Die bewese troefkaart teen hardnekkige onkruide in mielies

Bennie Buys, produkbestuurder: Onkruiddoders, Philagro SA
Gepubliseer: 30 Julie 2025

1563

Yamato® 480 SC van Philagro het die afgelope vyf jaar herhaaldelik sy doeltreffendheid in Suid-Afrika getoon, met uitsonderlike onkruidbeheer in mielieproduserende gebiede. Dié produk bly steeds ’n bewese troefkaart in die stryd teen hardnekkige onkruidsoorte in mielielande.

Taai en weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruide kan mielieplantontwikkeling ernstig belemmer, en dis juis hier waar Yamato® sy staal wys. Met sy unieke chemie bied dié produk doeltreffende beheer van ’n wye verskeidenheid onkruidsoorte in talle grondtipes, met aanpasbare voor- en na-opkomstoedieningsopsies.

Weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruidsoorte, tesame met hardnekkige uintjies, bly ’n uitdaging vir mielieprodusente in hul soeke na doeltreffende beheer van onkruidmededinging in mielielande. Philagro se plaaslike navorsingsproewe het gewys dat Yamato® veilige gewasbeskerming bied en hoogs aanpasbaar aangewend kan word na gelang van elke produsent se spesifieke behoeftes.

Unieke chemie
Yamato® is deur Kumiai Chemical Industry in Japan ontdek en is reeds in ’n wye verskeidenheid toestande en gewasse met groot sukses wêreldwyd gekommersialiseer. Die aktiewe bestanddeel, piroksasulfoon, spog reeds in verskeie lande met ’n benydenswaardige reputasie vir doeltreffende beheer van moeilik beheerbare onkruide.

Vanuit ’n tegniese perspektief inhibeer piroksasulfoon onkruide vroeg in die ontkiemingsproses. Dit word hoofsaaklik deur die koleoptiel van grasse opgeneem en ook deur die hipokotiel en wortels van breëblaaronkruidsaailinge.

Verskeie plaaslik beproefde kombinasies met ander geregistreerde middels bied Suid-Afrikaanse mielieprodusente nou bewese opsies vir veilige, langwerkende onkruidbeheer. Boonop spog Yamato®, aangedryf deur AXEEV Technology, met talle uitnemende voordele, onder andere dat die produk geskik is vir bykans alle grondtipes, ongeag die klei-inhoud. Dit is ook veilig om voor en selfs na opkoms in mielies toe te dien.

Voorts gebruik Yamato® 10 tot 20 keer minder aktiewe bestanddeel as ander soortgelyke, vergelykbare produkte (byvoorbeeld: een liter geformuleerde produk kan bykans 10 ha behandel). Boonop is piroksasulfoon se oplosbaarheid in water relatief laag en loog Yamato® dus minder – die produk bly langer in die boonste laag van die grond waar gras en kleinsadige breëblaaronkruide gewoonlik ontkiem. ’n Studie wat gedurende 2009/2010 in Noord-Colorado gedoen is, dui aan dat die halfleeftyd van piroksasulfoon ongeveer 20% langer is as dié van S-metolachloor (47 teenoor 39 dae)¹. Dit dui op ’n stadiger afbraaktempo wat ’n langer residuele effek tot gevolg kan hê. Dit alles lei natuurlik tot bykomende voordele en besparings ten opsigte van stoorplek, vervoer en ander koste.

Uintjiebeheer bly steeds ’n uitdaging vir mielieprodusente. Yamato®, in kombinasie met glifosaat 540, kan met groot sukses op klein, aktief groeiende uintjies toegedien word, met baie aanvaarbare beheerresultate.

Onkruidvrye lande is een van die komponente van ’n suksesvolle boerdery.

Betroubare gewasveiligheid
Uitgebreide proewe in Suid-Afrika en verskeie ander lande wys dat Yamato®-tenkmengsels en spruitprogramme met Yamato® wat volgens etiketaanbevelings gekombineer word, uiters betroubaar is wat gewasveiligheid betref. Weens die verskeidenheid groeitoestande in die verskillende streke van ons land en die voorkoms van diverse gras- en breëblaaronkruidsoorte en kombinasies daarvan, beveel Philagro se navorsers tans altesaam 14 moontlike produkkonsepte aan met Yamato® as die ankerproduk. Hierdie kombinasies (wat mesotrioon, atrasien/terbutielasien en glifosaat insluit) is spesifiek ontwikkel vir streke met verskillende klimaatstoestande en sones met spesifieke weerstandbiedende en moeilik beheerbare onkruidsoorte in gedagte. Afhangende van die tipe onkruide en onkruiddruk, kan dit een of selfs twee keer toegedien word.

Yamato® is in die noordelike mielieproduserende streek beskikbaar en kan by AECI Plant Health, Farmers Agricare, Inteligro, AgroCentre en Agronamic aangekoop word.

Vir meer inligting hieroor besoek www.philagro.co.za of skakel Bennie Buys by 082 809 5447.

Yamato® 480 SC (Reg. nr. L10746, Wet nr. 36 van 1947) bevat piroksasulfoon, (pirasool) (480g/L) Waarskuwing. Yamato® is die geregistreerde handelsmerk van Kumiai Chemical Industry Co Ltd, Japan.

LEES DIE ETIKET VOOR GEBRUIK.| WAARSKUWING | Mag skade aan organe veroorsaak deur langdurige of herhaalde blootstelling. Baie giftig vir waterlewende organismes met langdurige gevolge

Bronne:

  1. Eric P. Westra, Dale L. Shaner, Philip H. Westra, & Phillip L. Chapman*. “Dissipation and Leaching of Pyroxasulfone and S-Metolachlor”, Weed Technology 28(1), 72-81, (1 January 2014).