Deel 1 – Oorsig
Familie-ondernemings lewer ’n beduidende bydrae tot die wêreld- asook Suid-Afrikaanse ekonomie. Na raming kan sowat 70% tot 90% van ondernemings in ontwikkelende ekonomieë as familie-ondernemings geklassifiseer word. In Suid-Afrika is die oorgrote meerderheid suksesvolle landbou-ondernemings ook familie-ondernemings.
Hierdie artikel is die eerste in ’n reeks waar in diepte na aspekte gekyk word wat die familieboerdery beïnvloed, soos opvolgbeplanning, ondernemingsvorme, die bestuur van ’n familieboerdery en geldelike risiko’s. In die reeks sal daar in samewerking met Kallie Schoeman, besturende direkteur van Schoeman Boerdery, na die werkswyse van hierdie suksesvolle familieboerdery verwys word. Schoeman Boerdery bestaan reeds sedert 1919 en die vierde generasie het reeds tot die onderneming toegetree.
Schoeman meen opvolgbeplanning is een van dié grootste uitdagings in ’n familieboerdery. Volgens hom moet die onafwendbare altyd in gedagte gehou word, omdat verandering die enigste onveranderlike is – in die familie, die boerdery en makromarkte wêreldwyd.
Yolandi Kruger, direkteur en landbouraadgewer by Dunamus Agri, vertel dat die gemiddelde leeftyd van ’n familie-onderneming 24 jaar is. Wanneer so ’n tipe onderneming van die eerste na die tweede generasie oorgedra word, is die kans op sukses 30%, maar wanneer dit van die tweede na die derde generasie oorgedra word, daal die suksessyfer tot slegs sowat 10%.
Aansluitend hierby het Farming Portal op 5 Mei 2022 berig dat 85% van plaaslike familie-ondernemings nie ná die derde geslag oorleef nie.
Op sy beurt sê dr Theo de Jager, voormalige president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), dat vaardighede en ekonomiese impak in geen ander bedryf as ’n familieboerdery sterker of wyer van geslag tot geslag oorgedra word nie. Volgens hom is familieboerderye die grootste enkele werkskepper ter wêreld.
In familie-ondernemings is veel meer emosie en lojaliteit betrokke as wat daar in korporatiewe organisasies is; die dinamika hiervan verskil dus grootliks van korporasies. Dit is daarom noodsaaklik om bepaalde beginsels reg toe te pas om in die hande van verdere generasies suksesvol te kan bly.
Opvolgbeplanning
Die onderwerp van familieboerdery het in 2016 tydens ’n Nasie in Gesprek-sessie na vore gekom. Prof Elmarie Venter, direkteur van die Nelson Mandela-universiteit se eenheid vir familie-ondernemings, het toe gesê ’n familieboerdery se sisteem moet reg wees vir komende generasies.
“Vereistes moet ingestel word vóór die volgende generasie daar is. Deur dit te doen, skakel jy net soveel konflik uit.”
Dr Johan Beukes van Authentic Living Learning maak dit in die Families wat Floreer-webinaar (27 Julie 2022) duidelik dat behoorlike skeidslyne in plek moet wees juis om familieverhoudinge te beskerm.
Waardes en stereotipering
Schoeman vergelyk die waardes van hul boerdery met ’n driepootpot waarvan die drie pote vertroue, sorg en respek verteenwoordig. “Wanneer een van daardie pote afbreek, val die pot om en niemand het kos nie.”
Dit is verder deurslaggewend om nie stereotipering, soos dat die oudste kind die verantwoordelikste een is, uit die familie na die onderneming oor te dra nie. Oortuigings en stille aannames in ’n gesin, soos dat die pa se woord wet is, moet ook nie volgens dr Beukes na ’n familie-onderneming oorgedra word nie.
Kommunikasie
Kommunikasie is besonder belangrik vir die gladde vloei van ’n familieboerdery. Dr Beukes raai aan dat daar gereeld gekommunikeer word. Alle sake, selfs die “familiegeheime” of temas waaroor daar nie gewoonlik gepraat word nie, moet hanteer word. Dit is verder belangrik om te weet wat elke lid van die familie-onderneming se opinies, gevoelens en sentimente is.
Schoeman onderskei tussen komplekse en sensitiewe uitdagings. “Komplekse uitdagings is die harde goed waarvoor gou oplossings gevind word, maar sensitiewes is dié waar emosies betrokke is en wat tot erge konflik kan lei as dit nie reg hanteer word nie. Kommunikasie is uiters belangrik.”
Kontinuïteit
Schoeman verduidelik dat die stigter of dominante persoon van die familieboerdery dikwels ’n verlies aan identiteit en sekuriteit ervaar wanneer hy moet uittree. “Die proses moet daarom so vroeg moontlik begin bestuur word, sodat die uittredende persoon teen die ouderdom van 65 jaar reeds sy opvolger aangewys en begin touwys maak het.”
Skeiding
Dr Philip Theunissen van die Computus-bestuursburo sê dat vele familieboerderye ongelukkig wel ontbind en daarom is dit belangrik om reeds by die aanvang van die boerdery oor ’n wyse van ontbinding te besin. Dit is ’n emosionele ervaring vir almal betrokke en juis daarom moet daar ’n voorafbepaalde skeidingsplan wees wat die proses sal vergemaklik en keer dat emosies die oorhand kry.
Die dekade van familieboerderye
Die Verenigde Nasies (VN) wy die dekade van 2019 tot 2028 aan familieboerderye. Die doel van die dekade vir familieboerderye is om in hierdie tydperk nuwe lig te werp op wat dit beteken om ’n familieboerdery in ’n snel veranderende samelewing te bedryf en ook meer as voorheen die belangrike rol uit te lig wat die tipe boerderye in die uitroei van honger en toekoms van voedsel speel.
Volgens die VN bied familieboerderye ’n unieke geleentheid om voedselsekerheid te waarborg, lewensgehalte te verbeter, natuurlike hulpbronne beter te bestuur, die omgewing te beskerm en volhoubare ontwikkeling, veral in plattelandse gebiede, te verseker.