Só lyk saadpryse vir die nuwe somer­graanseisoen

2511
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za
Ikageng Maluleke
Junior ekonoom, Graan SA,
ikageng@grainsa.co.za

Naas kunsmis, is saad ’n somergraanprodusent se grootste insetkoste. Saadpryse is beslis die koste waaroor graanprodusente tans die meeste kla.

Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep het vroeër vanjaar weer met verskeie saadmaatskappye oor Graan SA-lede se kommer oor stygende saadpryse vergader. Daar is tydens hierdie besprekings klem gelê op die weerstand teen stygende saadpryse wat al meer ervaar word.

Afhangende van die plantestand, maak saad as produksie-inset tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Gegewe uitstekende navorsing in genetika en tegnologie, bly saad een van die belangrikste insette om opbrengste en produktiwiteit in die graanbedryf te verhoog. Dit is daarom uiters belangrik dat produsente die regte kultivars kies, prys en opbrengspotensiaal teen mekaar opweeg sowel as risikoverspreiding doen. Produksiewinsgewendheid teenoor die hoogste opbrengs moet ook hier opgeweeg word.

Teling-en-tegnologieheffing
Wat sojabone betref, het die teling-en-tegnologieheffing op 1 Maart vanjaar in werking getree. Produsente wat die afgelope seisoen sojaboonsaad aangekoop het, behoort ’n tipe terugbetaling hiervoor te verwag, aangesien daar met die nuwe aankope ’n tegnologiefooi betaalbaar was en ook weer toe produsente hul graan verkoop het. Graan SA het met saadmaatskappye hieroor gekommunikeer. Verder word verwag dat die teling-en-tegnologieheffing binnekort vir produsente toegang sal gee tot nuwe kultivars asook nuwe tegnologie. Kompetisie tussen maatskappye behoort ook pryskompetisie in die mark te verbeter. Sojaboonsaadpryse het vir die eerste keer op ‘n gemiddelde basis gedaal. Die meeste maatskappye het hul pryse dieselfde gehou, terwyl een hul pryse met 30% verlaag het.

Algemene wenke
Kultivars verskil van mekaar ten opsigte van een of meer van ’n verskeidenheid eienskappe en elkeen het ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Graangewasse stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word.

Die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groei­seisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2019/2020-produksieseisoen gemiddeld met 4,5% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 4,3% gestyg en graansorghumsaadpryse met 2,5%. Sojaboonsaadpryse het met 1,9% gedaal. ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2019 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 5%. Dit wil sê saadpryse het op ’n gemiddelde basis nie die produksiekoste-inflasie oorskry nie.

Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings tussen die verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ’n aantal faktore waarop produsente ag moet slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 15 kg-, 18 kg-, 20 kg- en 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sakkie beskikbaar en by sojabone kry ’n mens 140 000 pitte per sakkie.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Maak seker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar neem nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-Graangewasse se 2019 Mielie-inligtingsgids (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook aan wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van eenvormige pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi op die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir korting waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die ontkieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: Óf ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugs­area. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie en dat ten minste twee buite­grense van die Bt-aanplanting gedek word. Die toevlugsarea mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word moet ook dieselfde groeilengte as die Bt-mielies hê en dit moet binne sewe dae van mekaar geplant word.