Graan SA se Garsspesialiswerkgroep glo die garsbedryf in Suid-Afrika en op die kontinent het nodig om nuut te dink oor die pad vorentoe. Hiervoor is ’n herfokus nodig omdat die risiko om gars te produseer per hektaar veel groter is as om koring en kanola te plant.
Die werkgroep se standpunt oor die rigting waarin die bedryf moet beweeg, behels dat daar opnuut oor sake soos insetkoste, navorsing en nuwe kultivars besin moet word, maar voeg ook daar by produkpryse, produkgehalte, winsgewendheid, leierskap, volhoubaarheid, kommunikasie en bemarking.
Vertraagde vermouting weens die 2019-watertekort asook die gedwonge afname in die huidige nagenoeg 440 produsente se garshektare in 2021 weens ’n verbod op alkoholverkope tydens die COVID-19-pandemie, is grootliks die rede hiervoor.
Volgens Jose de Kock, voorsitter van dié Graan SA-werkgroep, moet die hele waardeketting binne die garsbedryf saamstaan om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker, sodat “ons kinders ook suksesvol daarmee kan boer”. Sedert die begin van 2022 vergader al die rolspelers doelgerig hieroor en die sessies sal voortgaan.
De Kock is Graan SA se hoofbestuurslid vir Streek 27. Hy sê die werkgroep, produsente, landboubesighede (opbergers), SABBI (kultivarontwikkeling) en AB InBev (vermouter en brouer) is saam verantwoordelik vir die volhoubaarheid en die voortbestaan van die garsbedryf.
“Daar is korter- en langertermyndoelwitte. Ná 2021 se sny aan die garshektare moet daardie hektare in 2023 weer terugkeer na gars toe. Dit is uiters belangrik dat hierdie uitdaging so spoedig moontlik hanteer word,” sê hy.
“Gars is belangrik in ons wisselboustelsels en dra by tot die ekonomie. Die kundigheid en ondervinding van produsente, landbouopbergers, navorsers en insetverskaffers is voldoende om moutgars jaarliks ekonomies en volhoubaar te produseer, maar ons moet verhoudings bou en die bedryf saam bestuur,” voeg hy by.
Produsente is die belangrikste
Manfred Venter, landboubestuurder: Suid-Afrika by AB InBev, stem saam. “Volhoubaarheid kan nie van een rolspeler afhang nie. Dit is die verantwoordelikheid van insetverskaffers, teelmaatskappye, navorsers, opbergers, kopers en – die belangrikste – die produsent, om die bedryf te laat werk.”
“Sonder die produsent is daar nie ’n volhoubare nasionale garsbedryf nie. Dus moet die garsprodusent alles in sy vermoë doen om ’n produk van goeie gehalte wat aan die koper se standaarde voldoen, te lewer.”
Volgens Venter is die kundigheid in die bedryf sterk, maar soos tyd aangaan verander sekere spelreëls. Daarom is dit belangrik om aanhoudend in navorsing en ontwikkeling te belê. Om kontinuïteit te verseker, moet die bevindinge aan alle rolspelers gekommunikeer word.
Eerder ’n “meer lenige strategie”
Venter sê verder: “Die pandemie het ’n groot impak op die garswaardeketting gehad, veral die verbod op alkoholverkope. Gevolglik het die plaaslike bedryf met groot voorraadvlakke gesit met die uitdaging om dit alles in mout om te skakel. Ons primêre doelwit was om die voorraadvlakke so gou moontlik te vermout om rou materiaal aan ons brouery te kan verskaf.”
Hy meen ’n nuut bedinkte fokus vir die garsbedryf behoort ’n meer lenige strategie te behels waarmee wisselvalligheid beter bestuur kan word om stabiliteit vir rolspelers te bring. “Ons strategie is reeds in werking. Ons fokus is om lojaal te bly teenoor die plaaslike garsbedryf,” sê hy.
Strategiese fokusse
De Kock beskou die volgende as die grootste uitdagings in die garsbedryf:
- Die gebrek aan nuwe kultivars wat vir die produsent ’n sprong in opbrengs kan gee.
- ’n Risikopremie om gars te produseer.
- ’n Waardeketting wat te lank is.
- Strenger regulasies vir garsopberging.
Die probleme en uitdagings is duidelik sigbaar in die Swartland-produksiegebied, maar ook in die noordelike produksiestreek. Die risiko betreffende opberging en die beskikbare infrastruktuur het daartoe gelei dat produksie in die Swartland sterk gedaal het en dat die noordelike produksie baie wisselvallig is.
Volgens Venter is die prioriteituitdagings vir nou klimaatsverandering; die stygende insetkoste vir die totale waardeketting; ’n verandering in verbruikersvoorkeure asook langtermynopberging. Hy voel verder dat agronomiese navorsing en kultivarontwikkeling ook aandag verdien.
Aanpasbare bedryfsontwikkeling
De Kock beaam dat AB InBev in 2021 die mandaat vir moutgars weens die alkoholverbod en die impak van die 2019-watertekort afwaarts moes aanpas. Gevolglik het produsente die hektare wat hulle plant, verlaag. “Met die AB InBev-oorname van SA Brouerye (SAB) het kundigheid verlore gegaan, maar AB InBev het met goeie aanstellings en met navorsing baie in die bedryf belê. Hulle mikrovermoutingsaanleg lei vir seker tot vinniger besluite oor kultivars en die pad vorentoe.”
Hy stem verder saam dat ’n balans tussen die regte voeding, swambeheer, beter kultivars vir moutgars van goeie gehalte en gunstige weersomstandighede nodig is vir beter opbrengste.Venter sê AB InBev is een van die min aankopers van gars wat spanne op die plaas het om die meer as 650 kommersiële produsente en ook ’n groot groep opkomende boere by te staan om hoëgehaltemoutgars aan die land te voorsien.
Hy sê sedert 2017 toe AB InBev in Suid-Afrika begin werk het, is meer as R600 miljoen geoormerk vir belegging in die garsbedryf. Volgens hom word dié geld belê in kleinboerontwikkeling; navorsing spesifiek op gewasse wat in die brouprosesse gebruik word; en vir ander inisiatiewe soos die befondsing van studente aan verskeie universiteite.
Navorsing
Volgens Venter is dié navorsing breedvoerig en sluit dit onder meer garsgenetika en -teling in asook nuwe, innoverende produksiepraktyke vir produsente en die ontwikkeling van die mout- en brouprosesse om die produk vir die eindverbruiker so goed as moontlik te maak.
“Opbrengs, kwaliteit, opberging en verwerking is belangrike aspekte om in die toekoms op te fokus. Saadgehalte begin by wat die produsent in die grond sit. Dit is belangrik dat produsente suiwer saad van goeie gehalte plant om integriteit deur die totale waardeketting te verseker,” sê hy.
AB InBev fokus volgens hom ook op voedselveiligheid, veral saam met chemiese vennote om te verseker dat bedryfsrolspelers hulle vir veilige gebruik van chemie op plase beywer.
Hy sê die destydse oorname deur AB InBev het ’n groot klemverskuiwing in die landbou meegebring. “Eweskielik het produkte soos mielies, kassawe, sorghum en selfs rys deel van ons produkportefeulje geword. Ons het ’n jong landboukundige span aangestel om te kyk waar hierdie alternatiewe in Suid-Afrika en in Afrika geproduseer kan word.”
Opbergers besorg oor afkeurings
Volgens Johan Lusse, algemene bestuurder: Graan en Landboudienste by Overberg Agri, benodig die garsbedryf ’n beter belyning in die bedryfsketting. Hy sê die bedryf is reeds op koers, maar moet rigting hou om volhoubaar te wees en te bly. Volgens hom was rolspelers in die verlede baie nader aan mekaar om in voeling te kon bly met mekaar se behoeftes en uitdagings. Probleme is saam uitgewerk en opgelos.
“Soos dit nou in die vrye mark werk, dikteer die mark en die vereistes raak al hoe strenger. Dit plaas druk ondertoe op die ketting. Die mark bepaal die vereistes en aanpassings is onafwendbaar. Almal wil hul prosesse en wins optimeer vir volhoubare winsgewendheid. Dit beïnvloed al die kettingrolspelers.”
Lusse sê die winsgewendheid en die risiko’s verbonde aan die verbouing van gars, teenoor kompeterende en alternatiewe graanvertakkings en die skerp toename in insetkoste asook strenger graderingsvereistes, het die risikoprofiel van garsverbouing verhoog. Dit vereis nuwe denke.
Gars word al baie jare suksesvol in die Suid-Kaap verbou, sê hy. “Die garsbedryf word egter nou gekompliseer deur strenger graderingspesifikasies en eksterne faktore soos waterbeperkings, beurtkrag, ondoeltreffende Transnet-vervoerdienste, bedryfsprosesse en groot oordragvoorrade.”
Vir die opbergers is dit belangrik dat daar nuut gedink word oor gradering, opbergingspraktyke en voorraadbestuur vanaf die verwerker, én oor verskansing teen risiko’s wat nie met inname gemeet kan word nie. “Die grootste uitdaging vir die opberger is die omvangryke afkeurings van moutgars na voergars die afgelope drie jaar,” sê Lusse.
Geweldige verliese
Volgens hom is die garsbedryf klein en die produk baie gespesialiseerd. “Dit maak dit ’n hoërisikoproduk om te verbou, op te berg én te verwerk. Hy sê die afkeuringsrisiko bring geweldig groot finansiële verliese mee, wat die opbergers nie meer kan absorbeer nie. Veral in die noordelike deel van die land het verskeie opbergers hulle reeds van garsopberging onttrek weens die risiko.
“Die afkeurings is nie noodwendig weens opbergingspraktyke nie,” sê hy. “Vele ander faktore kan bydra tot die ontkiemingspotensiaal van gars wat oor tyd opgeberg word. Groter risikoverskansing is nodig vir afkeurings. Verwerkers stel al hoër eise aan opbergers wat betref die hantering en berging, maar die vergoeding word nie ooreenkomstig aangepas nie.”
Venter meen klimaatsverandering speel ’n groot rol, veral in droëlandproduksie waar verandering in klimaat tydens kritieke groeiperiodes ’n impak op opbrengs en kwaliteit het. “Om op die voorpunt van nuwe kultivarontwikkeling en agronomiese praktyke te bly, is die belangrikste bydraer tot volhoubare gars van goeie gehalte.”
Ter wille van groei
Namens nog ’n opberger, sê Henk de Beer, hoofbestuurder: Bedrywe by SSK, dat veral garsprodusente sonder twyfel vra vir ’n nuwe fokus waarby alle deelnemers kan baat vind “ter wille van ’n volhoubare en vooruitstrewende garsbedryf”.
Hy wys daarop dat garshektare toenemend afneem omrede alternatiewe gewasse beter opsies word. Die noodsaaklikheid van meer gars sal bepaal hoe vinnig ’n oplossing gevind moet word. Vir opbergers sal meer gars ’n geleentheid wees, maar soos garsproduksie afneem, word bestaande strukture vir opberging onderbenut en dit is vir hulle ’n probleem.
De Beer voel ander diensverskaffers in die ketting, soos agente, handelaars en selfs finansiers, behoort by die ontwikkeling en implementering van ’n herfokusde bedryfstrategie betrek te word.
“Ek dink onderhandelde kompromieë tussen kopers, verkopers en diensverskaffers soos ons behoort in die nuwe denke ingesluit te wees. Tans is daar nie baie direkte en oop kommunikasie tussen die rolspelers nie – dit is moontlik wat die produsente veral frustreer,” sê hy.
Die vyfjaarverwagting
De Kock sê die werkgroep en produsente is dit eens dat die visie is om ’n volhoubare en ekonomiese moutgarsbedryf te verseker. “Met ’n herfokus van ons bestaande doelgerigte bedryfsplan behoort die volgende vyf jaar se fokus te wees op bestuurbare insetkoste; optimalisering van tegnologie; doelgerigte produkontwikkeling en volhoubare pryse,” sê hy.
Vir AB InBev is dit belangrik om in hierdie tydperk te slaag met die verbetering van kultivarontwikkeling; toegewyde investering in navorsing en ontwikkeling; sterker verhoudings en kommunikasie met alle rolspelers in die mark en om die opbergingsrisiko te verlaag, volgens Venter.
Hy meen: “Die verandering wat reeds gemaak is, is positief deur die mark ontvang. Dit is nou die verantwoordelikheid van die bedryf om kontinuïteit te verseker. Ons glo dat tegnologie-optimalisering, doelgerigte produkontwikkeling en volhoubare pryse dit vir primêre produsente, opbergers, kopers, verwerkers en ander rolspelers die moeite werd sal maak om topgehaltemoutgars te voorsien.”
Hiervandaan vorentoe
De Kock sê daar is baie tyd spandeer aan verhoudinge binne die waardeketting. “Ons is positief oor die vooruitsig van toenemende samewerking tot volhoubaarheid tussen garsbedryfrolspelers. Die olifant in die vertrek bly die kosteknyptang. Daar is nie ruimte om foute te maak nie. Vir al die rolspelers is dit belangrik dat die bedryf volhoubaar moet wees.”
Venter bevestig dat AB InBev positief en optimisties is oor die huidige status van die bedryf. “Ons is toegewy aan die Suid-Afrikaanse garsbedryf. Die volhoubaarheid van die bedryf is nie net vir ons as garskoper belangrik nie, maar vir die hele garswaardeketting. Om te verseker dat elke speler in die waardeketting kan fokus op dit wat hy goed doen, moet stabiliteit in die bedryf behou word.”