Komponente van mielie-opbrengs wat deurslag gee

Pieter de Wet, landboukundige, Pioneer
Published: 2 September 2025

690

Mielieproduksie is ’n komplekse proses, maar dit kan vereenvoudig word deur te kyk na die verskillende komponente wat opbrengs uiteindelik beïnvloed. Wat belangrik is, is dat hierdie opbrengskomponente deur die hele verloop van die groeiseisoen ontwikkel (Figuur 1). Onthou ook dat indien opbrengspotensiaal op ’n gegewe tydstip ingeboet word, dit nie later in die seisoen weer ten volle opgemaak kan word nie.

Figuur 1: Opbrengskomponente ontwikkel deur die groeiseisoen.

Opbrengskomponente
Daar is vyf opbrengskomponente wat gemeet kan word: 1) plante per hektaar; 2) koppe per plant; 3) rye per kop; 4) pitte per ry en 5) pitgewig. Die doel moet nie noodwendig wees om elkeen van hierdie komponente te maksimeer nie, maar eerder te optimaliseer. ’n Goeie voorbeeld is plante per hektaar. In baie gevalle word populasies opwaarts aangepas om sodoende die aantal plante per hektaar en gevolglik koppe per hektaar te verhoog, maar die gevolg kan wees dat die aantal rye, pitte per ry en selfs pitgewigte kan afneem. Hierdie opbrengskomponente is interafhanklik van mekaar en daarom is dit nodig om ’n balans te vind. Dié balanseertoertjie word vinnig uiters kompleks met verskillende basters, aangesien genetika nie dieselfde reageer nie.

Aantal produktiewe plante
Ontkieming en opkoms
Die foute gemaak tydens plant is gewoonlik permanent, tensy be­sluit word om ’n land oor te plant. Die effek wat ’n onegalige stand op opbrengspotensiaal het, is blywend. Wees krities op jouself en jou planter. Groot variasies in interryspasiëring is die gevolg van ’n kombinasie van plante wat te naby aan mekaar staan en groot ga­pings tussen ander plante. Vandag se planters en plantertegnologie stel produsente in staat om pitte hoogs akkuraat uit te meet. Daar bestaan egter nog steeds heelwat variasie in interryspasiëring. Ons stel voor dat interryspasiëring gemeet en bereken word in plaas daarvan om uitsluitlik op die plantermonitor staat te maak. Buiten ontkieming en opkoms, is die finale stand tydens oestyd van kardinale belang, en dit gaan uit die aard van die saak afhang van wat die populasiemikpunt tydens plant was.

Finale stand
’n Plantpopulasiemikpunt wat te hoog of te laag is, kan ’n negatiewe impak op opbrengs hê. Populasies wat te laag is, kan opbrengs beperk wanneer groeitoestande gunstig is, terwyl ’n te hoë populasie onnodige stremming kan veroorsaak in ongunstige groeitoestande.

Moderne mieliebasters reageer beduidend anders as dié van 30 jaar gelede (Figuur 2). ’n Studie wat in samewerking met Pioneer van 1987 tot en met 2016 in Noord-Amerika gedoen is, oor verskillende lokaliteite en basters teen verskillende plantpopulasies, het interessante insigte aan die lig gebring. In hierdie studie het wetenskaplikes tot die gevolgtrekking gekom dat vandag se moderne mieliebasters ’n hoër agronomiese optimum het wat plantpopulasie betref, maar ook dat die optimum plantpopulasiereeks wyer geraak het (Assefa et al., 2018). Die afleiding kan gemaak word dat vandag se moderne basters ’n groter mate van stabiliteit toon vergeleke met ouer mieliebasters, asook dat daar deesdae ’n groter mate van speling rondom die sogenaamde ideale of optimum plantpopulasie is. Vandag se basters toon beter reaksie teen hoër plantpopulasies as gevolg van ’n verbetering in droogte-, siekte- en insekverdraag­saamheid, sowel as beter stam- en wortelontwikkeling.

Figuur 2: Optimum plantpopulasies van 1987 tot 2016 (Pioneer, 2019).

Om die optimum plantpopulasie vir ’n baster en omgewing te bepaal kan ingewikkeld wees, aangesien dit vir ’n gegewe situasie deur ’n aantal faktore beïnvloed word. Die opbrengspotensiaal van ’n gegewe plaas/land/sone, die baster of basterpakket wat aangeplant word asook weertoestande is maar net drie van die faktore wat in aanmerking geneem moet word.

Produsente het geen beheer oor die hoeveelheid reën of hitte-eenhede nie, maar kan wel die baster en populasie waarteen dit geplant word, bestuur. Hulle het ook geen beheer oor die opbrengspotensiaal van ’n spesifieke plaas nie, maar kan wel anders begin dink oor hoe om die potensiaal te bestuur.

Daar kan begin word deur plase volgens hulle langtermyn­opbrengspotensiaal te groepeer. ’n Verdere stap sou wees om onderskeid te tref tussen lande, en indien moontlik, sal die volgende logiese stap wees om lande op sonevlak te bestuur.

Sodoende word nie net die optimum plantpopulasiekwessie aangepak nie, maar verander die denkwyse van hoe basters volgens die verskillende opbrengspotensiaalvlakke geplaas moet word. Daarom word die klem altyd gelê op ’n basterpakket aangesien dit ongelukkig so is dat ’n spesifieke baster nie noodwendig die beste keuse is vir beide die laer- en hoërpotensiaalgronde nie.

Figuur 3 dui aan hoe die ekonomiese optimum plantpopulasie skuif soos wat die potensiaal – of anders gestel, die opbrengsvlakke – verander.

Figuur 3: Ekonomiese optimum plantpopulasies oor verskillende opbrengs­vlakke (Pioneer, 2019).

Variasie van plantpopulasie volgens potensiaalvlakke met behulp van presisieplantertegnologie word as ’n goeie praktyk beskou. Indien dit nie moontlik is om populasies te varieer nie, is ’n goue middeweg die antwoord.

Pioneer se Agronomiespan toets basters intensief oor verskillende potensiaalvlakke teen verskillende populasies om produsente by te staan met preskripsiekaarte of ’n gouemiddeweg-benadering.

Ongeag die praktyk wat gevolg word, sal die vertrekpunt altyd opbrengspotensiaal of die opbrengsmikpunt van die betrokke plaas of land wees, ten einde ’n akkurate plantpopulasie-aanbeveling te kan maak. Hierdie aanbe­velings word gerugsteun deur seisoene se DAT-proefinligting (digital agronomy trials) sowel as die nuutste satelliettegno­logie in die vorm van ons Pioneer- digitale platform Granular Link (Figuur 4). Granular Link stel die span in staat om uiters akkurate potensiaalsones vir produsente te skep en daarvolgens preskripsie-aanbe­velings te maak.

Figuur 4: Granular Link-potensiaalkaart (links) en satellietbeeld (regs) gedurende die 2024/2025-seisoen.

Aantal rye en pitte per ry
Aantal rye
Die aantal rye op ’n mieliekop word streng beïnvloed deur genetika en word bepaal in ’n relatief kort periode tussen V6 tot V8. Stremming tydens hierdie periode sal sonder twyfel ook ’n negatiewe impak op die aantal rye hê. Basters se vermoë of onvermoë om kopgrootte volgens potensiaaltoestande en populasies aan te pas, is belangrik om te verstaan wanneer ’n produsent kopgrootte wil optimaliseer.

Twee van Pioneer se mieliebasters, naamlik P1225 en P18380, se opbrengskomponente en kopuitdrukking word in Figuur 5 van nader beskou. Hierdie basters is langs mekaar geplant in die Harrismith-omgewing teen 35 000, 45 000, 55 000, 65 000 en 75 000 plante/ha, soos gesien kan word in die foto van links na regs. Beide hierdie basters word beskou as enkelkoppige basters met goeie kompensasie­vermoë. Die meerkoppigheidsindeks op 35 000 plante/ha vir P1225 was 1,27 en vir P18380 was dit 1,77. Daar was dus 27% (amper 30%) tweede koppe op die hoofstam in die geval van P1225. P18380 het op 77% van die 35 000 plante/ha ’n tweede kop aangesit, waarvan 80% van hierdie tweede koppe spruitkoppe was. Die meerkoppigheidsindeks kom egter baie vinnig af soos wat populasies verhoog is na 45 000 en hoër. P1225 se meerkoppigheid op 45 000 plante/ha het afgekom na 1,13, en 1,30 in die geval van P18380. Die feit dat hierdie basters kan flex met ’n tweede kop of spruitkoppe is beslis ’n positiewe eienskap, maar aangesien hulle enkelkoppige basters is, word die klem gelê op die primêre kop.

Figuur 5: P1225 (bo) en P18380 (onder) geplant van 35 000 tot 75 000 plante/ha.

P1225 kan gegroepeer word as ’n semivastekop-baster. Die baster het ’n ongelooflike 24 rye om die kop gemaak op 35 000 plante/ha en 20 rye op 75 000 plante/ha. P18380 beskik oor ’n vaste kop en het konstant 18 rye om die kop gemaak en tot ’n groot mate sy kopgrootte behou oor die onderskeie plantpopulasies.

Deur na hierdie inligting en data uit Pioneer se DAT-proewe te kyk, kan die reaksie wat tussen die verskillende plantpopulasies te sien is verstaan word, asook die interaksie oor verskillende opbrengspotensiaalvlakke. Aangesien P18380 sy kopgrootte konstant hou, word ’n baie goeie lineêre reaksie gesien wat plantpopulasie betref. P1225 het nie ’n sterk tweedekop-uitdrukking nie, maar kan sy kop­grootte aanpas soos wat potensiaaltoestande verander.

Pitte per ry
Koplengte of die aantal pitte per ry ontwikkel vanaf V6 tot ongeveer net voor pluimverskyning. Groeitoestande of stremming sal kop­lengte gedurende hierdie kritieke stadium negatief beïnvloed. Hierdie periode word geken as ’n periode van vinnige groei en ontwikkeling. Volg ’n plan om te verseker dat voedingsvlakke op standaard is en minimaliseer die impak wat onkruid- en insekdruk tydens hierdie kritieke stadiums mag hê.

Pitte per kop
Die finale aantal pitte per kop word gedurende die vroeë reproduktiewe stadiums tydens R1 tot en met R3 bepaal. Indien daar stremming tydens hierdie groeistadiums ondervind word, sal daar opbrengsverliese wees. Stres kan byvoorbeeld die sinkronisasie van baardverskyning en stuifmeelstorting beïnvloed, wat swak be­stuiwing tot gevolg kan hê. Sou bestuiwing suksesvol plaasvind, kan pitaborsies nog tot en met R3 plaasvind.

Pitgewig
Graanvul strek van R3 tot en met R6. Selfs op R5- of duikpitstadium kan daar nog opbrengsverliese wees indien daar stremming plaasvind. Van duikpitstadium tot fisiologiese volwassenheid is daar nog ongeveer 30 dae wat pitgewig ’n impak op opbrengs kan hê.

Gevolgtrekking
Stremming op enige stadium van die groeiseisoen sal opbrengs negatief beïnvloed. Die spesifieke stadium waartydens stremming intree sal die omvang van opbrengsverliese bepaal. Stremming is elke seisoen ’n gegewe, maar fokus op die opbrengskomponente waaroor daar beheer is om die impak te minimaliseer.

Verwysings

  1. Assefa, Y, Carter, P, Hinds, M, Bhalla, G, Schon, R, Jeschke, M, Paszkiewicz, S, Smith, S & Ciampitti, IA. 2018. Analysis of long-term study indicates both agronomic optimal plant density and increase maize yield per plant contributed to yield gain. Scientific Reports 8, 4937.
  2. Pioneer, 2019. Corn seeding rate considerations. Crop Insights, March, 2019.