Landbouchemiese prys­tendense onder die loep… Hoe het dit jou geraak?

1357
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za

In die Wes-Kaap kan landbouchemikalieë tussen 16% en 20% van ’n koringprodusent se lopende produksiekosterekening uitmaak, terwyl dit in sekere dele van die somergewasproduserende dele minder as 5% uitmaak. Produksiepraktyke soos geenbewerking asook die probleem van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap veroorsaak dat koste aan landbouchemikalieë uitermatig styg.

Monitering van pryse
Deurlopende monitering van insetpryse is noodsaaklik om seker te maak die regte prys word vir die regte kwaliteit betaal. Plaaslike graan- en oliesadeprodusente betaal reeds invoerpariteit vir die meeste van hul insette, wat dit moeilik maak om met internasionale eweknieë te kompeteer.

Hoe groter die koste aan landbouchemikalieë, hoe belangriker is dit dat produsente die regte prys daarvoor betaal. Suid-Afrika voer basies 100% van sy landbouchemiese behoeftes in, daarom speel internasionale pryse en die wisselkoers ’n bepalende rol in die samestelling van plaaslike pryse. Hoe die finale produk vanaf invoer tot by die eindverbruiker of produsent beweeg, speel ook ’n belangrike rol. Soms voel dit vir produsente of hierdie ketting effe lank is.

In hierdie artikel word tendense in internasionale landbouchemiese pryse uitgewys en ook met gemiddelde plaaslike chemiepryse vergelyk. Dit is uiters moeilik om deurlopend inligting oor prystendense in die plaaslike mark te kry. Ons vra graag dat produsente hul tendense hiermee vergelyk en dan terugvoer gee aan Graan SA.

Internasionale landbou­chemiese pryse
Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ’n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ’n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse aandui, maar omgeskakel in randwaarde. Uit die tabel kan gesien word dat die pryse van alle onkruiddoders, behalwe trifluralien, in dollarwaarde gedaal het. Die pryse in randwaarde het egter meestal gestyg as gevolg van die skerp verswakking van die wisselkoers oor die jaartydperk.

Tabel 2 gee internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor ’n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse in randwaarde aandui. Alhoewel die meeste van die pryse in dollarwaarde ’n daling toon, het die aktiewe bestanddele lambda-sihalotrien en karbofuraan skerp toegeneem in prys. As gevolg van die verswakking van die rand, styg alle aktiewe bestanddele in randterme egter oor ’n jaartydperk.

Plaaslike versus internasionale tendense
Grafiek 1 toon hoe die Chinese prys van glifosaat in randterme toegeneem het – 135% oor ’n negejaarperiode!

Dit blyk darem dat plaaslike pryse oor ’n jaartydperk nie tot dieselfde mate as die pryse in China gestyg het nie. ’n Opname onder plaaslike multinasionale maatskappye wys dat landbouchemiese pryse sywaarts beweeg oor ’n jaartydperk, terwyl pryse onder maatskappye wat generiese produkte verkoop, ongeveer 15% op ’n gemiddelde basis toegeneem het.

Met hierdie tipe inligting probeer ons die chemiese mark meer deursigtig maak vir Graan SA-lede. Dit sal interessant wees om van ons lede te hoor wat hulle tans vir landbouchemiese middels betaal in vergelyking met verlede jaar dieselfde tyd, gegewe die bostaande tendense.

Stuur gerus ’n e-pos na corne@grainsa.co.za.