Teling-en-tegnologieheffing op sojabone: Algemene vrae en antwoorde

1264
Corné Louw,
senior landbou-
ekonoom, Graan SA
Gert Heyns,
uitvoerende
hoofbestuurder, SACTA

Waarom ’n heffing op sojabone?
Vir baie lank het plaaslike sojaboonprodusente nie toegang gehad tot die nuutste GMO-tegnologie en genetika nie. Dit sal na dese verander, aangesien die sojaboonbedryf nou ’n stelsel ontwikkel het om die eienaars van nuwe genetika en tegnologie te vergoed.

Waarom het die probleem ontstaan?
Dit is wettig dat produsente ’n deel van hul oes mag terughou om in die volgende jaar te plant. Volgens SANSOR word 80% van sojaboonaanplantings met terughousaad geplant. Alhoewel dit alles wettig is, veroorsaak dit dat saadmaatskappye nie vergoed word vir die navorsing en ontwikkeling van nuwe tegnologie en kultivars nie en dit verhoed dat verbeterde sojaboonsaad en -tegnologie na die plaaslike mark kom.

Volgens ’n onlangse studie van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het opbrengste van sojabone oor ’n 20-jaarperiode in die VSA met 1,46% per jaar toegeneem, in Brasilië met 1,33% per jaar en in Argentinië met 0,64%. Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika se opbrengste met slegs 0,43% per jaar toegeneem. Oor hierdie tydperk was Suid-Afrikaanse sojaboonopbrengste gemiddeld 40% laer as die gemiddelde opbrengste in hierdie drie produserende lande.

Wanneer tree die heffing in werking en wat is die bedrae betaalbaar?
Die teling-en-tegnologieheffing op sojabone is vir twee jaar goedgekeur met ingang van 1 Maart 2019. Die heffing is R65/ton vir die eerste jaar en R80/ton vir die tweede jaar. Die heffing word by die eerste punt van verhandeling gehef.

Hoe is die waarde van die heffing bereken?
Hierdie waardes is bereken as 1,2% van die voorafgaande bemarkingsjare se gemiddelde sojaboonprys en sal betaalbaar wees as produsente hul sojabone verkoop. Vir die eerste jaar se R65/ton is die gemiddelde prys van die 2015/2016-bemarkingsjaar vir sojabone gebruik – 1,2% van R5 495/ton = R65/ton. Vir die tweede jaar se R80/ton is die gemiddelde prys van die 2016/2017-bemarkingsjaar gebruik (tot en met November 2016) – 1,2% van R6 647/ton = R80/ton.

Na hierdie tweejaartermyn sal die bedrag varieer afhangende van die tendens in die sojaboonprys en ook na aanleiding van die vrystelling van nuwe tegnologie.

Deur wie word die heffing geadministreer?
Die sojaboonheffing sal deur die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) geadministreer word en volgens markaandeel aan saadmaatskappye uitbetaal word.

SACTA is ’n niewinsgewende maatskappy wat gestig is om saadheffings vir teling en tegnologie van alle oopbestuifde gewasse te administreer.

Koring- en garsheffings word alreeds vir ’n derde jaar deur SACTA ingesamel en uitbetaal.

Hoe werk die uitbetaling?
Die teling-en-tegnologieheffing wat geïn word, word volgens saadmaatskappye se markaandeel in die sojaboonsaadmark uitbetaal. Die saadmaatskappye met die grootste markaandeel behoort die meeste voordeel hieruit te trek. Die markaandeelberekening word gedoen deur ’n formule wat SACTA ontwikkel het, te gebruik. Verskillende insette waaraan gewigte toegeken is, word in die formule gebruik.

Die belangrikste insette wat gebruik word, is:

  • Verkope van nuwe saad;
  • lewerings per kultivar by verskillende silo’s en verwerkers; en
  • vraelyste aan produsente oor kultivars aangeplant.

SACTA se akte van oprigting bepaal dat die heffing aan die geregtigde saadmaatskappye uitbetaal moet word. Wat ook belangrik is om in ag te neem, is dat dit ’n statutêre heffing is. Hiervolgens word bepaal dat 20% van die heffing vir transformasieprojekte geallokeer moet word. SACTA sal ook hierdie fondse bestuur.

Watter verantwoordelikhede het die verskillende rolspelers?
Dit is belangrik om kennis te neem dat dié statutêre heffing ’n verpligte heffing is en ’n beroep word op die sojaboonbedryf gedoen vir alle rolspelers se samewerking.

Produsente
Produsente moet hul kultivars so akkuraat as moontlik tydens lewering rapporteer. Indien die kultivarnaam nie onthou kan word nie, moet die maatskappy van wie die oorspronklike saad gekoop is, gemeld word.

Leweringsinstansies
Maatskappye wat lewering van sojabone ontvang, moet goed boekhou van die hoeveelhede van verskillende kultivars of van verskillende saadmaatskappye wat ontvang is.

Saadmaatskappye
Saadmaatskappye moet nuwe saadverkope so akkuraat as moontlik aan SANSOR en SACTA weergee.

Wat is die voordeel vir die bedryf?
Die heffing sal meebring dat Suid-Afrikaanse produsente toegang kry tot die nuutste kultivars en biotegnologie om sodoende te kan kompeteer met ander lande – iets wat nie moontlik sou wees as die bedryf nie hierdie tipe befondsingstrukture tot stand gebring het nie.

In kort is die voordeel vir produsente:

  • Hulle verkry toegang tot die nuutste kultivars.
  • Hulle sal toegang hê tot die nuutste tegnologie.
  • Daar behoort nuwe toetreders tot die sojasaadmark te wees.
  • Groter mededinging sal in die mark plaasvind.