Grondlose boerdery bied kontantopsies

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker:
Gepubliseer: 7 November 2022

1120

Grondlose boerdery bied ’n sinvolle, ekonomies lewensvatbare opsie vir volhoubare produksie van winsgewende kontantgewasprodukte. Dit kan aanvullend tot graan- en lewendehaweboerdery wees en kleiner en grootskaalse kommersiële ondernemings help om die boeke te laat klop, ook in tye wanneer ongunstige klimaatsfaktore normale boerderybedrywighede strem.

Tydens NAMPO Kaap 2022 het dr Ian Goldie, die projekkoördineerder van Two Oceans Projects and Services wat Bredasdorp Grondlose Boerdery bedryf, Andries Visser (toesighouer) en Tamlyn Witbooi (gewasbestuurder) en hul span besoekers verwelkom. Dr Goldie is ’n watersuiweringskundige en pas graag sy kennis toe op voedselproduksie in sy eie omgewing.

Hidroponika is ’n metode om plante sonder grond te laat groei, met behulp van minerale voedingstowwe wat opgelos is in water. Die plant se wortels kry die elemente wat nodig is om te groei uit die voedingsoplossing. Volgens dr Goldie maak die stelsel staat op meervlakkige, vertikale verbouing van kontantgewasse wat in aanvraag is in die volhoubare mark in die omgewing van die boerdery.

Gewaskeuse
Volgens Witbooi word daar op Bredasdorp met soorte blaargroente, soos kropslaai, spinasie, blaarslaai en kruie, geboer. “Ons gebruik wêreldklas-Enza-saad, wat ek en my span dan saai. Dit word na ontkieming in saailaaie geplaas en in die grondlose waterpype oorgesit om na vier tot ses weke geoes te word.”

Met mineraalverrykte water wat deur PVC-pype hersirkuleer word, kom die nodige plantvoedsel by die saailinge se wortels uit. “Die water wat uitgetap word om periodiek deur nuwe tenkwater vervang te word, is ideaal om weer in ’n buitetuin of bedding in die grond gebruik te word,” sê dr Goldie.

Bekostigbaarheid
Visser bestuur die daaglikse prosesse in die boerdery en sien om na die saad-, saailing- en waterbestuur, asook suksesvolle oes en verpakking van die produkte sodra dit markgereed is. Volgens hom kan hidroponika eenvoudig en bekostigbaar wees deur voorheen gebruikte PVC-pype, tenks en pompe te gebruik. “In die beginfase verkies ons dit so. Ons sal eers soos wat die besigheid groei, opgradeer.”

Grondlose boerdery kan egter ook op ’n hoogs ontwikkelde en koste-intensiewe vlak bedryf word. Dan word dit vertikaal gevestig op stabiele, maklik bereikbare stellasies. Groeistimulerende beligting, hulpmiddels soos digitale pH- en ligmeters en gerekenariseerde waterstelsels word in grootskaalse ondernemings ingespan, verduidelik dr Goldie.

Hy voeg by dat grondlose verbouing reeds baie goed gevestig is. “Dit raak egter belangriker weens die behoefte om met beperkte grond, water en ruimte, binne-in gemeenskappe gesonde kos bekostigbaar te kan produseer.

“Gewaskeuses, die beste moontlike saad, kiempersentasie, kostedoeltreffende infrastruktuur en die vestiging van betroubare markte is uiters belangrik om te verseker dat die boerdery konstant kontant inbring, wat nodig is om boerderyverwante projekte, gesinne of gemeenskapbehoeftes te ondersteun.”

Witbooi sê: “Dit is ’n mooi, skoon en rustige boerdery. ’n Mens is deurentyd bewus van die rustige kabbeling van water, die heldergroen en rooi slaaiblare asook die natuur en die tegnologie wat besig is om kos te vervaardig.”

Parallel tot saai- of veeboerdery
Volgens dr Goldie is daar plekke op groter graan- en lewendehaweplase landwyd waar toegang tot voldoende water vir konvensionele plantpraktyke beperk is. Sulke plekke kan, onder goeie bestuur, deur die produsent opsygesit word vir grondlose, vertikale boerdery wat kosvoorsiening aan plaasgesinne en bykomende inkomste deur produkverkope aan die omliggende gemeenskappe en besighede moontlik maak.

Klein spasie, goeie opbrengste
In grondlose verbouing groei die gewasse in water. Dit is dus ’n manier om water- en areabenutting te optimeer. “Op Bredasdorp Park het Henk Aggenbach, voorsitter van die NPC, ons gevra om metodes te ondersoek waardeur die gemeenskap groter voedselsekerheid kan geniet sonder dat dit te veel kos. Hierdie hidro- en akwaponikaboerdery is oor die afgelope sowat twee jaar met herwinde materiaal gevestig as ’n model vir ander gemeenskappe in die Overberg,” vertel dr Goldie.

Volgens hom het die vestiging van die grondlose boerdery op Bredasdorp Park die punt bereik waar hulle genoeg weet om die uitbreidingspotensiaal doelgerig aan te pak. “Ons model is so dat ander belangstellendes kan kom kyk – soos nou tydens NAMPO Kaap – hoe om hul eie grondlose boerderye te vestig en in voedselbehoeftes te voorsien deur gesonde, vars groentesoorte.”

Markontwikkeling is belangrik
Dr Goldie is ernstig oor die behoud en uitbouing van markte vir hulle varsprodukte. “In ons kweekhuise, wat spesiaal vir grondlose boerdery ingerig is, produseer ons daagliks genoeg varsprodukte vir afset op Bredasdorp, Swellendam en Gansbaai.”

Hy sê hulle kon tot dusver nege poste skep wat deur die besigheid se inkomste befonds word. ’n Aantal studente van projekte van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling asook sesmaandekontrakwerkers van die distriks- en plaaslike munisipaliteite is ingeneem om hulle meer te leer oor die basiese aspekte van grondlose, vertikale boerdery. Een van hulle is onlangs permanent op ’n plaas in Limpopo in diens geneem, waar haar nuwe kennis van onskatbare waarde is.

Hulle het reeds ’n aantal werkswinkels aangebied. “Ek glo dat die praktiese ondervinding in die boerdery hier by ons en ’n passie vir grondlose boerdery ’n toekomssleutel hou vir selfvoorsiening en klein- en grootskaalse kommersiële boerdery.”

Visser sê grondlose boerdery, as ’n parallelle vertakking van ’n groter graan- en/of lewendehaweplaas, is ’n noodsaaklike bydraer tot die verskaffing van volhoubare, bekostigbare voedsel. “Dit wat ons hier doen, kan beslis ons mense help voed.”

Die opgeruimde span aan die stuur van sake by Bredasdorp Grondlose Boerdery se uitstalling tydens NAMPO Kaap was dr Ian Goldie, Tamlyn Witbooi en Andries Visser.
Foto: Jan Greyling
Besoekers het van heinde en verre gekom om meer te leer oor die waarde van grondlose boerdery in klein areas met beperkte waterbronne. Hier gesels Pieter Wasserman (links) van die boerdery met David en Leona Nel van Stanford.
Foto: Jan Greyling
Tamlyn Witbooi, gewasbestuurder van Bredasdorp Grondlose Boerdery, is trots op die nuwe akwaponiese uitbreiding van hul onderneming. In die watertenk regs word met visse geboer. Dié water met die natuurlike visuitskeiding word dan met ’n uit- en invoerwaterpyp deurgevoer na die grondlose eenhede langsaan, waarin kontantgewasse verbou word.
Foto: Jan Greyling
Om meer te wete te kom oor die waarde van hidro- en akwaponiese praktyke vir grondlose kontantgewasverbouing, het Russell Witthuhn (middel) en Jacques van Rensburg, beide van George met Tamlyn Witbooi van Bredasdorp Grondlose Boerdery gesels.
Foto: Jan Greyling