NAMPO Kaap skud vere reg vir September

Jan Greyling, SA Graan/Grain medewerker

1763

Die Wes-Kaapse landboulandskap is nou maar eenmaal uniek. In September vanjaar bied die tweede NAMPO Kaap op Bredasdorp Park in die Overberg weer eens ’n blik op die verskeidenheid van dié provinsie se boerdery- en landboubesigheid.

Vanaf Woensdag 4 September tot Vrydag 6 September sal daar vir produsente en besoekers leersame en bruikbare uitstallings, debatte, praatjies en demonstrasies by NAMPO Kaap wees.

Wil jy meer weet oor die jongste presisiesagteware of tendense rakende aangeplante of natuurlike weiding vir groot- of kleinvee? Dalk interesseer die nuutste aanbevole koring-, hawer-, gars-, rog- of kanolakultivars jou óf dalk soek jy raad oor nuwe trekkers, werktuie of implemente? Miskien is jou belangstelling in besproeiing, bakkies, finansiering, versekering, smeermiddels of om na kundiges se mening oor aktuele boerderykwessies te luister…dan is NAMPO Kaap 2019 vir jou.

Produsente is welkom
NAMPO Kaap nooi produsente, landboubesighede, sleutelrolspelers en belanghebbendes op alle terreine in die landbouwaardeketting om ’n groot verskeidenheid handgeselekteerde uitstallings en demonstrasies van toerusting, proewe, produkte en dienste te kom geniet.

Vir graanprodusente sal daar, bo en behalwe die Nasie in Gesprek-besprekings, ’n wye reeks navorsingsproewe wees om te besigtig. Produsente kan op demonstrasiepersele, waar verskeie maatskappye besoek kan word, meer uitvind oor saad, natuurlike boerdery, bemesting en plaagbestuur. Die Universiteit van Stellenbosch, Omnia en die Wes-Kaapse Departement van Landbou is onder meer daar betrokke.

Aanplantings is reeds volstoom aan die gang. Op die akkerboupersele sal gewasdemonstrasies, bewerkingspraktyke, dekgewasmengsels en kultivarnavorsing deur onder meer Sensako en Sabbi te siene wees.

Vir kleinboere sal die fokus op wolproduksie val in samewerking met die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). Wetenskaplike boerderymetodes sal behandel word, met spesifieke fokus op teelbeleid, die vertolking van wolstate en raad vir die ekonomiese verbetering van wolskeersels.

Veekomponent bly kernbelangrik
Kudde-evaluering van kleinboere se vee sal gedoen word. Van die geselekteerde diere sal dan ook deel wees van die jeuglandbou­ekspo, wat vanjaar die eerste keer by NAMPO Kaap plaasvind. In belang van groei en prestasiebeoordeling in die bedryf word daar ook ’n Merino-skoubeoordelaarskursus vir kleinboere aangebied.

Veeprodusente kan met verwagting uitsien na NAMPO Kaap 2019 se Jersey-skou. Deelnemers vanuit die Groter Overberg en ander suiwelproduksiestreke in die Wes-Kaap berei diere voor vir dié tentoonstelling. Vir kleinveeprodusente is vanjaar se wolproduksie­skou verseker ook ’n hoogtepunt om na uit te sien.

Die rasbekendstelling, stoetveeuitstallings, veeverskaffers en die jeug- en Jersey-skou gaan in die Voermol-saal plaasvind.

Uitstallers hoor in Julie
Volgens mnr Henk Aggenbach (voorsitter van NAMPO Kaap se reëlingskomitee) word landboumasjinerie-uitstallings en die uitstallers in die BKB Sentrum en die Total-saal volgens kriteria wat by die keuringsformule ingesluit is, aanvaar.

“Ons sorg graag dat daar van alle soorte en vorms van produkte en dienste iemand of iets by NAMPO Kaap is, sonder om te veel van die een of te min van die ander te aanvaar. Besoekers en uitstallers kan weet dat die uitstallers nie noodwendig weer dieselfde as verlede jaar sal wees nie,” het hy gesê.

’n Lys van goedgekeurde uitstallers sal vanaf begin Julie op die NAMPO Kaap-webtuiste by www.expo.org.za beskikbaar wees.

Die jeug is ons toekoms
In aansluiting by die jeuglandbouskou vind die jaarlikse WP-jeugskou ook tydens NAMPO Kaap plaas. Die jongklomp se liefde vir die landbou en die plaaslewe sal verder geprikkel word deur ’n buitengewone perdrydemonstrasievertoning deur die gestremde kinders wat gereeld op Bredasdorp Park, onder die wakende oog van me Mariska Marais van Pony Pals, rehabiliterende perdryritte geniet. ’n Walliese ponieperdvertoning word ook vanjaar deurlopend by die arenaprogram ingesluit.

Blommeskou en toerismekongres
’n Vergrote Nedbank NAMPO Kaap-blommeskou sal vanjaar in die Voermol Lewendehawesentrum op Bredasdorp Park besoek kan word. Dit sluit ’n omvangryke verskeidenheid blomme van die fynbos- en veldblomfamilies in. Besoekers sal ook vars blomme kan koop. Verder gaan die Kaap Agulhas Munisipaliteit ’n toerismekongres tydens NAMPO Kaap 2019 aanbied.

Die parkuitleg op Bredasdorp is hersien om meer uitstalstandplase moontlik te maak.

Dit sluit onder meer die sloping van die ou 4×4-area en die bou van ’n nuwe, volwaardige 4×4-baan in. Die oprigting, kompaktering en inrig van die nuwe baan langs die kweekhuistonnels vorder goed. Die fasiliteit word nie aan ’n spesifieke vervaardiger toegeken nie. Uiteindelik sal die baan standaard- en aangepaste voertuie behoorlik kan beproef.

Bouwerk aan die BKB Sentrum se nuwe, permanente onthaal- en groet-en-ontmoet-lokaal in die bestaande gebou, met bykomende badkamergeriewe asook ’n verdubbeling van toiletgriewe op die terrein, vorder goed.

Soos berig gee NAMPO Kaap nougeset aandag aan die verwagte groter verkeersvloei rondom die park. Die parkeerterreine word met 2 ha vergroot en twee nuwe betaalpunthekke word ook vir NAMPO Kaap 2019 by Bredasdorp Park ingerig.

Vir noodsaaklike vroeë verblyfbesprekings, skakel vir Wilhelm Wessels by 076 609 9960 of Susan Wessels by 083 283 5445. E-pos hulle by wilhelm@trissco.co.za vir akkommodasie in en om Bredasdorp, Napier, Struisbaai, Waenhuiskrans en L’Agulhas asook Swellendam, Caledon, Stanford en Hermanus.

Vir inligting oor NAMPO Kaap 2019 en besprekings besoek www.expo.org.za. Skakel 028 050 1385 of 072 905 5111 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za.