Mikorisa speel ’n sleutelrol in die grondekosisteem

Gepubliseer: 1 September 2024

178

Grondgesondheid word gedefinieer as die vermoë van grond om ’n lewensvatbare ekosisteem te onderhou wat bevorderlik vir hoë produktiwiteit en omgewingsgehalte is. Dit word bepaal deur 1) fisiese grondeienskappe; 2) chemiese faktore; en 3) biologiese prosesse. Die gebruik van toepas­like produkte, gebruike en metodes is gereedskap wat lei tot die vor­ming van ’n suksesvolle grondgesondheidstrategie wat jare kan neem om ten volle te ontwikkel en implementeer te word.

Biologiese prosesse is ’n sleutelfaktor wat tot grondgesondheid bydra – mikroörganismes kan tot en met 90% van alle biogeologiese prosesse in grond fasiliteer. Verskeie grondverwante funksies word deur mikroörganismes ondersteun, insluitend nutriëntverwerking en -retensie, die afbreek van afvalstowwe, siekte-onderdrukking asook die ontbinding en stabilisering van grondaggregate.

Mikorisa
Vele tipes mikroörganismes dra tot grondgesondheid by. Mikorisa speel ’n sleutelrol in die grondekosisteem omdat dit al drie komponente van die grondgesondheiddefinisie kan beïnvloed:

  1. Mikorisa vervaardig ’n glukoproteïen genaamd glomalien wat gronddeeltjies aggregeer en verbetering in grondstruktuur tot gevolg kan hê.
  2. Dit kan toegang tot potensiële nutriënte, wat buite die bereik van die fisiese wortelsisteem is, aan plante bied.
  3. Mikorisa asook ander voordelige grondmikrobes dra by tot die algehele biodiversiteit van die grond met voordele vir plant- en grondgesondheid. Sekere spesies van voordelige grondbakterieë word as “mikorisa-helpers” beskou en kan voordele soos sporulering, groei van miselium, vestiging op wortelstrukture en vermindering in omgewingstres tot gevolg hê.

Mikorisa kan as voordelige grondmikrobes beskryf word en het ’n simbiotiese verhouding met gasheerplante deur middel van die wortelsisteem. Gasheerplante verskaf koolstofryke nutriënte aan die swam terwyl water en nutriënte aan die plant teruggegee word. Mikorisa vervul ’n ondersteunende rol by gasheerplante wanneer abiotiese stresfaktore ervaar word.

Twee hooftipes mikorisa kan geklassifiseer word. Dit word bepaal deur die gedeelte waar die swam se hifesnetwerk voorkom in vergelyking tot die plant se wortelsisteem.

  1. Endomikorisa: Die algemeenste voorbeeld is arbuskulêre miko­risa. Die swam se hifes verleng binne die korteksselle van wortels en vorm stoororgane. Hierdie tipe mikorisa assosieer met die meeste plantspesies op aarde.
  2. Ektomikorisa: Hierdie tipe mikorisa vorm ’n dik laag hifes (miselium) wat die oppervlakte van die wortelsisteem bedek. Dit assosieer oor die algemeen met houtagtige plante.

Philagro SA bied toegang tot MycoApply EndoMaxx®, ’n multispesie- arbuskulêre mikorisaseleksie in ’n benatbare poeierformulering afkomstig vanaf Mycorrhizal Applications LLC in die Verenigde State van Amerika. Dit is in Suid-Afrika geregistreer vir gebruik op somergrane, peulgewasse, sonneblomme en aartappels. MycoApply EndoMaxx word tydens plant aangewend om bemarkbare opbrengste en grondgesondheid te ondersteun.

Die produk bevat Rhizophagus irregularis, Claroideoglomus luteum, Claroideoglomus claroideum en Claroideoglomus etunicatum. Elke spesie bring sy eie genetiese vermoë na die produk. MycoApply EndoMaxx kan prakties saam met verskeie tipes produkte gebruik word, insluitend sekere tipes konvensionele chemie, biostimulante en biokunsmisstowwe. Raadpleeg Philagro SA vir meer inligting oor die verenigbaarheid en mengbaarheid van die produk.

Vir meer inligting rakende MycoApply EndoMaxx, kontak jou naaste Philagro-verteenwoordiger. Raadpleeg die produketiket vir volledige gebruiksaanwysings en beperkings.

EndoMaxx® (Reg. nr. M200, Wet nr. 36 van 1947), bevat Arbuscular Mycorrhizal Fungi (Rhizophagus irregularis (5 625 propagules/g), Claroideoglomus luteum (5 625 propagules/g), Claroideoglomus claroideum (5 625 propagules/g), Claroideoglomus etunicatum (5 625 propagules/g). EndoMaxx® is ’n geregi­streerde handelsmerk van Mycorrhizal Applications LLC, Grants Pass, OR, VSA.

Bronne

  1. Awale, R, Machado, S, Ghimire, R & Bista, P. 2017. Soil health. In: G. Yorgey and C. Kruger, ed. 2017. Advances in Dryland Farming in the Inland Pacific Northwest. Washington: Washington State University, 47 – 98.
  2. Dunn, B, Leckie, R & Singh, H. 2017. Mycorrhizal fungihttps://extension.okstate.edu/fact-sheets/print-publications/hla/mycorrhizal-fungi-hla-6449.pdf Date of access: 12 May 2021.
  3. Frey-Klett, P, Garbaye, J & Tarkka, M. 2007. The mycorrhiza helper bacteria revisited. New Pathologist, 176:22 – 36.
  4. Kokkorisid, V, Hamel, C & Hart, MM. 2019. Mycorrhizal response in crop versus wild plants. PLoS ONE, 14(8):1 – 16.

MycoApply EndoMaxx® word tydens plant aangewend om bemarkbare opbrengste en grondgesondheid te ondersteun.