Alliansiemodel gee produsente ’n hupstoot

Janet Lawless, tegniese en bemarkingsbestuurder (Noord), InteliGro
Gepubliseer: 7 November 2022

891

Oor die afgelope drie somerreënvalseisoene het ’n innoverende alliansie produsente toegang tot volhoubare gewasoplossings, tegniese kundigheid en uiters voordelige kommersiële aanbiedinge gegee. In die proses is deelnemende produsente se ge­samentlike insetkoste met amper R13 miljoen gesny.

Vir alle produsente – groot en klein en in alle landboubedrywe – bly toegang tot finansiering ’n uitdaging. Stygende rentekoerse en die probleme waarin die Landbank tans gewikkel is, dra verder hiertoe by.

As leiers in die landbou van wie verwag word om toekomstige uitdagings te voorspel en vroegtydig te hanteer, het die Kragspan-vennote reeds in 2018 begin werk aan ’n alliansiemodel om produ­sente se volhoubaarheid ’n hupstoot te gee.

Johan Nienaber, streeksdirekteur (Noord) van InteliGro, verduidelik dat die Kragspan-alliansie tussen InteliGro en VKB se mandaat is om hulpbronne kollektief aan te wend om produsente se insetkoste te minimaliseer asook om die kwaliteit en kwantiteit van hul uitsette deur tegniese kundigheid te optimaliseer. “Produsente wil nie net die resultate in hul lande sien nie, maar ook in hul bankrekeninge,” merk Nienaber tereg op.

Die Kragspan se kommersiële aanbieding gee hierdie einste bankrekeninge ’n blaaskans deur die hele seisoen, verduidelik Bertie Smith, uitvoerende direkteur van VKB. “Die 0%-toeslagkomponent, 0,5%-korting op Multigreen-kunsmis, 1%-korting op Dekalb-saad, 3%-afslag op InteliGro-gewasoplossings asook ’n periode van tot ses maande waar geen rente op produsente se VKB-rekeninge gehef word nie, is slegs moontlik omdat ons verskaffervennote die Kragspan so heelhartig ondersteun.” Danksy hierdie ondersteuning, kon die Kragspan produsente gesamentlik R7,1 miljoen op insetkoste spaar in die 2021/2022-seisoen. “Dit ondersteun die inisiatief om produsente se volhoubaarheid kollektief en daadwerklik voorop te plaas,” voeg Nienaber by.

Hierdie kommersiële aanbieding word elke jaar nuut saamge­stel om by die veranderende behoeftes van die produsent aan te pas. In die eerste twee seisoene was dit net op somerrygewasse van toepassing. In 2021/2022 het aartappels bygekom en vir die seisoen wat voorlê, word die aanbieding na kern- en steenvrugte uitgebrei. Die uitgestelde terme word ook saamgestel om produsente se aankooppatrone te ondersteun. As voorbeeld vereis rygewasse se fisiologiese ontwikkeling drie rondes van gewasoplossingaankope, terwyl aartappels sowel as kern- en steenvrugte deurlopend teen peste en plae beskerm moet word.

Laasgenoemde se uitgestelde terme is maksimum 120 dae, terwyl rente op rygewasaankope met tot ses maande uitgestel kan word.

Volgens Nienaber is die Kragspan se aanbieding geskoei op die konsep van vertroude besigheidsvennote wat produsente op alle fronte ondersteun. “As dit kom by tegniese ondersteuning, het produsente toegang tot opleiding, betroubare data oor peste en plae, spuitklinieke en gewasoplossingproewe. Die doel is om produsente in staat te stel om die beste moontlike besluite saam met hul vertroude besigheidsvennote te neem. Sodoende word opbrengskwaliteit en -kwantiteit verbeter, asook winsgewendheid en omgewingsvriendelike boerderypraktyke.”

Die span se net word wyd gespan, beklemtoon Smith. “Die Kragspan het uit die staanspoor verseker dat ons aanbieding relevant sal wees vir alle produsente in ons netwerk. Inklusiwiteit is die alliansie se wagwoord, want slegs deur inklusief te wees, kan ’n mens werklik voedselsekerheid en produsente se volhoubaarheid bevorder.”

Alhoewel die Kragspan relatief klein begin het, groei dit voortdurend na aanleiding van produsente se behoeftes. Afgesien van die uitbreiding na kern- en steenvrugte, is die volgende stap om op produ­sente in Limpopo te fokus. “Ons beplan om vier areas in Limpopo te identifiseer en werklik te gaan luister na wat produsente se behoeftes is,” sê Nienaber. “Ons wil verstaan hoe die Kragspan se aanbieding aangepas moet word om in die sitrus-, tabak-, tafeldruif- en groenteprodusente se behoef­tes te voorsien, hetsy betreffende finansiering, tegniese kundigheid of voordelige kommersiële aanbiedings op gewasoplossings.”

Laasgenoemde is ’n strategiese stap vir VKB wat tradisioneel in die Vrystaat besigheid doen. “Ons het besluit dat groei in uitbreiding na ander provinsies lê, asook in groter betrokkenheid in gewasoplossings,” sê Smith. “Die alliansie met InteliGro is die ideale voer­tuig vir beide doelwitte, asook ’n manier waarop ons erkenning kan gee aan plaaslike produsente as produseerders van voedsel, rentmeesters van die grond en sakemanne en -vroue.”

En die beste nuus is dat landbou en voedselse­kerheid in Suid-Afrika verreweg die meeste voordeel uit hierdie kreatiewe benadering trek.

Johan Nienaber en Bertie Smith – die Kragspan 2022.