In moderne mielieproduksie is mielies se vermoë om langer groen te bly nie net ’n visuele verskynsel nie – dit is inderwaarheid ’n meetbare voordeel en teken van ’n gesonde mielieplant. Deur te verstaan hoe genetika, fisiologie en gewasbestuur saamwerk om die sogenaamde staygreen-eienskap te behou, kan produsente topopbrengste met hoëpotensiaalmieliebasters in verskillende omgewings behaal; ongeag in watter toestande dit verbou word. Dr Rikus Kloppers, gewasbeskermingspesialis aan die stuur van Robigalia CropCare, ondersoek die onderwerp.
Voordele wat saak maak
So, wat beteken staygreen presies? Die term word algemeen in die volksmond gebruik wanneer daar verwys word na die vermoë van ’n mielieplant om vir ’n tyd lank na bestuiwing plaasgevind het nog groen te bly. Wetenskaplik verwys dit na ’n vertraagde verouderingsproses in die mielies se blare en stamme gedurende die graanvultydperk. Die plant beskik oor die vermoë om deur die oorgang van die vegetatiewe na die reproduktiewe stadium van sy groeisiklus steeds groen te bly, en gevolglik behou die plant die vermoë om te fotosinteer gedurende die graanvulperiode.
Staygreen kan óf die gevolg wees van ’n inherente genetiese eienskap (’n morfologiese eienskap wat in die genetiese samestelling van die plant is) óf ’n fisiologiese aanduider van die plant se vermoë om stremming beter te hanteer. Dit word ook verbind aan opbrengsstabiliteit in verskeie stremmingstoestande soos droogte of hitte en/of siektedruk.
Die vermoë van ’n plant om langer groen te bly, bied twee beduidende voordele:
- Opbrengsstabiliteit: Fotosintese wat langer aanhou gedurende die laat reproduktiewe fase help graanvul aan en lei ook daartoe dat die pitmassa hoër is. Deur die produksie van suikers (sukrose) gedurende die graanvulstadium vol te hou, kan basters wat oor die staygreen-eienskap beskik opbrengs handhaaf selfs al ondervind hulle stremming. Studies toon ’n opbrengsverbetering van 15 tot 25% in droogtetoestande; en selfs wanneer die plant stikstoftekorte ondervind het, kon hulle steeds groen blare behou vir tot tien dae langer as die kontrole – wat gelei het tot ’n 1,5 t/ha-opbrengsvoordeel.
- Stamintegriteit: Vertraagde veroudering help dat die mielieplant se stam langer sterk bly, wat verhoed dat die plant maklik omval. Dit verseker ook dat die voedingstowwe steeds deur die stam vervoer kan word. Die sterker stamme van die plante voorkom omval later in die seisoen, wat help dat die stroopproses meer doeltreffend is en ook verbeterde graankwaliteit tot gevolg het. Studies toon dat sterker stamme omval met 20 tot 40% kan verminder.
’n Prestasiebelofte
Staygreen word geassosieer met vertraagde veroudering van plantmateriaal en met die fotosinteseproses wat volgehou word tot lank na die blomstadium – wat uiteraard heelwat voordele ontsluit. In effek help die staygreen-eienskap ons om beter te verstaan hoe ’n baster gedurende die laat reproduktiewe stadium koolstof uit die atmosfeer gebruik om met die graanvulproses te help. Die plant onttrek voedingstowwe van die vegetatiewe plantdele soos die stam en blare, en gebruik dit dan om stysel te vorm en die pitte te vul.
Gedurende die kritieke stadium van graanvulling (14 tot 21 dae na bestuiwing), kan die gewig van ’n mieliepit met tot 3 mg/pit/dag toeneem. In basters wat oor ’n doeltreffende meganisme beskik om die koolstof tydens die graanvulproses te benut, is daar ’n vermindering in koolhidrate in die vegetatiewe plantmateriaal gedurende die R3- tot R5-stadiums van tot ongeveer 26 tot 34% met gevolglike hoër duisendpitgewig van 19 tot 25%. Hierdie stoorvermoë van die plant is ’n belangrike faktor in die bepaling van die finale opbrengs as gevolg van die effektiewe gebruik van koolstof gedurende graanvul.
Opbrengs is nog nie ten volle vasgelê wanneer die mieliepitte begin duik nie. Die voginhoud van die pitte aan die begin van die R5-stadium is ongeveer 60%, terwyl die droë materiaal slegs sowat 45% van die finale hoeveelheid droë materiaal verteenwoordig 30 dae voordat die swart lagie vorm en die mielies fisiologies ryp is. Dit kan dus steeds ’n effek van sowat 30% op die finale opbrengs hê.
Dit bly egter belangrik om te onthou dat goeie mielieproduksie nie slegs afhanklik is van genetika nie. Gewasbestuur speel net so ’n belangrik rol om goeie opbrengspotensiaal op die lang duur te realiseer. Deur meer groen dele van die plant te behou na die blomstadium en vroeë veroudering teë te werk, verkry die plant die vermoë om koolstof beter te benut.
Sodoende kan die plant gesonde, vol pitte lewer, ’n goeie opbrengs realiseer en sy volle opbrengspotensiaal bereik. As sodanig beskou, is staygreen meer as net ’n blote eienskap – dit is ’n belofte van verhoogde produksie.

Hoe kan ’n mens hierdie eienskap in mielies bewerkstellig?
Staygreen in mieliebasters is nie as gevolg van ’n enkele towerkunsie nie – dit spruit uit twee komplementêre benaderings: slim genetiese seleksie en effektiewe gewasbestuur.
1. Genetiese seleksie:
Genetiese seleksie vind plaas wanneer telers basters met natuurlike staygreen-eienskappe in teelprogramme kies deur blaarveroudering na blom te identifiseer. Saadinsetverskaffers kan boere help om basters met bewese staygreen-potensiaal te kies.
Nie alle basters wat oor die staygreen-eienskap beskik, is egter dieselfde nie. Daar is aansienlike verskille tussen langer- en kortergroeiseisoen-basters. Basters met ’n langer groeiseisoen het normaalweg ’n verlengde tydperk waar daar ’n groen blaaroppervlak is omdat hulle ’n langer graanvulperiode benodig. Die staygreen-eienskap is gewoonlik meer sigbaar in hierdie basters omdat die plant se natuurlike veroudering oor meer dae verspreid is. Hierdie basters kan ook meer droë materiaal genereer, maar hulle bereik gewoonlik later fisiologiese rypheid wat ook ’n hoër pitvog tydens oes beteken. Langergroeiseisoen-basters bereik veel later fisiologiese rypheid wanneer die aleuronlagie (oftewel swart lagie) vorm vanaf 65 tot 70 dae na bestuiwing. ’n Sterk teenwoordigheid van die staygreen-eienskap in langgroeiseisoen-basters kan afdroging vertraag.
Basters met ’n korter groeiseisoen (vroeë rypwording), aan die ander kant, se natuurlike veroudering vind vinniger plaas omdat hul graanvulvenster korter is en die baster fisiologiese volwassenheid en rypwording vroeër bereik (50 tot 55 dae na bestuiwing). Selfs in hierdie geval bly die staygreen-eienskap voordelig, hoewel die visuele verskil nie so duidelik sigbaar is as in die geval van langergroeiseisoen-basters nie. Dit is omdat die tydperk waartydens die blaaroppervlak groen is, aansienlik korter is. Hierdie basters droog gewoonlik vinniger af, en die pitvog sal ook laer wees tydens oes (selfs al beskik hulle oor die staygreen-eienskap). Die staygreen-eienskap in kortgroeiseisoen-basters help om stremming te buffer, maar hulle hou selde hul groenheid so lank as in die geval van langergroeiseisoen-basters.
Omgewingsfaktore in verskillende verbouingstreke speel net so ’n groot rol in ’n ideale staygreen-strategie. ’n Mens sal byvoorbeeld sien dat langgroeiseisoen-basters met die staygreen-eienskap floreer in streke met ’n hoë siekterisiko en koel, nat toestande. Die behoefte kan egter ontstaan vir drogingsfasiliteite met oes. Op droëland en in stremmingstoestande is kortgroeiseisoen-basters wat oor die staygreen-eienskap beskik weer waardevol omdat hulle opbrengsstabiliteit balanseer met ’n aanvaarbare voginhoud.
Siektebestuur speel ook ’n beduidende rol: Basters met ’n langer groeiseisoen is oor die algemeen langer blootgestel aan siektes wat swamdodertoediening later in die seisoen belangrik maak. Die risiko word egter beperk deur sterk teenwoordigheid van staygreen-eienskappe. Aan die ander kant is kort en ultrakort basters in Suid-Afrika se genetiese agtergrond kenmerkend van die vinnige Amerikaanse kiemplasma en dus nie so verdraagsaam teenoor siektes soos die tipiese Afrika-teelmateriaal nie. In hierdie vinniger basters is dit noodsaaklik om ’n meer omvattende volseisoen-swamdoderspuitprogram te volg.
2. Bestuur van stremmingstoestande
Selfs al is die genetiese staygreen-eienskap nie noodwendig altyd duidelik in ’n baster nie, kan boere dit steeds met goeie bestuurspraktyke bewerkstellig. Só ’n bestuursbenadering beteken dat plantstremming bestuur moet word deur optimale bemesting, die regte plantestand asook doeltreffende siektebeheer om vroeë veroudering teë te werk. Hierdie bestuurspraktyke sal help dat optimale fotosintese tydens die reproduktiewe stadiums van plantontwikkeling sal voortduur.



Wat van plantsiektes en swamdoders?
Die verband tussen blaarsiektes, stamsterkte en omval is nie altyd so voor die hand liggend nie. Tog is dit opvallend dat gesonde, groen, siektevrye blare die sleutel tot volgehoue fotosintese, sterker stamme en verhoogde pitmassa is. Wanneer blare vir ’n langer tydperk groen en funksioneel bly, sal dit bydra om opbrengspotensiaal te laat realiseer.
Blaarsiektes in Suid-Afrika kan opbrengste met 30% of meer verminder, afhangende van die patogeen, die erns van die siekte, omgewingstoestande en basterverdraagsaamheid – alles sleutelfaktore in die sogenaamde siektedriehoek. Die belangrikste sondebokke wat swamsiektes in plaaslike mielieproduksie veroorsaak, is grysblaarvlek (Cercospora zeina), noordelike mielieblaarskroei (Setosphaeria turcica) en gewone of bruinroes (Puccinia sorghi). In streke met hoë siektedruk kom hierdie siektes vroeg in die seisoen voor en effektiewe siektebeheer is gebaseer op vroeë voorkomende en opvolgbespuitings.
Laatseisoen-swamdodertoedienings, aan die ander kant, werp net vrugte af wanneer die siektedruk en/of die omgewingstoestande die inset regverdig. In droër streke met laer siektedruk bied swamdoders dikwels min ekonomiese voordeel. Amerikaanse produsente moet weer ander siektes, soos byvoorbeeld suidelike roes (Puccinia polysora) en teervlek (Phyllachora maydis), bekamp. In daardie mark kom albei hierdie siektes eers laat in die seisoen voor en moet boere ten minste een, maar waarskynlik meer bespuitings gedurende die reproduktiewe stadiums van die plant doen.
Hierdie twee siektes versprei vinnig en versnel blaarveroudering omdat die volwasse plante op hierdie stadium reeds oor minder weerstand beskik en dit die groen weefsel in die plant vinnig beskadig. Dit beïnvloed die staygreen-eienskap direk negatief omdat die funksionele en produktiewe groen blaaroppervlakte verminder wat die plant se vermoë om optimaal te fotosinteer tydens graanvul nadelig beïnvloed. Alhoewel suidelike roes reeds in Suid-Afrika voorkom, is die impak daarvan relatief laag in vergelyking met Amerikaanse produksiegebiede. Teervlek is nog nie in die mielieproduserende gebiede in Suid-Afrika aangemeld nie.
’n Interessante waarneming rakende hierdie laatseisoen-swamdodertoedienings het egter uitgewys hoe dit stremming op die plant verminder, voortydige veroudering voorkom en die nodige staygreen-effek gee vir optimale graanvul. Deur die graanvulperiode met drie tot vyf dae te verleng deur goeie bestuurspraktyke, kan die pitmassa met ongeveer 10% styg en opbrengste met enigiets tussen 0,6 en 1,3 t/ha verbeter.
Moderne swamdoderprogramme maak staat op die afwisseling van aktiewe bestanddele en bied gebalanseerde, voorkomende en regstellende oplossings. Dit help ook om die opbou van weerstand teen die middels teen te werk. Die algemeenste swamdoders wat in mielies gebruik word, is triasool (DMI 3), strobilurien (QoI 11), SDHI’s (7) of ’n kombinasie van hierdie middels. Strobilurien is bekend vir die effek wat dit het op algemene plantgesondheid en die staygreen-effek deurdat dit etileenproduksie inhibeer. Sodoende bly die plant langer groen en word stremming verminder.
Dit verlaag ook die uitwerking van stremming op die plant omdat die plant die vermoë het om sy respirasie te verlaag wanneer temperature hoog is. Dié eienskap dra daartoe by dat waterverbruik effektief is. Stremmingsfaktore en veral blaarsiektes kan tot vroeë dood in plante lei en dit kan bestuur word deur die tydige toediening van swamdoders wat nie net siektebeheer bied nie, maar ook algehele plantgesondheid bevorder en plantstremming verminder.
Swamdoders is egter slegs ’n deel van die staygreen-legkaart. Volkome plantgesondheid – en die vermoë om die staygreen-effek te bewaar – is die gevolg van ’n geïntegreerde siektebestuurstrategie wat swamdoders, die gebruik van weerstandbiedende hoë-opbrengspotensiaal-mieliebasters en die implementering van goeie landboupraktyke insluit. Al die elemente saam dra by tot veerkragtige en hoëprestasiemielies wat langer groen, sterker en meer produktief bly.
Ten slotte
Staygreen is veel meer as ’n blote visuele planteienskap. Dit bied ’n blik op die fisiologiese werking van ’n mielieplant. Dit is hier waar genetika, die omgewing en gewasbestuur bymekaar kom om veerkragtigheid, opbrengsstabiliteit en graankwaliteit te bewerkstellig. Deur die regte baster te kies, stremming te bestuur en die gewas teen siektes te beskerm, kan produsente die plant se produktiewe lewe verleng om die volle opbrengspotensiaal te ontsluit.
Staygreen is uiteindelik ’n maatstaf om balans te meet – balans tussen fotosintese en respirasie, tussen groei en verdedigingsmeganismes, en tussen die natuur en gewasbestuur. Hoe langer jou mielieplante groen kan bly, hoe langer kans het hulle om hul volle opbrengspotensiaal te bereik – en hoe beter is die kans op winsgewendheid.












