Terugvoer oor die liggingsdifferensiaalondersoek

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

1229

Die liggingsdifferensiaal is sedert die vestiging van die termynmark ’n uitdaging vir produsente. Na verskeie onderhandelings tussen Graan SA en die JSE, het die JSE ’n onafhanklike ondersoek laat doen om opnuut die effektiwiteit van die stelsel te evalueer, gegewe Suid-Afrika se unieke mark.

Graanprodusente wou veral weet of die mark nie nou al volwasse genoeg is om sonder ’n differensiaal te funksioneer nie.

Die verslag wat deur prof Matt Roberts van die VSA saamgestel is, is op Vrydag 24 Mei 2019 deur die JSE aan die mark vrygestel vir kommentaar. Graan SA is besig om die verslag in diepte te bestudeer en sal ook behoorlik deur die gevestigde strukture met lede daaroor konsulteer.

Met die aanvanklike deurlees van die verslag is daar maar weinig te sien oor die werking van die koringmark, behalwe dat prof Roberts die groot konsentrasie aan die koperskant weer as problematies uitwys. Die verslag bevat ook ’n siening dat die sojaboonmark volgens hom nie goed funksioneer nie.

Produsente gaan moet fyn lees wat die verslag te sê het oor die werking, al dan nie, van basispremies. Dit wil op die oog af lyk asof al die aspekte wat Graan SA as probleme uitgewys het, nie volledig aangeraak is nie. Soos aangedui in die marknota van die JSE, is dit egter slegs aanbevelings en is daar ’n kommentaartydperk van ’n maand.

Die aanbevelings en kommentaar sal dan aan die JSE se Advieskomitee voorgelê word. Die finale besluit berus egter by die JSE se Uitvoerende Komitee.

Daar is wel voorstelle in die verslag wat die fisiese mark meer effektief kan maak. Graan SA sal die implementering van die voorstelle ondersoek en ondersteun waar dit tot verbetering van die vrye mark sal lei. Ongeag die finale uitslag van die verslag, sal Graan SA voortgaan om te fokus op die effektiwiteit en die bevordering van ’n vryemarkstelsel binne die fisiese mark.

Die liggingsdifferensiaal is en bly ’n kontroversiële onderwerp. Graan SA versoek alle rolspelers om nie net in eie belang met die aanbevelings om te gaan nie, aangesien die volhoubaarheid van die hele graanwaardeketting onder druk is.