Ons het in SA Graan/Grain se vorige uitgawe ons splinternuwe leserskompetisie bekendgestel, en ons kan opgewonde deel dat dié Graan SA/John Deere Graan-Lekker-kompetisie sy eerste wenner opgelewer het.
Vir die resep om te kwalifiseer, moet dit aan die volgende vereistes voldoen:
- Dit moet uniek wees (óf ’n oorspronklike resep óf ’n bekende resep met ’n kinkel as verrassingselement).
- Die hoofbestanddeel – of minstens ’n onmiskenbare bestanddeel daarvan – moet een van die grane of oliesade (verwerk of onverwerk) wees wat Graan SA verteenwoordig, naamlik mielies, koring, gars, sonneblom, sojabone, sorghum, kanola of grondbone.
Ons Desember/Januarie-wenner* is: Marlene Stroebel van Klerksdorp
KORINGSLAAI met mango en haloumi
4 tot 6 persone
Bestanddele:
Slaai
750 ml gaar koring
30 ml sonneblomsaad (lig gerooster)
een groot mango in blokkies gesny
75 ml bosbessies (cranberries) (gedroog)
200 g haloumikaas (sny in repe, braai, en sny dan in blokkies)
100 ml soetrissie (groen) in klein blokkies gesny
100 ml soetrissie (rooi) in klein blokkies gesny
50 ml pekanneute (gekap)
200 g streepspek, in blokkies gesny en bros gebraai
fyn gerasperde skil van een suurlemoen
30 g roketblare (klein gebreek)
Slaaisous (meng alles saam)
25 ml sonneblomolie
50 ml vars suurlemoensap
50 ml rou heuning
2,5 ml sout
10 ml swartpeper (vars gemaal)
1 teelepel Dijon-mosterd
Metode:
- Meng al die slaai se bestanddele, behalwe die roketblare, saam in ’n groot slaaibak.
- Meng nou die slaaisous versigtig deur.
- Voeg laastens die roketblare by en roer alles goed deur.
Addisionele inligting
Hierdie slaai is heerlik saam met braaivleis!
* Die maandelikse wenner ontvang ’n geskenk/geskenkbewys vanaf John Deere en kom outomaties in aanmerking vir die R5 000-kontantprys wat aan die einde van die jaar aan die algehele wenner toegeken sal word. Kompetisiereëls word op die webwerf uiteengesit.














