Neem die eerste tree in die regte rigting

1746
Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

NAMPO 2019 is op sy rug en was dit nie wonderlike weer en samesyn nie? Daar het die Maandag voor NAMPO so vinnig ’n gedagtetjie by my opgekom van: “Sê nou niemand kom nie?!” – ons en die uitstallers sit almal ons beste voetjie voor en dan daag niemand op nie…

Wel, Dinsdagoggend vroeg toe die skandeerders begin werk, het die grafieke op ons fone aangedui dat die Kaap Hollands is. Ek kry maar min kans om regtig op die terrein rond te loop, aangesien ek meestal met afsprake besig is. Ek pas ’n hele jaar se afsprake in ’n week in! Dit is aangenaam om al die belangrike rolspelers daar te sien en met die gemoedelike atmosfeer vlot die gesprekke sommer maklik. Die planne vir die jaar word gemaak en geld en tyd van mense word agter die planne gesit om oplossings te bewerk.

Ek dink nie daar is onsekerheid oor wat Graan SA te doen staan nie: Die graanprodusente kry swaar. Ons marges is nie volhoubaar nie. Elke gesprek gaan oor wat ons kan doen om weer die bedryf winsgewend te kry. Hierdie is nie sommer net ’n gewone gekla van produsente nie, nee: Dit is ’n oproep om hulp.

Party roep hard en ander ongeduldig (so asof ons die reën beheer). Dan is daar dié wat hoed in die hand nederig vir hulp vra. Dis eina om hierdie stories te hoor en dit beweeg ’n mens om iets daaraan te wil doen. Die dae van wie die hardste skreeu, word die meeste gehoor, is lankal verby. Een van die gesprekke tydens NAMPO was met die JSE oor prof Matt Roberts se verslag oor die liggingsdifferensiaal. Ten skrywe hiervan was dit nog nie gepubliseer nie. Die aanhoudende uitstel help ook glad nie om gemoedere te kalmeer nie.

Een van die kommentare na die verkiesing was dat die bevolking nou nog verder van mekaar verwyder is, met dié dat daar groei in die linkse en regse partye was. Dit is nou net soos by georganiseerde landbou. Die linkses en die regses neem albei ’n tree of twee weg van die middel. Oom George Bizos het altyd vir Louw Steytler gesê as ons hom oor grondhervorming geraadpleeg het: “The centre will hold!” Hou aan om die regte dinge te doen.

Nou ja, dit is vir ons in die middel wat nou minder is om vas te staan en die pad aan te wys.

Kom ons hou duim vas dat ons president genoegsame steun in die middel van sy party sal vind om die pad vorentoe reguit aan te dui en nie met draaie soos sommige van sy voorgangers nie. Een van die uitkomste van al die NAMPO-gesprekke was juis dat redelike mense wat die toekoms van landbou op die hart dra, besig is om mekaar te vind.

Tydens een van die Nasie in Gesprek-debatte waaraan ek deelgeneem het, het ek op die analogie van ’n brug afgekom – ’n brug wat deur ’n woeste storm vernietig is. Nou moet die staat en die private sektor begin om van verskillende kante af die landboubrug te herbou. As ons dit nie van die begin af reg belyn nie, gaan dit dubbeld die tyd en geld kos. Dit is presies wat met die vyfjaarlandbouplan in die vooruitsig gestel word.

Die brug van vertroue gaan waarskynlik wankelrig begin, maar dit is wat brawe leiers doen: Neem die eerste tree in die regte rigting. Ons vertroue in mekaar se motiewe en vermoëns gaan dit al ver bring sodat ons uiteindelik almal heen en weer oor die brug kan loop om vir die nasie, en ook ander, van kos te voorsien.

Dit is regtig hoërisiko-, maar opwindende tye wat voorlê. Dankie vir jou vertroue in Graan SA om te help bou aan die brug dat dit vir almal volhoubaar kan wees.