Johan Hoffman, ’n bekende graanprodusent, vleisbees- en merinostoetboer in die Bothaville-omgewing, is iemand wat die waarde van dekgewasse besef en ervaar het.
Sy skape se voervloei het hoofsaaklik bestaan uit oesreste in die winter en lusernweiding in die somer, met die beeste hoofsaaklik op veldweiding en oesreste. Met die inbring van die dekgewasse kan die vee nou ook in die winter op dekgewasse wei. Hoffman pas presisieboerdery op beide sy saai- en veevertakkings toe om seker te maak dat hy sy winste maksimeer.
Gert Wessels, ’n produsent in Bothaville, het ’n tyd gelede begin om dekgewasse tussen sy mielies in te saai. Hierdie stap het aanvanklik na moeilikheid soek gelyk, maar dié stelsel het die omgewing verbaas – sodanig dat Hoffman ook besluit het om hierdie praktyk in te stel. Almal het verwag dat die grond te droog sou wees om die volgende gewas te plant, maar dit was tot dusver nie die geval op die watertafelgronde nie.
Hoffman boer op watertafelgronde wat chemies reggestel is, met ’n rip-op-ry-stelsel wat toegepas word. Tog was daar ruimte vir verbetering. Hy het nog nie biologiese boerdery toegepas nie en met die doel om grondvrugbaarheid te verhoog, grondsiektes te beheer en die waterhouvermoë van die grond te verbeter, het hy besluit om, soos Wessels, dekgewasse aan te plant.
Drakrag verbeter
Behalwe vir die grondgesondheid wat behoort te verbeter, is die plaas se drakrag ook verhoog. Die vee vorm ’n integrale deel van die dekgewasse omdat eersgenoemde laasgenoemde in toom moet hou en die weiding in vleis moet omsit. Die dekgewasse moet so bestuur word dat dit nie saad produseer nie – dit is uiters belangrik.
Hoffman het tot die plant van dekgewasse oorgegaan nadat hy alle aspekte behoorlik bestudeer het en die voor- en nadele van die stelsel deeglik ondersoek het. Dekgewasse moet geplant word terwyl die mielies nog op die lande staan en dit verg behoorlike beplanning. Die gewasse wat verbou word se onkruiddoderprogramme moet aangepas word sodat die dekgewasse verbou kan word. Daar moet vee beskikbaar wees om die dekgewasse te bewei. Die skaal van aanplanting moet ook korrek wees – dit help nie daar is te min of te veel vee nie. Hoffman moes in sekere jare ekstra vee inkry om die weiding onder beheer te hou. Verkieslik moet die vleis wat op die dekgewasse geproduseer word, verkoop word om sodoende die ekstra koste te verhaal.
Voordele van dekgewasse
Dekgewasse het verskeie voordele vir die boerdery gebring. Dit gee ekstra weiding vir die beeste, maar bevorder ook die biologiese lewe in die grond. Die sandgronde op Hoffman se plaas was berug vir winderosie en -skade, maar dekgewasse het hierdie probleem help oplos. Verder kan verwag word dat aalwurm ook tot ’n mate onderdruk sal word.
Hoffman plant die dekgewasse vanaf einde Januarie tot middel Februarie. Die rede hiervoor is dat die weiding na strooptyd reg vir beweiding moet wees. Na die beweiding word die lande diep op die ry gerip. Dié aksie dood die dekgewasse wat op die volgende gewas se ry sou groei. Die dekgewasse in die bane word net so gelos tot voor plant wanneer die lande algeheel met onkruiddoder gespuit word. Net na die plant van die kontantgewasse word ’n normale onkruiddoderprogram gebruik. Dit is belangrik om te onthou dat die spuitprogram wat op die lande gebruik word wel die dekgewasse in aanmerking neem om sodoende te keer dat dit groei.
Tans bestaan die mengsel wat geplant word uit 80% hawer, 10% kanola en 10% weiwieke. Daar word ongeveer 50 kg saad/ha geplant. Volgens Hoffman is die 0,9 m-rye wyd genoeg vir die saad om mooi te ontkiem en behoorlik te produseer. Die saad lê bo-op die grond en baie goeie opkoms word verkry omdat die mielies die grond koel hou en ’n goeie mikroklimaat skep waarin die gewasse kan ontkiem. Die najaar se reën is belangrik om seker te maak dat die dekgewasse goed presteer.
Elke gewas bring sy eie voordele vir die grond. Die hawer behoort die aalwurmdruk op die sandgrondlande te verminder, terwyl dit ook help met grondstruktuurvorming. Die wortelstelsel van die hawer is aggressief en behoort die surplusvoedingstowwe in die grond in organiese materiaal om te sit. Dit is belangrik dat die hawer ook sekondêre wortels ontwikkel – as dit gebeur is die hawerproduksie baie beter.
Kanola is ’n gewas wat bekend is vir stikstofbinding en so word die natuur gebruik om die bemestingsrekening vir die volgende seisoen te verminder. Verder help kanola ook met koolstofbinding. Die weiwieke help ook met die bind van stikstof en die verhoging in organiese materiaal in die grond. Verder behoort hierdie dekgewas te help om die versuipprobleem van vlak watertafellande te beheer. Die surplusvog in die grond na die oes geproduseer is, word deur hierdie gewasse benut en sodoende behoort hierdie lande nie meer so gereeld te versuip nie.
Dit is belangrik dat die dekgewasse nie in die saad kom nie. Die vee moet die dekgewasse kort hou wat die wortelontwikkeling stimuleer en keer dat die gewas nie te veel vog gebruik nie. Hoffman bewei hierdie gewasse met beide sy beeste en skape. Goeie diereprestasie word verkry en die veekomponent doen uiters goed. Hy moet soms vee van buite inkry om te help om die kos te benut.
Plant tussen gewasse
Hoe gemaak om die gewasse gevestig te kry terwyl die graan nog op die lande is? Twee opsies is oorweeg: die gebruik van ’n hoogloopspuit toegerus met ’n strooier of ’n vliegtuig. Na oorweging is besluit om die bestaande hoogloopspuit aan te pas en te gebruik. As die omstandighede dit vereis, kan ’n vliegtuig egter gebruik word.
Die saad het besonder goed opgekom, die stand is baie goed en die dekgewasse het die afgelope seisoene uitstekend presteer. Die hawer het lekker sterk wortels gemaak en na stroop was die lande grasgroen van die dekgewasse. Die lande word vir ’n kort tydjie swaar belaai – die vee vreet die meeste van die materiaal op en los hul mis en urine op die land. Hierdie bemesting plaas ’n groot deel van die voedingstowwe weer terug in die grond. Die vee kry die gewone winterproteïenlek, maar die koeie en kalwers tel mooi kondisie op. Die weiding is gebalanseerd – daar is heelwat droë materiaal asook graan van die koppe wat nie opgetel word nie en saam met die groenweiding laat dit die diere goed groei.
Wisselbou
In die Viljoenskroon-area, nie ver van Bothaville af nie, boer Cobus van Coller. Hy is in die omgewing bekend vir die gebruik van dekgewasse, maar sy benadering tot dié stelsel is egter ’n bietjie anders. Hy gebruik dekgewasse as deel van sy wisselbouprogram. Van Coller verbou beide ’n somer- en winterdekgewas, maar hy volg sy winterdekgewas met ’n somerdekgewas op. Die somerdekgewas word weer die volgende somer opgevolg met ’n kontantgewas. Die rede hiervoor gaan oor plantvog. Van Coller het op die harde manier geleer dat gegewe sy gronde en reënval, dit kan gebeur dat sy grond te droog is om ’n somerkontantgewas suksesvol te vestig indien daar deur die winter ’n dekgewas gegroei het. Gegewe die risiko en koste van kontantgewasse, is dit vir seker nie ’n opsie vir hom nie.
Sy winterdekgewasse bestaan hoofsaaklik uit hawer en koring, maar kan van jaar tot jaar wissel en hang af van die vorige gewas se chemiese program. Die somerdekgewasse bestaan hoofsaaklik uit babala, sorghums, akkerbone, sonhennep en radyse, maar hy poog om ’n kombinasie van die komponente, naamlik grasse, peulgewasse, brassicas en bestuiwergewasse in te sluit. Vir hom en sy boerdery werk hierdie stelsel, maar elke produsent moet sy eie stelsel kies en implementeer gegewe sy grond, hulpbronne en bestuur.
Van Coller probeer om sy dekgewasse met groeiende diere te benut en dan die groei van die diere in kontant om te sit. Soms gebeur dit dat hierdie diere dalk vir ’n finale fase in ’n voerkraal geplaas moet word.
Vir verdere navrae, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.