KOMPETISIEREËLS

  1. Inskrywings moet die tema #LiefBoerdery uitbeeld.
  2. Slegs amateurfotograwe (dit wil sê persone wat nie ’n bestaan maak uit die neem van foto’s nie) mag vir die kompetisie inskryf.
  3. Die fotograaf moet ’n fotobyskrif, asook sy posadres en telefoonnommer/s, saam met die foto verskaf.
  4. Persone op die foto moet geïdentifiseer word (verskaf noemnaam en van).
  5. Slegs e-posinskrywings sal aanvaar word. Die foto’s mag nie kleiner as 1 MB of groter as 10 MB elk wees nie – in JPG-formaat.
  6. Foto’s wat ingeskryf word, moet uniek wees en nie oor dieselfde onderwerp handel as foto’s wat vir ’n ander fotokompetisie ingeskryf is nie. Foto’s wat ingeskryf word, mag ook nie voorheen gepubliseer wees nie.
  7. Gemanipuleerde foto’s sal nie aanvaar word nie. Onaanvaarbare manipulasie van foto’s behels in wese die byvoeging van visuele elemente wat aanvanklik nie in die foto was nie (byvoorbeeld wolke of plantegroei), asook die uithaal van beeldelemente wat die konteks of tema van die foto verander (byvoorbeeld ’n onooglike en substantiewe beeldelement iewers in die foto). Aanvaarbare manipulasie behels die volgende: Die verandering van die foto se oorspronklike dimensies (cropping – gegewe dat dit nie die konteks of onderwerp verander nie), verstellings aan onderbeligte of oorbeligte dele (exposure adjustments) en verstellings aan die kleurtempe­ratuur (die algemene kleurtint van die foto – colour temperature correction). Indien twyfel ontstaan oor die mate van manipulasie, mag die beoordelaars versoek dat die oorspronklike, ongemanipuleerde foto beskikbaar gestel word.
  8. Deelnemers kan ’n maksimum van drie foto’s (waarvan die onderwerpe verskil) per uitgawe inskryf. Indien meer as drie foto’s ingestuur word, sal die eerste drie foto’s wat ontvang word, vir die kompetisie in aanmerking geneem word.
  9. ’n Deelnemer wat ’n maandwenner is, mag vir die daaropvolgende drie uitgawes nie inskryf nie.
  10. Fotograwe kan elke maand tot en met die afsnytyd hul foto’s instuur. Inskrywings wat ná die afsnytyd ontvang word, sal vir die volgende maand se kompetisie in aanmerking kom.
  11. Graan SA behou die reg voor om foto’s wat onduidelik is of nie aan die kompetisiereëls voldoen nie, af te keur.
  12. ’n Paneel, wat bestaan uit twee professionele fotograwe asook verteenwoordigers van
    SA Graan/Grain en Sasol, sal die foto’s maandeliks beoordeel.
  13. Alle inskrywings word die eiendom van Graan SA. Die foto’s sal in ’n databank gebêre word en Graan SA en Sasol mag dit vir toekomstige promosie-, bemarkings- en publikasiedoeleindes gebruik. Deur in te skryf, stem die deelnemer in daartoe en geen eise van derde partye vir skending van kopiereg kan ingedien word nie.
  14. Werknemers van Sasol, Graan SA of Infoworks mag nie vir die kompetisie inskryf nie.