Wenners se wenslys vir ’n beter landbou-omgewing

Gepubliseer: 22 November 2022
Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker

998

Die meeste mense het drome oor hulle eie toekoms, dié van hul kinders en oor die omgewing waarbinne hulle werk en funksioneer. Omdat produsente meestal praktiese mense is, is die meerderheid van hulle drome – of dan wenslyste – oor die algemeen meer prakties van aard. Veral wanneer hulle nadink oor die landbou-omgewing en hoe hulle dit graag sou wou sien.

Magda du Toit het elkeen van die wenners in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie uitgevra oor wat hulle graag sou wou sien verander in die landbou-omgewing. Die produsente se gedagtes was uiteenlopend, soos elkeen gefokus het op wat op hierdie stadium vir hulle knelpunte in die landbou is. As ’n geheel gesien, voel almal egter dat die landbou-omgewing kan verbeter en nader aan ’n ideale omgewing beweeg waar produsente optimaal kan produseer, indien daar aan hierdie aspekte aandag gegee word.

Puntsgewys lyk die gekombineerde wenslys so:

  • Beter ekonomiese samewerking
  • Groter bedingingsmag vir produsente
  • Beter finansieringsmodelle
  • Instandhouding van infrastruktuur, veral paaie
  • Akkurate weervoorspellings
  • Goeie kommunikasie tussen alle partye
  • Kundige raad
  • Goeie diens
  • Persoonlike kontak
  • Goeie verhoudinge
  • Erkenning vir produsente se bydrae tot die samelewing
  • Meer toegepaste navorsing wat in ooreenstemming is met die nuutste tegnologie, bewerkingspraktyke en kultivars.

Burrie Naudé – Hoopstad
Burrie meen dat hoewel tegnologie baie voordelig is en kommunikasie in baie opsigte makliker maak, dit ook daartoe bygedra het dat die landbou besig is om onpersoonlik te raak. “Ek sal graag wou sien dat insetverskaffers se verteenwoordigers meer gereeld ’n draai op die plaas maak en nie net wanneer hulle die bestelling kom skryf nie. Dit is darem lekker om iemand anders af en toe in die oë te kyk en oor suksesse en probleme te gesels.”

Izak van Zyl – Makwassie
Izak plaas groter ekonomiese samewerking tussen produsente op sy wenslys, met die doel om ’n beter bedingingsmag vir boere en die landbou te skep.

Jan van Heerden – Hartswater
Hoewel Jan nie iets spesifieks uitwys nie, bly kundige raad, goeie diens en gereelde besoeke van insetverskaffers belangrik en sou hy wou sien dat dit in stand gehou word.

Davie van der Merwe – Schweizer-Reneke
Verbeterde infrastruktuur is vir Davie belangrik. “Ek sal graag wou sien dat ons grondpaaie beter onderhou word. Ek sou graag meer in losmaat werk en insette soos kunsmis en saad met trokke na die lande aanry. Dit sou ons lewens baie makliker maak.”

Paul Farrel – Clarens
Die toekoms van jongmense lê vir Paul na aan die hart. Hy sou graag wou sien dat daar beter finansieringsmodelle beskikbaar moet wees, veral om jongboere wat wil begin boer ’n hupstoot te gee.

Petrus Roux – Hoopstad
’n Omgewing waar produsente volhoubaar kan boer – vandag en in die toekoms – is hoog op Petrus se wenslys vir ’n beter landbou-omgewing. “Ek sou ook graag wou sien dat alle rolspelers en eintlik die hele publiek, die belang van die boer in die voedselwaardeketting besef en beskerm.”

Corneels Greyling – Wakkerstroom
As jong produsent is dit soms moeilik om probleme uit te pluis. Daarom meen Kokkie dat dit baie goed sou wees as gesoute produsente hul suksesverhale en oplossings vir kopkrapprobleme in die boerdery vrylik met medeboere deel. “Ek dink ’n mens moet so ingestel wees dat jy jou kennis met ander mense deel. Boere moet nie skaam wees om oor hulle suksesse te gesels nie. Dit is mos nie nodig dat dieselfde wiel oor en oor ontwerp word nie. Wanneer kennis en ondervinding gedeel word en ander – soos ons jonger boere – daaruit kan leer, sal dit mos tot voordeel van die hele landbousektor wees.”

Koot Smit – Vryheid
Koot voel ook dat raad en kennis binne die landbou oorgedra en gedeel behoort te word. “Daar is soveel kennis in die hande van meer gesoute boere en hoewel ’n mens altyd vrae kan vra, sal dit nog beter wees om voortdurend vrylik toegang te hê tot die ouer boere se kennis.”

Bertus Albertse – Dundee
Wat navorsing betref, voel Bertus dat baie van die navorsingsliteratuur wat tans oor byvoorbeeld blaargesondheid en blaarvoeding beskikbaar is, nie noodwendig tred gehou het met nuwe kultivars, verbouingspraktyke en tegnologie nie. Toegepaste navorsing wat meer in lyn is met die produsent se behoeftes, is dalk iets waaraan navorsingsinstansies meer aandag moet skenk. Hy voeg by dat infrastruktuur – veral as dit kom by paaie, treinspore en die hawens – veel te wense oorlaat en dat daar definitief hieraan aandag gegee moet word. “Op die ou einde word die addisionele koste wat vervoer- en logistieke maatskappye in dié verband moet aangaan van die boer se wins afgetrek en word dit na die verbruiker deurgegee. Daar moet gesamentlik oplossings hiervoor gesoek word.”

In die Groei vir Goud-fokus in die Desember/Januarie-uitgawe van SA Graan/Grain gesels ons met 14 van die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie wenners oor die praktyke wat hulle volg en wat bygedra het tot hulle individuele sukses.