Mielies: Om oor te plant of nie …

Roelof le Roux, landboukundige, Pioneer
Gepubliseer: 7 November 2022

740

Hierdie artikel is ’n samevatting van die afgelope twee seisoene se proefdata met dieselfde stande, perseel, kultivars en praktyke in ’n poging om die antwoord op oorplant van mielies beter te verstaan.

Oorplant is iets wat geen produsent in enige gegewe seisoen wil doen nie, maar soms gebeur onvoorsiene dinge wat daardie besluit oor ’n produsent se pad laat kom.

Vrae wat jaarliks gevra word
“Ek het 50 000 plante/ha geplant, maar nou is daar net 40 000 of 35 000 plante/ha. Moet ek oorplant of nie? Wat gaan my moontlike verlies wees as ek nie oorplant nie?”

Metode van die proef

  • Twee mieliekultivars – een enkelkoppig (P1513) en een meerkoppig (P1975) – is oor vier plantdatums vanaf vroeg Oktober elke twee weke uitmekaar geplant.
  • By elke plantdatum is ’n populasie van 55 000 plante/ha geplant en later uitgedun tot op die bepaalde stand vir daardie betrokke plantdatum.
  • Hoofstande wat belangrik was vir metings was: 55 000, 45 000, 40 000 en 35 000 plante/ha.
  • Vanaf elke hoofstand is daar dan uitgedun by elke plant­datum na 80%, 70% en 60% van daardie betrokke stand en plantdatum.
  • Die opbrengs is daarna by elke behandeling vir elke stand bepaal.
  • Hierdie proef en uitleg is presies gedupliseer en herhaal in die tweede jaar.

Doel met die proef
Buiten die feit dat die data ’n produsent behulpsaam moet wees om te bepaal of die kool die sous werd sou wees om oor te plant, kan ook die volgende metings uit die data gedoen word:

  • Effek van plantdatum op opbrengs (meerjarige proef).
  • Die effek van stand op opbrengs by enkel- en meerkoppige kultivars.
  • Stand- en plantdatumeffek op opbrengs by enkel- en meerkoppige kultivars.
  • Opbrengsverlies as gevolg van standverlies.

Resultate (gemiddeld van die afgelope twee seisoene)
In Tabel 1 kan al die opbrengste van elke kultivar by elke plantdatum en stand oor die afgelope twee seisoene gesien word. P1513 se beste opbrengs was op 55 000 plante/ha op die 13 Oktober-plantdatum (11,99 t/ha). P1975 se beste opbrengs was op die 27 Oktober-plantdatum op 55 000 plante/ha (15,67 t/ha). P1975 het deurgaans beter presteer op alle stande en plantdatums, hoofsaaklik omdat P1513 baie meer noordelike blaarskroei oor die afgelope twee seisoene gekry het.

Tabel 2 gee ’n vinnige beeld van hoe die twee kultivars oor die verskillende plantdatums en stande presteer het. Beide kultivars het die beste resultate op 55 000 plante/ha gelewer en daarna het die opbrengste stelselmatig afgeplat tot op die laag­ste stand van 21 000 plante/ha. Na die eerste seisoen was dit interessant om te sien dat die enkelkoppige kultivar (P1513) minder van die maksimum opbrengs op 55 000 plante/ha afgewyk het op laer stande. Die logiese verwagting sou eintlik gewees het dat die meerkoppige kultivar (P1975) meer sou kompenseer op laer stande en die afwyking daarom op laer stande nie so groot sou verskil van die maksimum op 55 000 plante/ha nie. Dit was presies dieselfde in die tweede jaar van die proef. In Tabel 2 wat die gemiddelde syfers van beide jare aantoon, kan gesien word dat van 28 000 tot 21 000 plante/ha wys die data dat die meerkoppige baster slegter daaraan toe is as daar ’n standverlies tot op daardie vlak voorkom. Alhoewel P1975 steeds meer tonne per hektaar op stande tussen 28 000 tot 21 000 plante/ha lewer, is die persentasieverskil vanaf die maksimum opbrengs meer op P1975 as P1513.

Om die data wat uit die proef verkry is net meer prakties te maak, word dit verder in Tabel 3 verduidelik. Hier word die uitkoms van die proef baie eenvoudig verduidelik. As ’n voorbeeld, kyk na die waarde by die blou pyl. Op die 2 Desember-plantdatum is daar 72% van die opbrengs gestroop met 55 000 plante/ha. Vergelyk dit met die 100% wat op die 27 Oktober-plantdatum gestroop sou word met hierdie kultivar op dieselfde stand.

Tabel 4 sit meer vleis om die been en kyk na alle stande wat gemeet is in die proef oor die afgelope twee seisoene. Beide kultivars se data word hier saamgevoeg in een tabel.

Voorbeeld: Produsent plant op 13 Oktober teen 45 000 plante/ha. Hy realiseer net 35 000 plante/ha en besluit om op 27 Oktober oor te plant, weer teen 45 000 plante/ha. (Volg die blou pyltjies in die voorstelling.)

  • Die produsent sou potensieel 87% van ’n vol oes gestroop het met 45 000 plante/ha.
  • Op 35 000 plante/ha op dieselfde plantdatum het hy 84% van die maksimum potensiaal oor.
  • Met die oorplant op 27 Oktober, weer teen 45 0000 plante/ha, het hy 88% van die maksimum potensiaal.
  • 84% van die maksimum potensiaal met ’n stand van 35 000 plante/ha versus 88% van die maksimum potensiaal met 45 000 plante/ha.
  • Hy het dus geld verloor deur in die eerste plek nie ’n vol stand te realiseer nie.
  • Hy sou verder net ’n 4%-voordeel geniet om weer twee weke later oor te plant. (Is dit dus die moeite werd?)

’n Dieper kykie na die data
In Tabel 5 word daar meer spesifiek na stande gekyk waar dit amper voor die hand liggend raak om oorplant te oorweeg. Die verskil in opbrengs is hier as ’n persentasie uitgedruk en 55 000 plante/ha is met 35 000, 25 000 en 21 000 plante/ha vergelyk. Die verskil tussen die stand met die beste opbrengs (55 000 plante/ha) en ’n stand waar die produsent dit ernstig gaan oorweeg om oor te plant, raak op die oog af kleiner soos wat die seisoen later raak.

Die tabel toon vier uit ses keer dat die tendens oor tyd neig na ’n kleiner verskil in opbrengs as die stand nie voldoende was nie. Dit beteken daar is minder rede om oorplant te oorweeg, veral as die seisoen reeds in Desember-maand inbeweeg het. Kyk byvoorbeeld na die tweejaardata van P1975: Vroeg in die seisoen is die verskil tussen 55 000 plante/ha en 35 000 plante/ha ongeveer 17%, maar by ’n Desember-plantdatum raak die verskil net 8%. Dieselfde tendens is sigbaar by die verskil tussen 55 000 plante/ha en 25 000 plante/ha. Vroeg is die verskil min of meer 38%, maar in Desember daal dit na 21%.

Samevatting
Die besluit om oor te plant of nie gaan altyd ’n relevante punt in enige seisoen wees. Daar is seisoene waar dit meer op die voorgrond tree, maar met hierdie navorsing in Suid-Afrika probeer Pioneer die weg vir kliënte baan om meer ingeligte besluite oor hulle kultivarpakket te maak. Hierdie proef gaan meerjarig herhaal word om sodoende ’n goeie gemiddelde antwoord te kry. Na die eerste jaar was die gevoel dat produsente die meeste van die tyd nie moet oorplant nie. In die gevalle waar die data wel aangetoon het dat daar ’n opbrengsverhoging moontlik was met oorplant, sou die koste-implikasie in baie gevalle die skaal weer gelyk getrek het. Na twee seisoene bly die data aantoon dat oorplant wel in seker gevalle ’n plek het, maar dat dit steeds in die meeste gevalle nie die moeite werd is om dit wat reeds opgekom het te vervang nie.

Pogings om in te plant waar die stand nie voldoende is nie, lei ook gewoonlik tot addisionele probleme. Groter plante kompeteer meer vir voedingstowwe, water en sonlig en verrig in baie gevalle dieselfde rol as onkruid vir die groter plante in die land. Produsente word dus aangeraai – indien oorplant geregverdig is – om die oorblywende plante uit te werk en van vooraf te begin. Indien die oorblywende stand aanvaarbaar is, los dit daarby en aanvaar die stand soos dit is.

Belangrik om te onthou

  • Meerjarige data help enige produsent om meer doeltreffend ingeligte besluite te maak.
  • Belangrike faktore om in ag te neem, is relatiewe opbrengspotensiaal van huidige stand teenoor oorplant, asook die koste verbonde aan oorplant.
  • Probeer om emosie buite rekening te laat en bepaal die randwaardevoordeel of -verlies in besluitneming.

Vir meer inligting, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com.