Aanvullende lekke vir weidende herkouers

55
Prof HO de Waal,
geaffilieerde professor by die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Univer­siteit van die Vrystaat

Groot dele van Suid-Afrika bestaan uit veld wat deur plaasvee en wild benut word. Daar kom heelwat verskille voor in die samestelling en bedekking van veld. Alhoewel daar min wetenskaplike bewyse bestaan vir noemenswaardige voordele met sommige lekke op veld, is dit algemene praktyk om ’n groot verskeidenheid lekke aan weidende diere te gee.

Weidingskapasiteit
Klimaat, veral effektiewe reënval, beïnvloed beide die hoeveelheid veld en die gehalte daarvan. Dit lei tot verskille in veldproduksie tydens droër en natter jare asook tussen seisoene en bepaal die langtermynweidingskapasiteit van die veld. Laasgenoemde is die hoeveelheid diere per hektaar veld wat aangehou kan word.

’n Goeie kennis van veld- en dierebestuur speel ’n groot rol om diere se produksie te optimaliseer. ’n Gebrekkige kennis is waarom die “inherente swak gehalte van veld” as rede voorgehou word om gewaande tekorte met lekke “reg te stel.” Onvoldoende weidingsmateriaal op veld is egter ’n groter probleem as die gehalte.

Unieke verteringstelsel
Herkouers met hul unieke verteringstelsel bied as die gasheer ideale omstandighede vir mikrobes in die groot- en ruitjiespens – dié werk in simbiose saam. Mikrobes breek onder meer sellulose af na eenvoudiger voedingstowwe en vervaardig ook mikrobeproteïen en wateroplosbare B-vitamiene.

Seisoenale tekorte aan ruproteïen kan met ’n nieproteïenstikstofbron (NPN) soos voergraadureum vir mikrobewerking aangevul word – sogenaamde rumenstimulerende lekke. Die rumenfunksie in suipkalwers en -lammers is egter nog aan die ontwikkel, dus moet natuurlike proteïen eerder as NPN in sulke lekke gebruik word.

Praktiese produksiestelsels
Implementering van praktiese produksiestelsels op veld sal realistiese vlakke van diereprestasie lewer en behoort met slegs strategiese aanvulling van bewese tekorte van spesifieke minerale en soms ook ’n N-aanvulling op veld, voldoende te wees.

Afhangende van die natuurlike brak wat in veld voorkom, kan die fisiologiese behoeftes van beeste en skape met ’n soutlek (NaCl) bevredig word. Die daaglikse innames moet egter beperk word tot 80 g NaCl vir beeste en 8 g NaCl vir skape.

P-tekorte
Herkouers het die vermoë om diëte van goeie gehalte te selekteer. Op sekere veldtipes mag tekorte aan spesifieke minerale soos fosfor (P) voorkom en moet P strategies saam met ’n soutlek aangevul word. Armoedsvlakte (by Vryburg) toon die mees ekstreme bewese P-tekorte, daarom moet koeie daar met 16 g P/dag aangevul word vanaf laatdragtigheid tot midlaktasie (September tot Februarie) en 9 g P/dag vanaf Maart tot Augustus. Daaglikse soutinname moet egter steeds tot 80 g/kop beperk word.

Byvoeding
’n Duidelike onderskeid moet tussen aanvullende voeding en byvoeding getref word. Die sogenaamde produksielekke (bestaande uit energie, proteïen en verskeie minerale) word in groot hoeveelhede op veld gegee. Met aanbevole innames vir beeste van meer as 1 kg/kop/dag kan dit nie meer as lekke beskou word nie, maar is dit inderwaarheid byvoeding. Dit wil sê, addisioneel tot die weidingsinname vanaf veld, word ’n relatief groot hoeveelheid kos in krippe aan die diere gevoer. Elke produsent moet deeglik oor die finansiële voordele van sulke praktyke besin.

Hoë insetkoste
Ten spyte van vele aansprake oor sogenaamde “goeie” resultate, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat aanvullende voeding altyd die gewenste resultate sal lewer nie – veral gegewe die hoë insetkoste. Voordat met ’n grootskaalse aanvullende voedingsprogram begin word, moet die volgende vrae krities beantwoord word:

  • Wat is die doel met die aanvullende voeding? Moet proteïen, energie, ’n kombinasie van proteïen en energie of minerale aangevul word? Moet sekere diere net in massa toeneem? Moet droë diere op veld makliker onderhoud handhaaf? Moet laktasie met aanvullende voedingstowwe ondersteun word? Diere in verskillende produksiefases moet spesifieke tipes en hoeveelhede aanvullende voeding ontvang.
  • Hoe kan die doel die beste bereik word? Is die minder produktiewe diere reeds van die veld verwyder om sodoende meer weidingsmateriaal vir die oorblywende diere beskikbaar te stel? Hierdie opsie word te min deur produsente gebruik en kan ’n groot bydrae lewer om die aanvullende voedingsprogram meer doelgerig, effektief en goedkoper vir die oorblywende diere te maak.
  • Kan bepaal word of daar in die doel geslaag is? Hier faal die meeste goed bedoelde pogings om die prestasie van weidende herkouers te verbeter. Daar word selde gehou by die aanbevole peile waarmee die aanvullende voeding verskaf moet word. Variasie in die inname van aanvullende voeding is onbekend en word beïnvloed deur vreetspasie (getal diere/bak), toegang tot die bakke, peile van aanvulling en die frekwensie waarteen die bakke gevul word. Indien die voorsiening van aanvullende voeding nie goed bestuur word nie, vreet sommige diere hopeloos te veel, terwyl ander weer min indien enige waarde daaruit put.

Beskou weer die veeproduksiestelsel(s) teenoor die beskikbare voedingsbron(ne) (veld en moontlik ook aangeplante weidings en oesreste) op die plaas. Indien die faktore optimaal ineengeskakel is, behoort die strategiese rol en spesifieke aanvullings wat nog in die gebied benodig word, maklik gerealiseer te word.

Vir meer inligting, kontak prof De Waal by dewaalho@ufs.ac.za of 083 645 8958.