Voed die wêreld met kleiner omgewingsimpak

Gepubliseer: 4 November 2022

751
Jan Greyling,
SA Graan/Grain-medewerker

Resultate van 30 jaar se langtermynproewe in verskeie wêrelddele dui daarop dat bewaringslandbou, ook bekend as herlewingslandbou en ekologiese intensifisering (EI), ’n beduidende impak het. Dit be­vestig ook die Wes-Kaapse graanbedryf se volhoubaarheidspotensiaal.

EI is die gebruik van ekologiese funksies saam met afgeskaalde landbou-insette om steeds volhoubare oeste te lewer óf om opbrengste te verhoog met dieselfde hoeveelheid of minder insette. Onder insette tel kunsmis, plaagdoders, insekdoders en energie vir grondbewerking.

Dr Chloe MacLaren, ’n plantekoloog by Rothamsted Research in die Verenigde Koninkryk (VK), het namens die Globale Langtermynlandbounavorsingsnetwerk terugvoering gegee tydens die Jack Human-bewaringslandbouweek by die Landbouweekblad-bewaringslandboukonferensie in Stellenbosch in Augustus.

Dié navorsingsnetwerk is ’n groep internasionale landbouwetenskaplikes waarby dr Johann Strauss van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Nicole Wagner van Elsenburg en dr Pieter Swanepoel van die Universiteit Stellenbosch ingesluit is.

Die groter prentjie
Buiten vir twee uitsonderings van nege jaar elk, is al die navorsings­persele wat in die studie oor 30 jaar se bevindinge in ag geneem is, al meer as tien jaar lank onder EI.

“Sommige persele se data strek so ver terug as 1970. Die oudste langtermynnavorsingsperseel in die studie is Broadbalk by Rothamsted Research in die VK wat reeds 179 jaar oud is. Dertig van die langtermynnavorsingspersele is in Europa en Afrika, met vyf – waaronder Langgewens in die Wes-Kaap – in Suid-Afrika,” het dr MacLaren gesê.

Die data kom uit meer as 25 000 oeste (aantal persele x jare). Gewasse wat in al die oeste wat ontleed is voorgekom het, is mie­lies, gars, koring, hawer, aartappels en suikerbeet. Om wetenskaplik gefundeerde resultate te verseker, is regressiewe modelle gebruik om gemiddeldes vir verbandhoudende veranderlikes in ’n uiteenlopende reeks eksperimente te verkry. Verskillende praktyke is in verskillende kombinasies in verskillende streke en met verskillende gewasse verreken.

Dr MacLaren het verder gesê die ge­mete ekologiese funksies is interaksies; verhoudings én hulpbronuitruiling tussen gewasse; lewende hawe en grondbiodiversiteit, wat betrekking het op enige landboustelsel.

“Die handhawing of verhoging van opbrengste bepaal die volhoubaarheid van landbou. Die vermindering of handhawing van dieselfde insette kom neer op die laagste moontlike omgewings- en ekonomiese koste per geproduseerde voedseleenheid.”

Sy het verduidelik dat die ideaal is om vir die natuur ruimte te laat, besoedeling te verlaag én meer produktiewe en winsgewende boerderystelsels te vestig.

Suid-Afrika is ’n leier
Volgens dr MacLaren is Suid-Afrika se langtermynvolhoubaarheidsnavorsing uiters waardevol.

“Die land is ’n wêreldleier in bewarings­landbou. Julle produksieblokke is groot en die lewendehawekomponent is deeglik ingeskakel deur natuurlike weiding en nie net deur hooi en dieremismengsels nie. Boonop versamel julle deurlopend ’n wye verskeidenheid nuttige data oor opbrengste, bewer­king, insette, koste, inkomste, dekgewasse en ander aspekte wat ’n invloed het op wins­gewendheid en grondgesondheid.”

Op die regte pad
Die langtermynnavorsing bevestig dat EI die inskakeling van natuurlike elemente in landbougrond insluit. “Dit bevorder interaksie tussen die natuur, landbou en produktiwiteit. Boonop word die behoefte aan insette geminimaliseer. EI integreer landskappe en­landerye wat in sinergie is en mekaar ondersteun, soos wanneer blaarbedekking van plante teen hellings die temperatuur en water­toevoer reguleer om biodiversiteit te verbeter.”

Dr MacLaren het die waarde van gewas- en/of veerotasie be­vestig om voedingstowwe te herwin, koolstof te behou, wedersyds voordelige natuurlewe te stimuleer en onkruid, peste en siektes te onderdruk. “Bewarings- of herlewingslandboupraktyke word toenemend gebruik. Dit is ooglopend goed vir die natuur. Die vraag is egter wat die impak op die omvang en gehalte van die oes is.”

Langgewens in die Wes-Kaap is een van die persele waar data versamel word.

Betekenisvolle bevindings vra tyd
Wêreldwyd word daar op verskeie maniere na EI verwys. Volgens dr MacLaren is dit enige boerderyplan wat elemente van bewarings­landbou insluit. Die gebruik van sulke praktyke staan onder meer bekend as volhoubare landbou, volhoubare intensifisering, agro-ekologie, bewaringslandbou, omgewingslandbou, klimaatslim landbou of herlewingslandbou.

“Langtermynlandbouproewe ontleed landboupraktyke oor dekades heen. Ons kan nie gewasrotasies in korttermynproefaanplantings ontleed nie, want sekere grondprosesse vind oor verloop van baie jare plaas. Ons verreken die gemiddeldes oor ’n voldoende aantal jare om die impak van praktyke teenoor jaarlikse klimaatswisseling ten beste te meet.”

Dr MacLaren het gesê die gemiddelde metings oor die wêreld heen sedert 1992 bevestig dat kunsmisgebruik met tot 100 kg/ha – en waar biomassa geproduseer word, met selfs meer – verminder kan word sonder ’n noemenswaardige impak op oesopbrengste.

“Dit is ook duidelik dat peulgewasse die impak van stikstofverlies verminder. Onthou die 100 kg N is ’n gemiddeld en glad nie van toepassing op alle plase óf op enige spesifieke plaas nie,” het sy bygevoeg.

Sy het verduidelik die beste gewasrotasieresultate word verkry met die inskakeling van peulgewasse waar stikstoftoediening laag is of wanneer niepeulgewasse geplant word en hoë stikstoftoediening gebruik word. Verbeterde grondlewe verminder die behoefte aan bykomende stikstof en sodoende word die grondstruktuur en dekgewasse bevoordeel.

Bewerking
Die gevolgtrekking van die internasionale langtermynnavorsings­netwerk is dat verminderde bewerking ’n baie klein uitwerking – indien enigsins – op opbrengste het wat nie deur ander EI- of gewasrotasies (soos N-keuses) beïnvloed is nie.

“Om volhoubare plase te ontwerp, moet daar altyd deeglik oor die doel van die plaas gedink word. Daar is min opbrengsvoordele wanneer ’n aantal praktyke, wat eintlik almal maar dieselfde werk doen, saam gebruik word. Die gesamentlike gebruik van byvoorbeeld peulgewasse, dieremis en stikstof dupliseer presies dieselfde funksie.”

Wat was eerste?
Dr MacLaren het beklemtoon dat produsente nie met ’n hoë-insetmodel moet begin en dan ekologies vriendelike praktyke daarby voeg nie. “Nee, begin met ekologiese praktyke en bepaal dan watter én hoeveel insette nodig is om die sisteem so goed moontlik te balanseer.”

Sy het benadruk dat EI gesien moet word as ’n pad na volhoubaarheid wat kan help om meer voedsel met minder grond en/of insette te produseer. “Groot kommersiële plase wat hoë insette vereis, kan die chemie, kunsmis en energie-insette verminder sonder om opbrengsprestasie in te boet.”

Die navorsingnetwerk se bevindinge dui daarop dat lae tot middelmatige hoeveelhede insette ook op kleinskaalse lae-insetplase oorweeg kan word om opbrengste te verhoog om sodoende beter lewensgehalte en voedselsekerheid te bevorder.

Meer resultate is nodig
Tot nou toe het die langtermyn-EI-studie ekologiese praktyke soos gewasrotasie, dekgewasse en biomassabestuur ingesluit en alle aspekte hiervan is deeglik ontleed. Volgens dr MacLaren kyk hulle nou ook na die impak van verlaagde insette, soos kunsmis, plaag- en onkruiddoders asook na die intensiteit van bewerking.

“Ons sal in voortgesette werk meer aandag gee aan die spesifieke impak van EI op plaagdoders en die unieke kunsmis- en grondbewerkingsdrempels in elke unieke navorsingsblok en -streek. Dan is ’n groter fokus op wins en winsstabiliteit asook ander aspekte as net die hoofgewasopbrengste ook noodsaaklik,” het dr MacLaren afge­sluit.