Uitspraak oorwinning vir billike vergoeding

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

1302

Agri SA het in ’n mediaverklaring daarop gewys dat dit verheug is oor die onlangse uitspraak van die grondeisehof, wat bevestig dat beide die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming asook die Waardeerder-generaal nie die jurisdiksie van die howe in verband met die vergoeding van grond kan ignoreer nie.

Regter AJ Canca se uitspraak in die geval van die Emakhasaneni-gemeenskap, stel ’n presedent wat die toesig van die howe ten opsigte van die vergoeding van grond handhaaf. Dit beperk ook die rol van die Waardeerder-generaal in die bepaling van die bedrag van die vergoeding waarop grondeienaars geregtig is.

Dié saak het ’n baie lang geskiedenis en behels verskeie plase in die Melmoth-distrik in KwaZulu-Natal. Die waardeerders wat die grondeienaars en die staat verteenwoordig het, het voorheen ooreengekom oor wat hulle as billike vergoeding beskou het. Die Waardeerder-generaal het egter later betrokke geraak en die grondeienaars slegs ongeveer 50% van die oorspronklike bedrag waarop die waardeerders ooreengekom het, aangebied.

Daar is standpunt deur die staat ingeneem dat die grondeienaars verplig was om hul eiendomme af te staan teen die bedrae wat deur die Waardeerder-generaal vasgestel is. Die minister het aangevoer dat sy verbind was tot die aanbod van die Waardeerder-generaal. Daarbenewens het die staat ook die standpunt ingeneem dat die hof nie jurisdiksie oor die kwessie van vergoeding het nie.

Regter Canca het egter bevind dat die Wet op Eiendomswaardering nie die jurisdiksie van die howe kan uitsluit in die beoordeling van kwessies ten opsigte van vergoeding nie. Hy het ook bevind dat die wet die minister nie verhoed het om vergoeding te betaal wat die waarde van die Waardeerder-generaal oorskry nie. Hy het bevind dat die waardasieriglyne wat deur die regulasies voorgeskryf word tot waardasies kan lei wat baie laer is as billike vergoeding soos bepaal ingevolge Artikel 25 (3) van die Grondwet. Die hof is ook nie gebonde aan die waardes wat deur die Waardeerder-generaal bepaal is nie. Koste is verder ten gunste van die grondeienaars toegeken.

“Die implikasies van hierdie uitspraak is groot omdat dit die bullebaktaktiek wat gebruik word in sy spore stuit,” sê me Annelize Crosby (beleidshoof: Grond, Agri SA). “Die oppergesag van die reg en die reg op billike vergoeding is bevestig.”