Behoeftegedrewe navorsing

Estie de Villiers, redakteur, SA Graan/Grain

1319

In Graan SA se omgang met produsente is daar gereelde belangstelling oor navorsing deur landboustudente – veral omdat hierdie navorsingsprojekte dikwels deur die onderskeie graantrusts befonds word. Is hierdie navorsing behoeftegedrewe en relevant vir die bedryf?

SA Graan/Grain het by die Universiteit van die Vrystaat aangeklop om te hoor met watter interessante en graangebaseerde navorsingsprojekte hulle tans besig is. Hier volg ’n opsomming van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se onderskeie departemente se navorsingsprojekte.

Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde
Dié departement is tans besig met verskeie projekte wat onder meer fokus op die evaluering van die volgende:

  • Stoor- en gebruikspraktyke van mieliesifsels.
  • Nasionale kuilvoerkwaliteit met die doel om kuilvoerkwaliteit sowel as inkuilingspraktyke te verbeter.
  • Kwaliteit van graan- en oliesaadbyprodukte as veevoer en die ontwikkeling van ’n evaluering/graderingsmodel vir byprodukte.
  • GMO-graan as veevoer. Word veeproduksie beïnvloed deur die GMO-status van graan?

Departement Plantwetenskappe
Sclerotinia

  • Suid-Afrikaanse Sclerotinia Navorsingsnetwerk (SASRN):
    • Gemeenskap van praktyk: SASRN is ’n virtuele gemeenskap van praktyk wat as ’n platform vir navorsers dien. Die doel van SASRN is om samewerking te skep, parallelle en omvattende navorsing moontlik te maak en as katalisator te dien vir die ontwikkeling van toegepaste intervensietegnologieë vir produsente.
    • Navorsingskonsortium: Die projek is daarop gemik om veranderlikes wat geassosieer word met die epidemiese ontwikkeling van Sclerotinia in sojabone en sonneblom te identifiseer, met inagneming van veelvuldige bestuursaspekte.

Mielies

  • ’n Telingstrategie vir weerstand teen herfskommandowurm in mielies.
  • Teling vir verhoogde sinkinhoud in mielies in Suider-Afrika.
  • Die uitdrukking, oorerwing en biobeskikbaarheid van yster en sink in Suid-Afrikaanse mielielyne en hulle basters.
  • Bepaling van ’n moontlike negatiewe genetiese assosiasie van opbrengs en die gene wat verhoogde lisien en triptofaan veroorsaak in quality protein maize (QPM).

Koring

  • Die invloed van hitte- en droogtestremming op glutenproteïen in brood- en durumkoring en hoe dit kwaliteit beïnvloed.
  • Die uitdrukking en effek van die wheat breadmaking- (wbm-) geen in Suid-Afrikaanse broodkoringkultivars.
  • Die ondersoek van nuwe roesbestande bronne in koring.
  • Evaluering van koringkultivars en -lyne vir genetiese weerstand teen roessiektes.
  • Introgressie met behulp van merkers van sekere roesbestande gene sowel as Fusarium-kopvrotweerstand in Suid-Afrikaanse koringkultivars.

Sojabone

  • Droogtetoleransie-evaluering in sojabone.
  • Teling vir oopspringweerstand in sojabone.
  • Bepaling van opbrengs en voedingswaarde in grootsadige, groentetipe sojabone (edamame).
  • Genotipiese en fenotipiese sifting van sojabone om potensiële bronne van weerstand teen die destruktiewe patogeen, Sclerotinia sclerotiorum, te identifiseer.
  • Die effek van onkruiddoders op die simbiotiese verhouding tussen mikroörganismes en die sojaboonplant.
  • Die risosfeermikrobioom van sojabone na die toediening van salisielsuur en die relevansie daarvan vir plantgesondheid.

Sorghum

  • Sorghumblaarsiektes en graanskimmel word ondersoek.
  • Die invloed van allelopatie op risosfeerinteraksies by sorghumkultivars: Implikasies vir opbrengs en die voorkoms van wortelsiektes.

Die betrokke departement is ook besig met navorsing oor die plantgroei wat fungi en bakterieë in die risosfeermikrobioom van mielies en koring bevorder vir die ontwikkeling van biokunsmis en bioplaag­doders.

Departement van Voedselwetenskap

  • Smaakbeskrywing en -aanvaarbaarheid van groentesoja.
  • Die gebruik van lipiede van verskillende grane, oliesade en ander plantbronne in dierevoer om die gesondheidseienskappe van vleis te verbeter.
  • Evaluering van nuwe of onbekende plante en oliesade wat lipiede bevat vir potensiële gebruik in menslike voedsel en dierevoer.

Departement van Landbou-ekonomie
Twee interessante navorsingsprojekte waarmee dié departement besig is en wat veral produsente se belangstelling sal prikkel, is die volgende:

  • Die ontwikkeling van ’n regverdige metodologie vir die bepaling van liggingsdifferensiale vir die JSE-mielietermynkontrak.
  • Risiko- en opbrengsvergelykings van vooroesstrategieë om sodoende die verskillende verskansingstrategieë te evalueer om te bevestig of dié strategieë werklik die beste alternatief vir produsente is om prysrisiko te minimaliseer in vergelyking met die verkoop van mielies op die lokomark (spot market) teen oestyd.