Die geloofwaardigheid van SAGIS-inligting onder die loep

NICO HAWKINS, hoofbestuurder: SAGIS

1512

“SAGIS gebruik file 13 om sy boeke te laat klop.”

Hierdie was die interessante uitlating wat ‘n ruk gelede op sosiale media verskyn het – en wat beslis verdere selfondersoek binne die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) genoodsaak het.

Die volgende vrae is gevra:

  • Wat het die persepsie by die individu wat dit geplaas het, veroorsaak?
  • Is dit ‘n algemene gevoel onder rolspelers in die graan- en oliesadebedrywe wat van SAGIS se inligting gebruik maak?
  • Weet almal wie SAGIS is en wat dit veronderstel is om te doen. Hoekom sal ons dan hierdie inligting wil manipuleer?
  • Doen ons genoeg om die inligting wat aan ons verskaf word bo alle twyfel te verifieer om sodoende die integriteit daarvan te verseker?

Persepsies oor SAGIS

  • Baie rolspelers in die graan- en oliesadebedrywe blyk onder die indruk te wees dat SAGIS ‘n konneksie met die staat het en dus van tyd tot tyd opdrag kry om inligting te manipuleer, wat dan die pryse van kommoditeite só sal beïnvloed dat verbruikerspryse afwaarts beïnvloed word.

    Ons ontvang geen fondse vanaf die staat nie en word deur die vier bedryfstrusts (die Mielietrust, Wintergraantrust, Olie en Proteïensade-ontwikkelingstrust en Sorghumtrust) bestuur en gefinansier.
  • Sekere groeperings in die markomgewing gee doelbewus verkeerde inligting aan ons deur om sodoende markpryse tot hul voordeel te manipuleer.Om dit reg te kry, sal ‘n reuse en gekoördineerde spanpoging van die groeperings behels wat ook samewerking van SAGIS se ouditinspekteurs sal moet insluit.
  • SAGIS doen die oesskattings en om die akkuraatheid daarvan goed te laat lyk, word die werklike produsentelewerings gemanipuleer.

    Ons is nie op enige wyse betrokke by die maandelikse oesskattings nie, behalwe om dit op sy webblad vir kennisname te plaas. Die Nasionale Oesskattingskomitee, wat ‘n komitee van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) is, gebruik wel aan die einde van elke seisoen SAGIS se leweringsyfers om die akkuraatheid van sy skattings te toets. Daar moet ook in ag geneem word dat die oesskatting nooit kan en gelyk sal wees aan die lewerings in ‘n bepaalde bemarkingseisoen nie.
  • Nie alle rolspelers in die kommersiële graan- en oliesadebedrywe is by SAGIS geregistreer nie, wat beteken nie alle inligting word deur ons ondervang nie.

    Die kommersiële opbergers en verwerkers van grane en oliesade vorm die kern van die stelsel deur middel waarvan ons die inligting bekom en beskikbaar stel. Alle grane en oliesade moet een of ander tyd deur beide of slegs een van die instansies beweeg om uiteindelik by die verbruiker uit te kom.Dit is baie moeilik vir ‘n kommersiële rolspeler om oor die langtermyn vir SAGIS weg te kruip en wetgewing verplig rolspelers om by ons te registreer en opgawes in te dien. Informele beweging soos byvoorbeeld tussen ‘n mielieprodusent en sy buurman se varkboerdery asook mielies wat ‘n produsent self op sy plaas aanwend, word ongelukkig nie in SAGIS se syfers gereflekteer nie.

Hoe voel rolspelers oor die geloofwaardigheid van SAGIS se inligting?
In Grafiek 1 word die terugvoer van drie opnames wat onlangs gedoen is, getoon. Dit wil voorkom asof dit veral primêre produsente (volgens ‘n opname tydens die onlangse Graan SA Kongres) is wat twyfel oor die akkuraatheid en geloofwaardigheid van ons inligting. Dit is duidelik dat ander rolspelers, soos gereflekteer in ‘n opname wat tydens die onlangse simposium van die Graanhanteringsorganisasie (GOSA) gehou is asook op die webblad self, ons inligting as meer betroubaar beskou.

Hoewel ons eie webopname nie die rolspeler kan identifiseer nie, word ons webblad deur die hele spektrum van belanghebbendes plaaslik en internasionaal besoek.

Wie is SAGIS en wat doen ons?
Voor deregulering is die inligtingsfunksie deur die beheerrade van die vier bedrywe hanteer. Die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, Wet 47 van 1996 (Bemarkingswet) het ‘n einde gebring aan eenkanaalbemarking en die beheerrade.

Rolspelers het egter die noodsaaklikheid van betroubare inligting vir die funksionering van ‘n vryemark besef en saamgewerk om SAGIS daar te stel.

Ons hoofdoelstelling is die versameling, verwerking, ontleding en tydige verspreiding van betroubare markverwante inligting aan alle rolspelers. Ander funksies soos byvoorbeeld die monitering van invoertariewe en die uitreik van ouditsertifikate vir minimum marktoegang is ook aan ons toevertrou.

Markdeelnemers (medewerkers) soos opbergers, verwerkers, invoerders en uitvoerders van bogemelde grane en oliesade, word statutêr onder die Bemarkingswet verplig om by ons te registreer en inligting te verskaf.

‘n Medewerker wat nie die vereistes van die statutêre maatreël nakom nie, maak homself aan ‘n oortreding skuldig en kan vervolg word. Gelukkig besef medewerkers die belangrikheid van betroubare inligting en werk meestal goed saam deur opgawes tydig en gereeld te verskaf.

SAGIS is ‘n nie-winsgewende instansie wat na die deregulering van landboubemarking in Suid-Afrika, op 11 November 1997, gevestig is om die graan en oliesadebedrywe van noodsaaklike markinligting te voorsien.

Die trusts van die vier bedrywe is as SAGIS se lede geregistreer en elke trust wys jaarliks twee direkteure, sowel as een alternatiewe direkteur, vir SAGIS aan. SAGIS word ook deur die onderskeie trusts befonds (Figuur 1).

Aksies om die korrektheid van voorrade, soos gepubliseer, te verseker
Interne kontroles
SAGIS beskik oor ‘n gesofistikeerde rekenaarstelsel, wat:

  • Verskeie toetse uitvoer wanneer ‘n opgawe op die stelsel verwerk word. (Is die vorige maand se opgawe vasgelê?; Beginvoorraad is vorige maand se eindvoorraad?; Eindvoorraad is die som van die beweging van graan op die res van die opgawe?; Firma- en perseelnommers is geldige nommers?)
  • Verslae opstel wat die personeel help om foute en afwykings vinnig te identifiseer vir opvolg. (Vergelyk B se ontvangstes vanaf A met A se versendings na B?)

Eksterne kontroles

  • Inligting van eksterne bronne word gebruik om ons inligting daarteen te meet (SAID, PPECB, Portnet en Spoornet).

Ouditinspeksies
SAGIS se ouditinspekteurs speel ‘n belangrike rol deurdat hulle die betroubaarheid van die inligting onafhanklik en fisies op die perseel meet. Hul aktiwiteite sluit, onder andere, in:

Fisiese voorraadopnames
Tydens die opnames word alle persele van ‘n medewerker besoek en word alle heel graan in voorraad gemeet (bepaling van die volume van opbergfasiliteite is meestal bekombaar vanaf ingenieursplanne en fisiese meting van volume van die tonnemaat voorhande). Die tonnemaat in voorraad word vergelyk met die medewerkers se boekvoorraad en dit wat op die opgawes verklaar is.

Die inspekteurs se doelwit is om medewerkers wat tot 90% van alle inligting verskaf, ten minste elke twee jaar te besoek en voorraad fisies te neem. Die res van die medewerkers word ten minste elke jaar besoek.

‘n Groot aantal ad hoc-inspeksies word ook deurlopend, waar daar suspisie ontstaan oor die korrektheid van ‘n opgawe se inligting, gedoen.

Oudit van brondokumente en rekords
Brondokumente word op steekproefbasis getrek en gevolg tot by die opgawe om die redelike akkuraatheid en volledigheid van die opgawe te bepaal.

Ofskoon daar gereeld met inspeksies gevind word dat verstellings aan die opgawes wat verskaf is nodig is, is dit nietige verstellings wat feitlik geen effek op SAGIS se reeds-gepubliseerde inligting het nie.

SAGIS besef die belang van korrekte inligting vir besluitneming deur alle rolspelers in die graan- en oliesademarkte.

Daar is geen voordeel vir SAGIS daarin om inligting te manipuleer nie. Ons kan egter net die inligting wat deur die rolspelers (medewerkers) in die bedrywe verskaf word deur middel van verskeie interne en eksterne kontroles konsekwent en op ‘n deurlopende basis verifieer om die korrektheid daarvan te verseker voordat dit bekend gemaak word.