheermiddels is veral hier ’n sondebok en behoort met groot omsigtigheid gebruik te word.
Faktore wat beïnvloed
Die vraag is wat in die praktyk verwag kan word. Waar en wanneer werk wisselbou of werk dit nie? Die grond – en veral die weer – het ’n bepalende invloed op die wisselbou-effek en daarom is daar nie ’n vaste patroon van opbrengsverhoging of -onderdrukking nie.
Hoe hoër die klei-inhoud van die grond, hoe kleiner die wisselbou-effek. Op swaar kleigronde (30% klei en hoër) is die wisselbou-effek gewoonlik onbeduidend of afwesig. Daarom is dit moontlik om sonneblom seisoen na seisoen op dié grond te verbou, terwyl dit op sandgrond ’n riskante en opbrengsbeperkende praktyk is.
Die reënvalpatroon van ’n seisoen asook plantdatum speel ’n belangrike rol in die wisselbou-effek. Sonneblom en selfs sojabone kan die daaropvolgende mielies se opbrengs onderdruk weens die vermoë van dié penwortelgewasse om dieperliggende water in die profiel te benut. Dit gebeur as die vroeë herfs droog is, terwyl die sojabone en sonneblom nog grondwater benut en mielies reeds opgehou het. Sou die reën in die daaropvolgende lente aan die lae kant wees en mielies word vroeg na die sojabone of sonneblom geplant, kan dit maklik droogte ondervind wat die opbrengs kan knou. Soos verwag kan word, gebeur dit baie meer gereeld in die westelike as in die oostelike helfte van die somerreënvalgebied.
’n Aanduiding bestaan dat die wisselbou-effek onder geenbewerking anders uitsien as onder bewerking. Tans lyk dit of sonneblom baie voordelig vir die opvolgmielies onder geenbewerking kan wees weens ’n verandering van veral grondfungi. Op bewerkte grond is die invloed oor jare neutraal, mits die sonneblom voor 15 Desember geplant word om die moontlikheid van grondwateruitputting te beperk.
Die opbrengs (en voorkoms) van mielies na sojabone en ander peulgewasse is dikwels beter as die van monokultuurmielies. Dit het gelei tot die siening dat peulgewasse “stikstof in die grond agterlaat” tot voordeel van die daaropvolgende mielies. Die stelling is slegs soms waar, aangesien die beskikbare stikstof in die grond nie altyd beduidend hoër is nie. Die stikstofbemesting van mielies na sojabone kan egter afwaarts aangepas word sonder om opbrengs prys te gee.
Opbrengsverhoging weens sojabone en ander peulgewasse is bes moontlik die gevolg van ’n verbetering van die grondgesondheid en by implikasie ook die wortelstelsel van die daaropvolgende mielies. Dit verhoog die mielies se toegang tot ’n groter deel van die grond se stikstof en ander reserwes soos water wat die opbrengs ’n hupstoot kan gee (Foto 1). Dit verklaar ook dat waar die grond se voedingstatus of stikstofbemesting aan die lae kant is, wisselbou met peulgewasse gewoonlik ’n groter invloed op die mielie-opbrengs het as waar die voedingstatus van die grond hoog is.
Dikwels word grondgedraagde siektes en plae indirek onderdruk of bevorder. So is die opbrengs van besproeiingsmielies deur die kanola van die voorafgaande winter onderdruk deur wortelvrot wat ’n stewige greep op die mielies gekry het. Mielies na koring of gars het minimale wortelvrot gehad.
Praktiese stelsels
Wisselbou se reëls is eenvoudig. Hoe groter die gewasverskeidenheid wat mekaar opvolg, hoe beter. Breëblaargewasse (peulgewasse en sonneblom) behoort mekaar nie op te volg nie as gevolg van gemeenskaplike siektes. By grasagtige gewasse soos mielies en koring lyk dit na ’n minder ernstige probleem.
Die mielie-opbrengsverhoging van ’n voorafgaande peulgewas oor ’n aantal jare wissel van 0% tot 16% op sand- en leemgrond. Sojabone het die opbrengs in verskeie proewe van 11% tot sowat 14% verhoog.
Sorghum, voersorghum en babala onderdruk dikwels die opbrengs van mielies wat daarna geplant word weens ’n allelopatiese effek wat dit in die grond kan skep. Afnames van 3% tot 7% is al gemeet. Deur dié gewasse by ’n dekgewasmengsel in te sluit waar dit nie die samestelling oorheers nie, behoort die moontlike negatiewe effek te beperk of uit te skakel.
Hou in gedagte dat daar gedurende individuele seisoene altyd uitsonderings op die reël voorkom. So is al gevind dat sonneblom die mielie-opbrengs kan verhoog, terwyl dit deur peulgewasse onderdruk word.
In die westelike mieliegebied en die Noordwes-Vrystaat is oorgedraagde water gereeld die oorsaak van die wisselbou-effek. In die oostelike gebied, op vlakker gronde, speel grondgesondheid waarskynlik die grootste rol met oorgedraagde water wat minder belangrik is.
Oorlê – dit is om water in een seisoen vir ’n volgende seisoen in die grond op te gaar – word soms toegepas en het gewoonlik ’n betekenisvolle invloed op die opbrengs van mielies. Opbrengsverhogings van tussen 26% en 50% is al aangeteken. Uit die oogpunt van grondgesondheid is “skoon” oorlê ’n vernietigende praktyk. Geen gewas of onkruid groei in die opgaarseisoen nie. Die gebrek aan plante wat die voedselbron van mikrobes is, is vernietigend vir dié ekostelsel en geen toevoeging tot die grond se koolstofinhoud word gemaak nie.
Boonop is reën gewoonlik die beperkendste hulpbron wat uit ’n besigheidsoogpunt so doeltreffend moontlik benut moet word. Om twee seisoene se reënval vir slegs een oes te gebruik, is om die reënvalgebruiksdoeltreffendheid drasties te verlaag. Wat wel waar en ’n pluspunt vir oorlê is, is dat dit die kans vir ’n misoes betekenisvol verlaag.
SOK-proef
Die SOK, met finansiële ondersteuning van die Mielietrust, kyk al die afgelope vyf seisoene na sekere wisselboustelsels op Thabo van Zyl se plaas Christinasrus, wat naby Wesselsbron geleë is. Onder meer word die opbrengs van mielies in monokultuur met dié van mielies na sojabone en na ’n dekgewasmengsel vergelyk. Die dekgewasmengsel bestaan uit voersorghum, babala, akkerbone en dolichosbone.
Tydens dié seisoene het die weer van droog tot uiters nat (2020/2021 en 2021/2022) gewissel. Die dekgewasmengsel en sojabone het die mielie-opbrengs met onderskeidelik 15% en 6% verhoog soos in Grafiek 1 gesien kan word. Die twee seisoene van uiterste natheid trek waarskynlik die resultate effens skeef en seisoene met “normale” reënval wat die opbrengs gewoonlik beperk, gaan waarskynlik ander resultate lewer.
Afgesien daarvan dat die opbrengs van mielies deur wisselbou verhoog kan word, kan dit die produksierisiko baie verlaag. Dit is eerstehands die afgelope twee seisoene ervaar waar sojabone glad nie so erg soos mielies onder versuiping in die SOK-gebied deurgeloop het nie. In droër seisoene, veral met droogte in die najaar, is dit weer sonneblom wat minder as mielies of sojabone deurloop. Deur verskillende gewasse op ’n groot genoeg skaal te wissel, word die produksierisiko verlaag. Deur met verskillende gewasse te diversifiseer en dit verder in wisselbou te doen, is ’n doeltreffende manier om die risiko van gewasproduksie te bekamp en die volhoubaarheid daarvan te bevorder.