Graan SA/John Deere Graan-Lekker-kompetisie: Februarie-wenner

Rentia Mynhardt, SA Graan/Grain-redakteur
Gepubliseer: 5 Maart 2026

48

Die Graan SA/John Deere-resepkompetisie gee jou die geleentheid om jou kreatiwiteit in die kombuis op die proef te stel, en jy het boonop ’n kans om daarvoor beloon te word.

Ons Februarie-wenner* is: Lizél Kruger van Standerton

PAPTERT met biltong en aspersie

genoeg vir agt persone

Bestanddele:

Stywepap
2,5 koppies mieliemeel
1,25 liter water
1 teelepel sout
1 teelepel botter

Res van die bestanddele
1 x 430 g blikkie slaaisnit-aspersies
¾ koppie pitmielies (geblik of gevries, maar ontdooi)
½ koppie + 2 eetlepels fyn of poeierbiltong
25 ml botter
45 ml koekmeel
1 koppie cheddarkaas
sout en peper na smaak
melk om aspersievloeistof aan te vul
gedroogde pietersielie

Metode:
(voorverhit oond tot 180°C)

Stywepap
Bring die water en sout tot kookpunt, voeg die botter by en meng die meel met ’n vleisvurk in. Kook vir ongeveer 30 minute op medium hitte en roer gereeld.

Witsous

  1. Vul die vloeistof van die aspersies met melk aan sodat dit in totaal 500 ml is en geur met sout en peper.
  2. Bring die vloeistof tot kookpunt (ongeveer vier minute op hoog in mikrogolf).
  3. Klits die koekmeel by die vloeistof en plaas terug in mikrogolf vir drie minute. Klits goed elke 30 sekondes. Die witsous is reg as dit soos karringmelk begin lyk.
  4. Roer twee eetlepels fyn biltong by die sous in.

Paptert

  1. Skep ’n laag pap in ’n 1,5- tot 2 liter-opdienbak.
  2. Strooi die pitmielies oor die pap, gevolg deur die aspersiestukke en daarna die biltongpoeier.
  3. Gooi nou die witsous oor sodat die paplaag heeltemal bedek is.
  4. Besprinkel met kaas en pietersielie (en ’n bietjie ekstra wit kaas as jou gaste ’n VLU-lid insluit).
  5. Bak in die oond tot die kaas begin borrel.

Addisionele inligting

  • ’n Eg Vrystaatse gereg.
  • Werk wonderlik saam met ’n gebraaide skaaptjop.
  • Dit is veral lekker wanneer jy die volgende oggend met ’n teelepel daaraan weglê terwyl die res van die huis nog slaap!

* Die maandelikse wenner ontvang ’n geskenk/geskenkbewys vanaf John Deere en kom outomaties in aanmerking vir die R5 000-kontantprys wat aan die einde van die jaar aan die algehele wenner toegeken sal word. Kompetisiereëls word op die webwerf uiteengesit.