Dekgewasse se moets en moenies

Gepubliseer: 4 November 2022

884

Gerrie Trytsman, spesialiskonsultant

Dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasi-li­teerder, ASSET Research

Douw Steyn, tegniese bestuurder noordelike streke, Barenbrug

Izak Dreyer, bewaringsprodusent

Deel 1

Die Bewaringslandbouboere-innoveringsprogram (BL BIP)­ wat deur ASSET Research geïmplementeer en deur die Mielietrust befonds word, het in 2013 besluit dat dekgewasse deel moet uitmaak van proewe om grondgesondheid te bevorder. Produsente was aanvanklik egter baie skepties daaroor, onder meer omdat hulle bekommerd was dat grondvog die grootste beperkende faktor is en negatief deur dekgewasse beïnvloed sou word. Sedertdien het die program ’n verskeidenheid proewe op dekgewasse gedoen wat verskeie slaggate – maar ook suksesse – uitgewys het.

Die eerste proewe is in Ottosdal saam met hulle geenbewer­kingsklub begin, maar is mettertyd in verskeie ander streke wat somergraan produseer, in werking gestel. Hierdie artikel poog om ’n beter perspektief te bied op die lesse wat geleer is, wat produsente moontlik kan lei tot ’n suksesvolle inskakeling van dekgewasse in ’n graanproduksiestelsel.

Kry die nodige inligting
Produsente wat met bewaringslandbou en dekgewasse begin, word aangeraai om dit eers op klein skaal aan te pak. Besoek produsente in die omgewing wat dekgewasse reeds suksesvol in hulle boerdery integreer met dieselfde tipe hulpbronne. Bespreek veral verbouingspraktyke soos tipe gewasse in mengsels, planttyd, plan­ters wat goeie resultate lewer, bestuur van stand, benutting en dekgewasterminasie.

Hordes inligting is deesdae in boeke, tydskrifte soos SA Graan/Grain en op sosiale media en die internet beskikbaar; veral YouTube-video’s is besonder gewild. Die heel belangrikste aspek vir sukses begin met ’n goeie en betroubare bron van kwaliteitsaad. Produ­sente moet dekgewasse behandel soos hulle enige kon­tantgewas sal benader: Dink dus aan dekgewasintegrasie as ’n proses en nie ’n resep nie.

Kies ’n maklike beginpunt
Produsente wat vee het en kuilvoer maak, kan dekgewasse na die verwydering van die kuilvoergewas vestig. Koelweergewasse soos koolgewasse, peulgewasse en kleingrane in mengsels se opbrengste en voedingswaarde sal nie teleurstel nie.

Die plant van ’n kortgroeiseisoensojaboon wat met ’n onkruiddoder behandel word as dit onegalig ryp word, sal die oespro­ses as gevolg van groen onkruide ook be­voordeel en kan beteken dat die produsent moontlik dekgewasse twee weke vroeër kan plant. Daar is tans ook sprake dat nuwe ge­riewe soos droërs by silo’s natter graan sal kan hanteer, wat die stelsel verder sal ondersteun. Hierdie ekstra groeityd vroeër in die naseisoen (herfs) sal meer beteken wanneer dit kom by biomassaproduksie as twee maande se groei later in die winter.

Tussengewasverbouing (intercropping) by veral mielies, is gewild onder sommige produsente wat oesreste se kwaliteit wil verbeter vir benutting deur vee en vir grondverbete­ring. Vroeë inplantings op die V4- tot V6-stadium gee goeie resultate. Gewasse soos akkerbone, radyse en hawer is gewilde spesies. Hoë temperature (>26oC) het ’n nadelige invloed op wortelontwikkeling en haarwortels naby die oppervlak vrek gewoonlik. Hierdie gewasse sal die grond tussen mielieplante koel hou. Veral gewasse soos radyse met ’n oop blaardak sal ook on­kruide se ontkieming onderdruk.

Foto 1 is ’n sonneblomland wat met ’n diverse mengsel van dekgewasse gevestig is. Let op dat geen sonlig die grond bereik nie. Oor die algemeen sal grond in hierdie toestande 15oC koeler wees as kaal gronde op ‘n sonskyndag. Die hoofdoel van hierdie tussengewasverbouing was om Sclerotinia se besmetting van sonneblom te probeer beperk.

1. ’n Sonneblomland wat met ’n diverse mengsel van dekgewasse gevestig is.

Heelwat produsente wat vee besit, brei hulle wisselbou­stelsel uit deur heeljaar dekgewasse te verbou. Somermengsels word gevestig sodra die grondtemperature bo 17oC is, veral waar tropiese sorghumtipe gewasse deel van die mengsel uitmaak. Daar moet ten alle tye aan die minimum vereistes van verskillende gewasse ten opsigte van temperatuur voldoen word. Dit sal swak stande teenwerk.

Voor vestiging van ’n winterdekgewas moet die somerdek­gewas verkieslik met ’n onkruiddoder getermineer word. Indien kruidagtige gewasse soos wieke en radyse deel van die somermengsel is, moet 2,4 D saam met ’n middel soos glifosaat gebruik word. Vestiging van koelweermengsels sonder onkruiddoder het daartoe gelei dat stande swak gevestig het. Volgens Izak Dreyer, bewaringsprodusent van die plaas Skulpspruit naby Vrede, was hervestiging van stande die enigste opsie.

Redes hoekom dekgewasse faal
Onsekerheid oor die doel
Die eerste rede hoekom dekgewasse soms nie aan verwagtinge voldoen nie, is dikwels die onvermoë om doelwitte te omskryf, met dekgewasse wat doelloos gevestig word. Besluit wat bereik wil word, soos byvoorbeeld om die voedingselementsiklus te verbeter, grond- organiese materiaal te verhoog, materiaal op die grond­oppervlak te vermeerder of voer vir diere-integrasie te produseer.

Plantdatums nie geskik vir omgewing nie
Baie produsente is angstig om somerdekgewasse te vestig wat gewoonlik ’n eenjarige gras soos sorghum in die mengsel bevat. Hierdie gewasse is gevoelig vir lae nagtemperature en opkoms is swak as daar nie aan die gewas se minimum vereistes voldoen word nie. Onkruide kan in hierdie gevalle maklik die oorhand kry en produksie nadelig beïnvloed.

Laat aanplantings van winterdekgewasse wat kouegevoelig is, byvoorbeeld hawer en radyse, kry maklik rypskade indien plantjies nog klein is. Produsente soos Dreyer voel dat veral kultivarkeuse uiters belangrik is weens die genetiese variasie wat voorkom. Maak egter seker dat gewasse soos rog en wieke wat koue kan hanteer in die mengsels ingesluit word indien dit ryp en daar ’n mate van onsekerheid bestaan. Hierdie dekgewasse moet groei en die sonlig kan benut om energie in die vorm van suiker in die grond uit te skei.

Verkeerde plantmetodes en planter
Produsente maak gebruik van baie verskillende planters sowel as plant­metodes. Vir die beste saad-tot-grond-kontak is die vesti­ging van dekgewasse met ’n goeie planter vir geenbewerking die doeltreffendste. Indien tyd ’n faktor is, is produsente geneig om van vliegtuie of hommeltuie gebruik te maak om die plantaksie vinnig te voltooi. Hierdie metode verg egter goeie grondvogtoestande sowel as opvolgreën om suksesvol te wees. Gewasse met kleiner sade werk gewoonlik die beste vir hierdie praktyk. Breedwerpige uitstrooi van saad en rol daarna word slegs aanbeveel vir die eerste keer wanneer met geenbewerking begin word. Regstellings van pH en fosfaattoediening voor die vestiging van dekgewasse sal geenbewerking in hierdie geval vergemaklik.

Die keuse van geenbewerkingsplanters het ook ’n invloed op die omvang van die grondversteuring wat plaasvind. Sommige fynsaadplanters versteur die grond baie en die oppervlak lyk meer of daar ’n vlak grondbewerking plaasgevind het. Verder is sekere planters ’n samevoeging van plantereenhede. Hierdie eenhede is dikwels nie teruggestel na nul nie en moet eers gesinkroniseer word ten opsigte van die hoeveelheid saad wat toegedien word.

Sommige planters het verskillende saadhouers vir ’n verskeidenheid van saadgroottes. Die diepte van plant moet apart vir verskillende saadgroottes gestel word. Ander planters maak gebruik van plate met gate wat ’n vakuum trek en sade dan so in die grond plaas. Vir hierdie planters moet fyn en groot sade eerder apart volgens hulle eie optimale diepte geplant word. Die meeste produsente is egter op hoogte van hulle eie toerusting.

Monokultuur versus mengsels
Die beste raad vir produsente is om die beginsels van bewarings­landbou te leer en te verstaan. Praktyke om beginsels toe te pas, moet deur elke produsent vir sy omstandighede ontwikkel en aangepas word. Dekgewasmengsels is een metode om heelwat van hierdie beginsels toe te pas. Die meeste produsente is bewus van die vermoë van mengsels om aan ’n verskeidenheid positiewe doelwitte gestalte te gee. Foto 2 is ’n voorbeeld van ’n diverse wintergewassaadmengsel.

2. ’n Diverse wintergewas-saadmengsel.

So is daar al in proewe oor die wêreld heen bewys dat tussen ses en agt verskillende spesies in ’n mengsel goeie resultate lewer. Dit is egter noodsaaklik dat hierdie spesies van die verskillende funksionele groepe afkomstig moet wees. Tabel 1 is ’neenvoudige voorstel van funksionele groepe, voorbeelde van gewasse in elke groep en moontlike bydraes wat die groepe tot die boerdery kan maak.

Gewasse in ’n mengsel moet mekaar komplementeer. Die groei­vorms moet verskil, sommige moet byvoorbeeld rank en naby die grond bly, terwyl ander weer lank moet groei – so word sonlig maksimaal benut. Gewasse wat ook verskillende wortelstelsels het, byvoorbeeld ’n penwortel- versus ’n bywortelstelsel, sal mekaar komplementeer. Produsente moet oor die algemeen gewasse soek waar daar ’n mate van sinergisme bestaan, byvoorbeeld grasse en peulgewasse wat saam geplant word.

Onkruiddoder met ’n nawerkingseffek
As ’n algemene reël sal onkruiddoders met ’n nawerkingseffek op grasse tydens die vestiging van dekgewasse die grasse benadeel. Veral fynsaadgrasse soos raaigras sal geraak word. Onkruiddoders met ’n nawerking uit groep 2 (ALS), groep 5 (fotosintese-inhibeerders soos triasien), groep 14 (PPO) of groep 27 (bleikmiddels) kan met die vestiging van breëblaardekgewasspesies inmeng.

Meer spesifiek:

Mielie-onkruiddoders

  • Piroksasulfoon (Zidua) en metolachloor (Dual) kan raaigrasvesti­ging beïnvloed.
  • Atrasien of simasien kan peulgewasse, koolgewasse en raaigrasdekgewasse negatief raak indien daar nie genoeg reën geval het nie. Dit wil voorkom of kleingrane soos rog minder gevoelig is.
  • Mesotrioon (Callisto, Lumax, Lexar), flumetsulam (Python) en klopiralied (Stinger, Hornet en SureSart) kan probleme skep vir peulplante en brassicas.

Sojaboononkruiddoders
Chlorimuron (Classic, Canopy, Cloak), imazethapyr (Pursuit) en fomesafen (Reflex) kan ’n probleem wees by herfsaanplantings van peul- en koolgewasse, terwyl die vestiging van kleingrane nie nadelig geraak sal word nie.

Laastens kan ’n eenvoudige toets vrese besweer. Versamel ’n grondmonster van die land waarop dekgewasse gevestig moet word en plant ’n klein bietjie van die mengsel. Neem dan waar wat ontkiem en watter spesies na ’n week aktief groei. Dit sal die nodige gemoedsrus gee en moontlik geld spaar. Indien al die spesies in die mengsel oorleef, kan die dekgewasmengsel met ’n geruste hart gevestig word.

Plantestand en behandeling met peulgewasentstof
Oor die algemeen word produsente gemaan om nie te hoë saai­digthede te gebruik nie, veral in marginale gebiede wat dikwels vir dekgewasverbouing gebruik word. Nou rywydtes sal ook ’n meer egalige verspreiding van saad oor die oppervlakte meebring wat bedekking van grond met groeiende plante versnel. Indien die oogmerk is om onkruide te beheer, word egter aanbeveel dat ’n hoër saaidigtheid van ongeveer 30% gebruik word. Om peulgewasse in die mengsel tot hulle reg te laat kom, word ook aanbeveel dat dit met die korrekte Rhizobium-entstof behandel word.