
Sonneblom is een van die somergewasse wat die minste sensitief is vir plantdatums en daarom kan die gewas met groot sukses vroeg aangeplant word in die hoof- produserende sonneblomgebiede. Hierdie praktyk kan moontlik ook produsente se risiko met betrekking tot Sclerotinia beperk.
Suid-Afrika se hoof- produserende sonneblomgebiede word nie tradisioneel gekenmerk deur seisoene met buitengewoon hoë reënvalsyfers nie. Groot dele van die sonneblomstreek het egter die afgelope seisoen buitengewoon hoë reënval en humiditeit ondervind. Seisoene met hoë reënval skep normaalweg ideale toestande vir swamsiektes soos Sclerotinia om te ontwikkel en die afgelope seisoen is die voorkoms van dié siekte in baie dele van die sonneblomstreek waargeneem.
Navorsing dui egter aan dat Sclerotinia-infeksiekoerse laer kan wees wanneer gewasse vroeër in die seisoen geplant word.
Waarom vroeë aanplantings?
Sonneblom kan na regte vanaf September tot Januarie aangeplant word in die meeste sonneblomareas, kan suksesvol ontkiem by grondtemperature so laag as 4 °C, en groei goed tussen 10 en 31 °C. Omdat dit selfs matige ryp kan oorleef in die saailingstadium, kan produsente dit vroeër en later as baie ander gewasse plant.
Heelwat navorsing dui aan dat Sclerotinia-infeksiekoerse normaalweg laer is tydens vroeë plantdatums aangesien klimaatstoestande vroeër in die seisoen die ontwikkeling van die siekte kan onderdruk.
Hoër temperature tydens vroeë aanplantings kan die vorming van apothecia uit sclerotia onderdruk en dus die vrystelling van askospore verminder wat verder deur wind versprei kan word. Klimaatstoestande tydens vroeë plantdatums val dikwels buite die tyd wanneer die hoogste somerreënval en vogtige, humiede toestande in die somergraangebiede ondervind word. Laasgenoemde kan gunstigste toestande vir Sclerotinia-ontwikkeling skep. Omdat Sclerotinia-infeksie in sonneblom hoofsaaklik gedurende die blomstadium voorkom, beteken dit dat vroeë aanplantings normaalweg blom voordat die hoogste infeksiedruk plaasvind.
As dit kom by Sclerotinia-risikobestuurspraktyke is vroeë plantdatums en die verspreiding van plantdatums een van die belangrikste praktyke vir produsente om in ag te neem.

Voordele van vroeë sonneblomaanplantings
Hoër opbrengspotensiaal: Vroeë plantdatums stel sonneblom in staat om die groeiseisoen en hitte-eenhede ten volle te benut en verbeter plante se ontwikkelingstyd, wat kan lei tot gesonder en sterker plante met ’n hoër opbrengspotensiaal. Dit kan toegeskryf word aan langer periodes van fotosintese deur die loop van die groeiseisoen, wat noodsaaklik is vir plante se ontwikkeling en saadproduksie. Verskeie navorsingsproewe dui aan dat November-aanplantings van die hoogste sonneblomopbrengste kan lewer.
Beter vogbenutting: In gebiede waar waterbeskikbaarheid ’n beperkende faktor kan wees, veral gedurende maande wanneer daar gewoonlik ’n midsomerdroogte voorkom, kan vroeë plantdatums sonneblomplante help om die beskikbare grondvog meer optimaal te benut en plante se wortelstelsels kan beter vestig. Aangesien sonneblom ’n penwortelstelsel het en vog vanuit dieper grondlae kan benut, stel dit plante in staat om toegang te verkry tot dieper grondvogreserwes voor droogtetye aanbreek wat die risiko van droogtestremming gedurende kritieke groeistadiums kan verminder. Gevolglik kan vroeë sonneblom beter toegerus wees om droë tye te weerstaan, wat kan lei tot meer stabiele opbrengste.
Doeltreffende beplanning en hulpbronbenutting: Vroeë sonneblom kan produsente ook help met beter gewasrotasiebeplanning deurdat plante se groeiseisoen voor die herfsmaande afgehandel is. Dit stel produsente in staat om die herfsreën optimaal te benut en hulle kan grondvog vroeër begin opgaar vir die volgende seisoen. Grondvoorbereiding kan ook vinniger plaasvind, wat kan lei tot meer doeltreffende gebruik van produsente se hulpbronne.
Ekonomiese voordeel: Oor die afgelope tien jaar dui marktendense aan dat sonneblom-Safex-pryse normaalweg heelwat beter is vroeër in die seisoen (Maart) teenoor later in die seisoen (April, Mei). Daar is dus ’n geleentheid vir produsente om hoër winsmarges te bereik deur sonneblom vroeër in die seisoen te lewer en te verkoop.
Addisionele beheermaatreëls teen Sclerotinia
Die voorkoms van plantsiektes is afhanklik van die omgewingstoestande tydens die kritieke groeistadium van ’n betrokke gewas. ’n Siekte kan slegs voorkom wanneer daar oorvleueling is van al die nodige faktore, naamlik ’n vatbare gasheer, patogeen en geskikte omgewingstoestande. Die siektedriehoek illustreer hierdie beginsel die beste (Figuur 1). Soos hierdie drie faktore oor tyd ontwikkel bepaal dit wanneer die infeksie plaasvind, hoe vinnig die siekte vestig en wat die uiteindelike skade sal wees aan die betrokke oes. In die geval van Sclerotinia op sonneblom is die ideale tyd vir infeksie tydens die blomstadium. Temperature van ongeveer 15 tot 25 ˚C en nat grondtoestande van ongeveer 10 tot 14 dae stimuleer die voorkoms van Sclerotinia.
Aangesien daar geen enkeloplossing is vir Sclerotinia nie, is daar addisionele bestuurspraktyke wat produsente kan volg om hul risiko te versprei. Die gedagte is om die siektedriehoek soveel as moontlik te probeer versteur om die kanse vir infeksie minder te maak.

Kultivarkeuse
Kultivarkeuse speel ’n groot rol in die suksesvolle verbouing van enige gewas en sonneblom is geen uitsondering nie. Pakketaanplantings van twee of meer kultivars kan produsente se risiko versprei as dit kom by siektes en moontlike klimaatsveranderinge. Dit is ook raadsaam dat ’n kultivarpakket voldoen aan die produsent se opbrengs- en langtermynstabiliteitsvereistes en dat die kultivars in die pakket mekaar komplementeer ten opsigte van hul blomdatum en groeiseisoenlengte. Dit is dus raadsaam vir produsente om langtermyndata te bestudeer voor daar finale besluite gemaak word rakende ’n kultivarpakket.
Aangesien sonneblom se hoofinfeksietyd vir Sclerotinia in die blomstadium voorkom het die gewas ’n relatief kort vensterperiode vir infeksie. Deur ’n sonneblompakket aan te plant van kultivars met verskillende groeilengtes kan produsente toesien dat hul aanplantings nie gelyktydig blom nie en dus die risiko vir infeksie versprei.
Rywydte
Wyer rywydtes kan in sommige gevalle oorweeg word om die voorkoms van Sclerotinia in sonneblomlande te verminder. Wyer rywydtes van byvoorbeeld 1,5 m kan die risiko van Sclerotinia-infeksie help versprei deur ’n oop klimaat te skep vir plante om in te groei. In smaller rywydtes van byvoorbeeld 0,76 m en 0,91 m word daar dikwels gevind dat plante soos hulle ontwikkel en groei die gewasry met hul blare bedek (canopy). Dit kan in natter seisoene lei tot verlengde nat periodes en hoër humiditeit in sonneblomlande en sorg vir minder lugvloei tussen die rye wat voordelige toestande kan skep vir die ontwikkeling van Sclerotinia. Daarenteen laat wyer rywydtes meer sonlig tussen die rye toe en sorg vir verbeterde lugvloei. Dit laat die grond vinniger uitdroog en maak die omgewing minder gunstig vir die ontwikkeling van swamsiektes.
Plant gesertifiseerde saad
Die gebruik van gesertifiseerde sonneblomsaad bied produsente ’n beduidende voordeel bo ongesertifiseerde saad, aangesien dit aan streng gehaltebeheerprosesse onderwerp word. Dit verseker dat die saad aan hoë standaarde van genetiese en fisiese suiwerheid asook ontkiemingspersentasies voldoen. Verder voldoen gesertifiseerde saad ook aan verskeie beheermaatreëls wat die teenwoordigheid van sclerotia in die saad beperk.
Agricol se Agsun-sonneblomreeks is bekend vir hul stabiele opbrengste by ’n reeks klimaatstoestande en plantdatums en word trots plaaslik geteel en geproduseer. Hierdie kultivars is ook bekend vir hul seisoensaanpasbaarheid en word as gesertifiseerde saad bemark. Kontak gerus jou naaste Agricol-agent vir ’n kultivaraanbeveling in jou area.












