Deurbraak vir Pannar in hul witbasterreeks op watertafelgronde

Jurgen van Onselen, Kolbe Media
Gepubliseer: 5 Junie 2024

116

Panagri®, Pannar se praktiese boerderynavorsingsinisiatief, was een van die fokuspunte vir dié maatskappy gedurende vanjaar se NAMPO Oesdag. Die inisiatief poog om gewasproduksie met praktiese aanbevelings te optimaliseer vir al die dissiplines wat sleutelrolle in progressiewe gewasproduksie speel, soos bemestingspraktyke, kultivar­seleksie, optimale plantpopulasie, wisselbou, bewerking en gebruik van landbouchemikalieë.

In die Noordwes-provinsie en Noordwes-Vrystaat is daar ’n hoëpotensiaal-“mielievierhoek” waar gronde ’n ondeurdringbare laag het wat die vinnige dreinering van grondwater beperk. Pannar doen Panagri-proewe op strategiese plekke in die Vrystaat en Noordwes om kultivar­prestasie by vier verskillende plantpopulasies en veranderlike kunsmistoedieningshoeveelhede te evalueer. Die proefpersele is groot genoeg om produsente se produksietoestande en bestuurs­praktyke te herhaal. Voorlopige bevindinge dui daarop dat Pannar ’n geweldige deurbraak in hul witbasterreeks behaal het.

Die produsente Jacques Botha (Potchefstroom), Johan Cronjé (Bultfontein), Phillip Botha (Potchefstroom) en Izak Cronjé (Bultfontein) verbou verskeie Pannar kultivars.
Pannar se uitstalling by NAMPO vanjaar. Die uitstalling is sentraal geleë op die terrein en het weer hope aandag getrek.
Alhoewel Dolf en Adolph Naude van Noordwes tans PAN 5R-891BR plant, kyk hulle hier na PAN 5R-523R (nuut). Hierdie is nuwegenerasie-genetika met ’n regop planttipe wat die stroopproses vergemaklik. Dit het ’n hoë opbrengspotensiaal op die watertafelgronde van die Noordwes-Vrystaat en is ook goed aangepas vir die Noordwes-produksiegebied.
Christin Hunter (nasionale bemarkingsbestuurder, Pannar), Jaco Minnaar (Agri SA-president en produsent van Hennenman) en John Odendaal (besigheidsbestuurder van Pannar).
Tiaan en Jan Botes van Reivilo saam met Klaas van Wyk (landbou­kundige in die Noord-Kaap, Pannar).
Louis en Theo Buys van Benoni gesels met Le Roux Breytenbach (verteenwoordiger, Pannar). Agter hulle is nog een van Pannar se nuwe kultivars, naamlik PAN 5P-947PW (met PowerCore-tegnologie). Hierdie kultivar in die medium-vinnige groeiklas het goeie stabiliteit en is goed aangepas op die sanderige gronde van die Noordwes-Vrystaat en die westelike produksiegebiede.
Stefan en Benjamin Hendriks van Hertzogville saam met Le Roux Breytenbach (verteenwoordiger in die Wes-Vrystaat, Pannar) by PAN 5R-539R (nuut). Hierdie nuwe baster het uitstekende staanvermoë en is meerkoppig met ’n semivaste kop (f lex ear). Dit word sterk aanbeveel as deel van ’n witmieliepakket in die westelike produksiegebiede.