Graan SA/John Deere- resepkompetisie
Hierdie nuwe kompetisie bied aan SA Graan/Grain-lesers die geleentheid om hulle kreatiwiteit in die kombuis ten toon te stel en boonop #Lekkerrr pryse te wen! Ons is op soek na oorspronklike en/of innoverende graan- of oliesaadgebaseerde resepte wat sorg vir spontane komplimente van jou gesin, familie of gaste.
Wat behels die kompetisie?
- Die resep moet uniek wees. Dit kan óf ’n oorspronklike resep wees, óf ’n bekende resep wat in so ’n mate aangepas is dat daar iets verrasssend aan is.
- Die resep se hoofbestanddeel – of ten minste ’n vername bestanddeel daarvan – moet een van die grane of oliesade (verwerk of onverwerk) wees wat Graan SA as produsente-organisasie verteenwoordig, naamlik:
- Mielies
- Koring
- Gars
- Sonneblom
- Sojabone
- Sorghum
- Kanola
- Grondbone
- Om in te skryf, moet die vorm op sagrainmag.co.za volledig voltooi word.
- ’n Naam of beskrywing van die resep se eindproduk moet verskaf word.
- Alle bestanddele en hoeveelhede of mates moet aangedui word, asook die aantal persone waarvoor die resep geskik is.
- Die metode moet stap-vir-stap uiteengesit word.
- ’n Nabyfoto van die eindproduk (’n selfoonfoto teen die hoogste moontlike resolusie behoort voldoende te wees) moet aangeheg word.
- Inskrywings is beperk tot een inskrywing per persoon per maand.
- Die inskrywing moet ons bereik voor of op die laaste dag van ’n maand, d.w.s. die Februarie-uitgawe se inskrywings sluit teen 28 Februarie. Enige inskrywing ontvang ná die laaste dag van ’n maand, kwalifiseer vir die volgende maand se inskrywings.
- ’n Maandwenner van die huidige kompetisie (Februarie- tot Desember/Januarie-uitgawes van SA Graan/Grain) mag nie weer in dieselfde tydperk deelneem nie.
- Inskrywings wat nie gewen het nie, kan in ’n volgende maand weer vir die kompetisie in aanmerking kom.
- Die kompetisie is oop vir alle ouderdomme, maar ’n ouer/voog moet toestemming gee wanneer die deelnemer onder 18 is.
- ’n Maandwenner sal ’n John Deere-gemerkte geskenk ontvang en in aanmerking kom vir die R5 000-kontantprys wat aan die einde van die jaar aan die algehele wenner toegeken sal word.
- Beoordeling sal deur ’n paneel beoordelaars plaasvind wat deur SA Graan/Grain aangewys word. Die beoordelaars se beslissing is finaal.
- Wenners sal persoonlik deur SA Graan/Grain gekontak word en op die webwerf (sagrainmag.co.za) asook in SA Graan/Grain aangekondig word.
- Die deelnemer stem in dat sy/haar identiteit gekoppel kan word aan die ingeskrewe resep en/of die kompetisie by wyse van gedrukte of aanlyn publisering.
- Deur vir die kompetisie in te skryf, verleen die deelnemer sy/haar toestemming dat die resep deur die organiseerders gebruik en gepubliseer kan word, met erkenning aan die inskrywer.
- Werknemers van die Graan SA-groep, John Deere Afrika en Midde-Ooste asook die redaksiespan van SA Graan/Grain word nie toegelaat om deel te neem nie.







