Kragtige nuwe wapen teen taai onkruide in mielies

Bennie Buys, Philagro SA
Gepubliseer: 8 September 2020

1416

Yamato® 480 SC van Philagro is ’n gevorderde nuwe wapen in mielieprodusente se arsenaal van onkruidbeheeropsies.

Taai en weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruide huiwer nie om mielieopbrengste ’n knou te gee nie en dis juis hier waar Yamato behoorlik sy staal wys. Met sy unieke chemie bied hierdie produk doeltreffende beheer van ’n wye verskeidenheid onkruidsoorte in talle grondtipes; met aanpasbare voor- en na-opkomstoedieningsopsies.

“Weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruidsoorte bly ’n uitdaging vir mielieprodusente in hul soeke na doeltreffende beheer van onkruidmededinging in mielielande,” het Bennie Buys, Philagro se produkbestuurder vir onkruiddoders, gesê. “Ons plaaslike navorsingsproewe het gewys dat Yamato veilige gewasbeskerming bied en hoogs aanpasbaar aangewend kan word na gelang van elke produsent se spesifieke behoeftes,” het hy verduidelik.

’n Toename in weerstandbiedende onkruidbevolkings het in die afgelope paar seisoene aansienlike verliese in verskillende gewasse veroorsaak. Die aanpasbaarheid van taai en weerstandbiedende onkruidsoorte in verskeie produksiegebiede laat groot hoeveelhede sade agter, wat uiteraard ’n impak op die volgende seisoen sal hê.

Unieke chemie
Die produk is deur Kumiai Chemical Industries in Japan ontwikkel en is reeds wêreldwyd met groot sukses in ’n wye verskeidenheid toestande en gewasse gekommersialiseer. Die aktiewe bestanddeel, piroksasulfoon, spog reeds in verskeie lande met ’n benydenswaardige reputasie vir doeltreffende beheer van moeilik beheerbare onkruide.

Vanuit ’n tegniese perspektief inhibeer piroksasulfoon onkruide vroeg in die ontkiemingsproses. Dit word hoofsaaklik deur die hipokotiel en koleoptiel opgeneem en tweedens deur die wortels van die onkruidsaailinge.

Verskeie plaaslik beproefde kombinasies met ander geregistreerde middels bied Suid-Afrikaanse mielieprodusente nou bewese opsies vir veilige, langwerkende onkruidbeheer. Boonop spog Yamato, aangedryf deur “AZEEV Technology”, met talle uitnemende voordele, soos dat dit geskik is vir bykans alle grondtipes, ongeag die klei-inhoud. Dit is boonop veilig om voor en selfs na opkoms in mielies toe te dien.

Voorts gebruik die produk 10 tot 20 keer minder aktiewe bestanddeel as ander soortgelyke, vergelykbare produkte (een liter geformuleerde produk kan tussen vyf en tien hektaar behandel). Boonop loog dit min, dus bly die produk langer in die boonste laag van die grond waar gras- en breëblaaronkruide gewoonlik ontkiem, vir ’n beduidend langer nawerking. Dit alles lei natuurlik tot bykomende voordele en besparing aan stoor-, vervoer- en ander koste.

Skoon lande dra altyd by tot gesonde gewasse en groter opbrengste.

Betroubare gewasveiligheid
Uitgebreide proewe in Suid-Afrika en verskeie ander lande toon dat tenkmengsels en spuitprogramme met Yamato wat volgens etiketaanbevelings gekombineer word, uiters betroubaar is wat gewasveiligheid betref. Weens die verskeidenheid groeitoestande in die verskillende streke van Suid-Afrika en die voorkoms van diverse gras- en breëblaaronkruidsoorte en kombinasies daarvan, beveel Philagro se navorsers tans altesaam 14 moontlike produkkonsepte met Yamato as die ankerproduk aan. Hierdie kombinasies is spesifiek ontwikkel vir streke met verskillende klimaatstoestande en -sones – met spesifieke weerstandbiedende en moeilik beheerbare on­kruidsoorte in gedagte.

Die produk se breë spektrum van beheer bied produsente nou ’n gevorderde nuwe wapen om hardnekkige onkruide te beheer. Skoon lande dra uiteraard altyd by tot gesonde gewasse en groter opbrengste.

Dit is onlangs by verskeie geleenthede in die mielieproduse­rende gebiede deur Philagro Suid-Afrika aan produsente, AECI Plant Health-bemarkingspersoneel en die landboumedia bekendgestel.

Volgens Henk van der Westhuizen, besturende direkteur van Philagro, bied Yamato nou aan mielieprodusente die geleentheid om hul lande beter te bestuur deur gras- en breëblaaronkruide veilig en doeltreffend te beheer. Die vermoë om verskeie kombinasies na gelang van spesifieke behoeftes toe te dien, bied produsente waardevolle nuwe opsies om hardnekkige onkruidprobleme hok te slaan.

Die produk is nou beskikbaar deur Philagro se landwye handelaarsnetwerk, AECI Plant Health.

Vir meer inligting besoek www.philagro.co.za.