Innovering kan potensiaal ontsluit

Dr Lee Cheesman, FMC Suider-Afrika
Gepubliseer: 8 September 2020

1137

FMC in Suider-Afrika is oortuig daarvan dat innovering in die landbou die verstommende potensiaal van die subkontinent kan ontsluit. Met sterk vermoëns in navorsing en ontwikkeling is dié maatskappy daartoe verbind om innoverende oplossings vir voedselsekerheid te vind, sonder dat die natuur en die omgewing daarvoor moet boet.

As een van die wêreld se voorste landbouchemiese maatskappye, onderneem FMC die ontwikkeling van produkte wat beter werk op die plaas en konsekwent beter is vir die planeet. Die maatskappy het ’n passie vir tegnologie en is suiwer gefokus op die landbou en landbouwetenskap.

Bright Breytenbach het ’n paar maande gelede die leisels oorgeneem as maatskappydirekteur by die Suider-Afrika-tak. Saam met ’n toegewyde, plaaslike span pak hy die besigheid met aansteeklike geesdrif aan. Almal in die span is Suid-Afrikaners met ’n voortreflike landbou-agtergrond. Die span areabestuurders verstaan die plaaslike landbou en gewasbeskerming deur en deur – en is uiteraard kundiges as dit kom by die produkreeks. Dié bestuurders het elkeen sy of haar eie streek wat hulle as besigheidseenhede bestuur.

Die moedermaatskappy in die VSA is byna 140 jaar oud en word beskou as een van die vyf grootste landbouchemiese maatskappye ter wêreld. Die internasionale hoofkantoor is gesetel in Philadelphia in die deelstaat Pennsylvania.

Topprodukreeks
FMC se produkreeks is ’n kombinasie van eie produkte en produkreekse wat die afgelope paar jaar van Cheminova en DuPont bekom is. Die produkreeks in Suider-Afrika sluit aktiewe bestanddele soos Rynaxypyr® en Cyazypyr® in. Produsente regoor Suider-Afrika gebruik die bekende insekdoders Benevia®, Coragen®, Altacor®, Steward®, Exirel en Vantex; die swamdoders Octave®, Rovral Flo®, Impact®, Riza Gold® en Tizca®; die onkruiddoders Brush-Off®, Express Super®, Aurora®, Authority® en Solida® en dan natuurlik die bekende Rugby® vir aalwurmbeheer.

Die maatskappy maak gebruik van uitgesoekte chemiese handelaars en hul agente om produkte aan produsente te voorsien. Suid-Afrikaanse produsente is in die bevoorregte posisie om produkte te kan aankoop deur ’n professionele, georganiseerde handelaarsnetwerk wat aan die hoogste standaarde voldoen as dit kom by integriteit en produkkennis.

Bright Breytenbach, maatskappydirekteur van FMC Suider-Afrika.

Bright self het geamentlik 22 jaar diens by onderskeidelik Monsanto en BASF opgedoen, waar hy verskeie poste beklee het. Hy meen die besluit om by FMC aan te sluit, was ’n tree in die regte rigting en hy beskou dit as ’n opwindende uitdaging. Hier kan hy nou die ondervinding wat hy opgedoen het in gewasbeskerming, saad, biotegnologie en sakebestuur behoorlik inspan om die maatskappy suksesvol in die afsienbare toekoms te lei.

Volhoubare ontwikkeling
FMC is plaaslik en wêreldwyd oorgehaal om ten volle by te dra tot die volhoubare ontwikkelingsmikpunte vir 2025/2030. Ons is daartoe verbind om produsente deur volhoubare innovering te help beskerm teen vernietigende insekte, indringeronkruide en die bedreiging van siektes. Die COVID-19-pandemie het die belangrikheid van voedselsekerheid aansienlik verskerp en ons span graag al ons kragte in om produsente te ondersteun. Volhoubaarheid sal voortgaan om ons kommersiële en beleggingstrategieë te vorm wanneer ons na die toekoms kyk.

Die besigheid in Suid-Afrika word met sterk beginsels bestuur: Ons fokus op ons eie mense, ons klante, ons produkte en die koste-effektiwiteit van ons besigheid. Ons poog om alles wat ons doen, doeltreffend en reg te doen.

Ons prioriteite is om ons belegging in Suider-Afrika te vergroot, ons belegging in ons eie mense voortdurend te verbeter, ons handelaarsnetwerk te koester en dan, die belangrikste, nuwe en doeltreffende tegnologie aan ons produsente beskikbaar te maak. Ons verbeter voortdurend ons prosesse wat betref produkregistrasie en -toetsing, logistiek asook invoere en verspreiding van produkte om die besigheid seepglad te bestuur.

Die rand/dollar-wisselkoers, waaroor ons natuurlik geen beheer het nie, het ’n groot invloed op ons besigheid, aangesien ons produkte regoor die wêreld vervaardig word. Ten spyte van die wisselvalligheid van die rand en ook die impak van COVID-19 in 2020, dui alle vooruitsigte steeds daarop dat FMC se besigheid in Suider-Afrika met meer as 20% behoort te groei teenoor die 2019-boekjaar.