Landbou implemente: Hoekom local steeds lekker is

Grethe Bestbier, Agrico
Gepubliseer: 1 April 2022

1282

Die hart en verantwoordelikheid van elke goeie plaasbestuurder, -eienaar en boer is om die beste besluite vir hul grond te maak. Met soveel oorsese opsies vir landbou implemente en masjinerie, die een se beloftes meer indrukwekkend as die ander, vra produsente hulself dalk af: hoekom moet ek juis ‘n Suid Afrikaanse implement koop? Dit is ’n belangrike vraag, met ’n paar faktore om te oorweeg.

’n Begrip vir Afrika se uitdagende omgewing
Terwyl buitelandse masjinerie sterk kompetisie bied vir plaaslike produkte in terme van die nuutste tegnologie, ontwerp baie buitelandse verskaffers (veral Europese verskaffers) met die aanname dat relatief min hektare per jaar deur die implement gewerk sal word. Die realiteit is dat implemente in suidelike Afrika baie harder werk as in baie ander dele van die wêreld.

Omdat Suid-Afrikaanse boere geen subsidies of invoer beskerming geniet nie, kan plaaslike boere net nie bekostig om implemente nié hard te laat werk nie. Daarom moet ekonomiese implemente sterk, taai en energie-effektief wees, met ’n ontwerp wat selfs die rofste en grofste van toestande weerstaan, om vir die klant jare se lojale diens te bied sonder om te veel te vereis.

Beter beheer en meer buigsaamheid
Met plaaslike vervaardiging is daar ook groter vermoë om te kan reageer op probleme wat mag opduik, terugvoering of ander waarnemings. Die Engelse uitdrukking ‘mind the shop’, beteken dat besighede wat kies om plaaslik te vervaardig eerstehands betrokke kan wees by elke stap van die produksieketting. Daar kan gesien word hoe ’n produk of fasiliteit funksioneer, hoe die produksieproses of -lyn verloop en watter terugvoering klante gee, om akkuraat en vinnig die nodige aanpassings aan te bring.

Plaaslike ingenieurs het noue bande met ons boere, verstaan die uitdagings van grond wat bewerk moet word op Afrika se plase, en ontwerp daarvolgens. Hulle kan die veld self besoek, die skaal van die operasie sien, en die nodige aanpassings aan ontwerpe maak om die implement optimaal te laat funksioneer.

Wydverspreide ondersteuning en vinnige diens
Elke boer weet die enigste ding slegter as ’n swak implement, is ’n goeie implement met swak diens. Plaaslik ontwerpte en vervaardigde implemente gaan gewoonlik gepaard met spoedige diens en ondersteuning in die nabyheid. ’n Implement of produk gerugsteun deur ’n uitgebreide netwerk van takke, fabrieke en kundiges bied gerief, gemoedsrus en praktiese oplossings.

Lokale investering in terme van kapitaal en arbeid beteken dat plaaslike vervaardigers agter hul produk staan, en nie sommer die aftog sal blaas in swaar tye nie. So kan ’n klant oor tyd ’n goeie verhouding bou met die vervaardiger en staatmaak op betroubare langtermyn diens.

’n Ekonomiese inspuiting wat plaaslike welvaart bou en boonop goed voel
Daar is menige ander voordele tot plaaslike vervaardiging: fisiese kwaliteitskontrole, beter beheer, effektiewe kommunikasie, beheer oor arbeidsvermoëns en baie belangrik vir die koper, ’n korter wagperiode weens vinnige omset.

Teen die laaste kwart van 2021 was die offisiële werkloosheidsyfer ’n skokkende 34.9 % in Suid-Afrika. Met meer as ’n derde van die land se burgers werkloos, is sinvolle werkskepping en vaardigheidsontwikkeling belangriker as ooit. Toename in plaaslike vervaardiging skep werksgeleenthede op ’n gereelde basis, en maak voorsiening vir meer lokale besteding en wins.

Bowendien, wat voel lekkerder voel as ‘n ‘Made in SA’ stempel op jou aankope? Plaaslike vervaardiging gaan gepaard met ’n gevoel van trots en patriotisme en bestig dat local sonder twyfel steeds lekker is.

Agrico – jou plaaslike vervaardiger van slim en taai implemente
Agrico is ’n betroubare verskaffer van landbou toerusting en implemente. Ons gebruik slegs die hoogste kwaliteit materiale – alle parte is gemaak uit staal met hoë treksterkte – en pas streng kwaliteitsbeheer toe om te verseker dat Agrico implemente die elemente kan trotseer.

Tog verstaan ons plaaslike ingenieurs en ontwerpers dat dit oor meer gaan as net krag en robuustheid. Ontwerpe mik na lae energie-verbruik, eenvoudige bou en foutlose funksionering. Flink diens word gewaarborg met 33 takke versprei oor suidelike Afrika en opgeleide tegnici regoor die land.

Gebou om te hou! Die Agrico D710 skotteleg is net een van Agrico se talle plaaslik vervaardigde implemente.

Die Agrico T-reeks herset skeurploeg laat niks in sy pad staan nie, en is gebou vir taai omgewings en harde werk.