NAMPO 2025 was weer eens die ideale platform waar landboukundiges, produsente en insetverskaffers bymekaargekom het om die nuutste tegnologie en oplossings vir die boerderybedryf te ontdek. Onder die uitblinkers van hierdie jaar se skou was Kynoch, wat nie net met ’n indrukwekkende uitstalling vorendag gekom het nie, maar ook die geleentheid gebruik het om hul nuutste produk, Kynoplus Pro®, aan die Suid-Afrikaanse landboumark bekend te stel.
Hierdie nuwe toevoeging tot hul produkreeks is ontwerp om produsente se stikstofstrategieë te verbeter en boerderye meer winsgewend en volhoubaar te maak.
Waarom Kynoplus Pro?
Ureum is al jare lank een van die mees koste-effektiewe stikstofbronne vir gewasproduksie, maar die groot nadeel bly stikstofverliese deur vervlugtiging. Kynoch het dié uitdaging vierkantig in die oë gekyk en oor die afgelope paar jaar hul bestaande produk, Kynoplus, verder verbeter. Die resultaat is Kynoplus Pro, wat nog meer beskerming teen stikstofverliese bied.
Volgens Hentie Cilliers, Optimizer-landboukundige by Kynoch, is hierdie produk ’n uitkoms vir produsente wat doeltreffend met stikstof wil boer. “Ons weet vervlugtiging bly een van die grootste uitdagings met stikstoftoedienings. Selfs by ’n lae pH, droë grond en ná besproeiing verloor produsente stikstof. Met Kynoplus Pro beperk ons hierdie verliese drasties en verhoog die effektiwiteit van elke kilogram stikstof wat toegedien word.”
Hy sê dat ’n algemene wanopvatting onder produsente is dat die toediening van meer ureum verliese kan verreken, maar navorsing wys dat hoër dosisse eerder vervlugtiging versnel. “Kynoplus Prohelp produsente om met dieselfde of selfs laer stikstofpeile beter
resultate te behaal,” voeg hy by.

Dubbele beskerming, verbeterde werking
Kynoplus Pro is ’n behandelde ureumproduk met Anvol®-tegnologie. Dit is ’n gepatenteerde formulering wat twee aktiewe bestanddele bevat – Duromide en NBPT – wat in sinergie werk om stikstofverliese deur vervlugtiging beduidend te verminder. Waar gewone ureum wel ’n koste-effektiewe stikstofbron is, bly vervlugtiging een van die grootste nadele. Dit lei tot verliese in stikstofbeskikbaarheid en verhoog produksiekoste.
Met Kynoplus Pro word hierdie probleem doeltreffend aangepak. Die produk bevat ’n urease-inhibeerder wat ammoniakvervlugtiging beperk en sodoende stikstof vir langer in die wortelsone beskikbaar hou. Dit verseker beter stikstofopname deur die plant en verbeter uiteindelik die gewasopbrengs.
Proewe wat beide plaaslik en wêreldwyd gedoen is, het bewys dat Kynoplus Pro die opname van stikstof verbeter en dat hierdie voordeel deurslaggewend is in opbrengsoptimalisering. In proewe is getoon dat die produk stikstofverliese met tot 79% verminder – ongeag temperatuur, grondvog of grondbewerking. Selfs besproeiing van 10 mm direk na toediening voorkom nie alle verliese nie, maar Kynoplus Pro verseker ’n merkbare verbetering.
Dit verbeter nie net die effektiwiteit van stikstoftoedienings nie, maar verhoog ook die opbrengspotensiaal van gewasse op ’n koste-effektiewe manier.
Kynoplus Pro is geskik vir enige gewas wat stikstof benodig – van mielies, koring en sonneblom tot weiding en ander spesialiteitsgewasse. Dit bied nie net beter werking en minder stikstofverliese nie, maar het ook ’n langer raklewe as soortgelyke produkte op die mark.

Resultate
Hoewel wêreldwye proewe reeds indrukwekkende resultate gelewer het, is 2025 die eerste kommersiële seisoen waarin Kynoplus Pro beskikbaar is vir Suid-Afrikaanse produsente. Dit plaas Kynoch aan die voorpunt van stikstofbemestingstegnologie en bied produsente die geleentheid om hul stikstofprogram op te gradeer met die nuutste, gepatenteerde tegnologie.
Volgens Kynoch se produkbestuurspan is dit ’n produk wat produsente werklik ’n voordeel gee: hoër stikstofbenutting, minder verliese, verbeterde opbrengste en uiteindelik beter winsgewendheid.
Vir meer inligting oor Kynoplus Pro en hoe dit jou boerdery kan bevoordeel, besoek www.kynoch.co.za.