BEMESTING: slaggate in interpretasies en aanbevelings

Chris Schmidt en Hentie Cilliers, Kynoch
Gepubliseer: 3 Oktober 2024

56

’n Teken van die inligtingsera waarin ons leef, is die feit dat produsente goed ingelig is. In ’n oogwenk word inligting vanaf webtuistes bekom. Dit bring mee dat ’n produsent sommer self ’n paar berekeninge kan maak oor bemesting. Die inligtingsera bevat egter ’n klompie slaggate waarvan gebruikers bewus behoort te wees. Insig in die waarom, hoekom en oorsprong van tabelle en norme is nodig vir veilige interpretasies.

’n Gewilde berekening wat gemaak word wanneer dit kom by mieliebemesting, is dié van peile vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) deur verwyderingsyfers te gebruik en met verwagte opbrengs te vermenigvuldig (mielieverwyderingsyfers in Tabel 1 aangedui).


As voorbeeld kan die benadering vanuit Tabel 1 demonstreer word: die NPK-peile vir mieliegraanverwydering van ’n 5 t/ha-graanopbrengs word bereken deur vyf te vermenigvuldig met 14,8, 3,1 en 4 vir ’n bemestingsbenadering van ongeveer 74 kg N, 15,5 kg P en 20 kg K per hektaar. ’n Meerderheid van berekeninge aanvaar dus dat die hoeveelheid NPK-bemesting dieselfde as graanonttrekking gaan wees; dus ’n 1:1-verwantskap tussen graanverwydering en bemesting aan die grond. Hierdie is ’n “agteruit-boer”-handeling, aangesien (a) die verwydering van voedingselemente na plant­materiaal ook plaasvind en nie slegs na mieliepitte nie; asook (b) dat daar verliese in die grond plaasvind wat agterweë gelaat word. Die netto effek is dat meer voeding onttrek word as wat gedeponeer word. Dit is om hierdie rede dat die N-aanbeve-
lingstabel in Fertasa se Bemestingshandleiding (2016) nie net op opbrengs alleen berus nie, maar gegrond is op totale N-opname en N-lewering by verskillende klei-inhoude (Tabel 2).

Duidelik varieer die voorgestelde N-peile vanuit Tabel 2 vir ’n klei-inhoudreeks tussen 1% en +50%, tussen 123 en 60 kg/ha. Dit verskil betekenisvol van die berekende voorbeeld van 74 kg/ha N (soos bo), wat sal behels dat op kleigrond voldoende N voorsien sou wees, maar heeltemal te min op ’n sanderige grond. Van die 1:1-verhou­ding waarvan vroeër melding gemaak word, is daar tussen die genoemde N-peil-waardes oor klei-inhoud heen slegs sprake by meer klei-tipe gronde, maar geensins by sandgronde nie. Dit stem ooreen met die Mielie-inligtingsgids van die Landbouna-
vorsingsraad (LNR) waarin melding gemaak word van stikstofbehoeftefaktore. In die geval van Tabel 2, is die N-behoeftefaktore in die syfers ingewerk.

In Fertasa se Bemestingshandleiding (2016) word ook aan­dui­dings verskaf oor die hantering van bemestingsnorme vir P en K. Produsente word versoek om met kundiges te skakel en erkende publikasies te raadpleeg oor bemestingsnorme. Dit bly egter belang­rik om voedingsvlakke in die grond deur erkende ekstraksies te laat bepaal en in ag te neem gedurende bemestingsberekeninge.

Bronne

  1. Fertasa. 2016. Bemestingshandleiding.
  2. LNR-Instituut vir Graangewasse. Mielie-inligtingsgids. Potchefstroom.