Noordwes-Vrystaat: Junie 2022 – Winsgewendheidberamings vir die 2022/2023-seisoen

Petru Fourie, landbou-ekonoom en navorsingskoördineerder, Graan SA
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA
Gepubliseer: 20 Junie 2022

593

Die komende somergraanproduksieseisoen (2022/2023) is een waar daar uitermatig baie rooi ligte aan die flikker is. Groot kommer heers oor plaaslike kunsmispryse wat die afgelope tyd maand na maand aanhou styg en tans rekord hoogtes bereik het.

Daar is egter rede vir dié kommer aangesien kunsmis sowat 30 tot 35% van ’n mielieprodusent se veranderlike produksiekoste uitmaak. Indien die gemiddelde styging van kunsmispryse volgens ‘n N,P,K verhouding vanaf Junie 2021 tot Junie 2022 vergelyk word, het dit met ’n drastiese 116% gestyg.

Weens insetkoste wat voortdurend aan die styg is, monitor Graan SA die winsgewendheid situasie van graan en oliesade tans op ’n maandelikse basis. Soos nuwe inligting elke maand na vore kom, hetsy dit insetkostes soos kunsmis- of brandstofpryse of die Safex-prys is, word die winsgewendheid sitausie vir die komende somergraanseisoen beraam om vir produsente en die bedryf ’n idee van dié prentjie te skets. Soos inligting bekendgemaak of vrygestel word, gaan Graan SA die winsgewendheidsituasie maandeliks beraam en in artikel-formaat bekend maak.

Samestelling van beraamde produksiekoste
Aangesien produksiekoste radikaal van buurman tot buurman verskil weens elke produsent se eie unieke stelsel, die tipe boerderyeenheid en produksiepraktyke, moet die inligting in die artikel slegs as ’n aanduiding gesien word wat die winsgewendheidsituasie skets. Elke produsent word steeds aangeraai om sy eie berekeninge te doen en daarvolgens besluite te neem.

Kommoditeitspryse
Die Safexvooruittermynkontrakprys word elke maand aangepas en opgedateer. Die onderstaande gemiddelde Safex-pryse is in ag geneem vir berekening van die Junie 2022-syfers:

  • Mielies vir lewering in Julie 2023 = R4 075/ton
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2023 = R10 350/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2023 = R8 700/ton

Insetpryse
Tydens die saamstel van die veranderlike kostes, word die insette aangepas soos nuwe inligting maandeliks bekendgemaak word.

  • Kunsmis: Plaaslike kunsmispryse is op ’n maandelikse basis aangepas soos nuwe pryslyste vanaf die kunsmismaatskappye ontvang word.
  • Saad: Graan SA het die nuutste saadpryse vanaf die verskillende saadmaatskappye ontvang en dit is in dié begrotings aangebring.
  • Brandstof: Vooruitskattings van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en ruoliepryse is gebruik om die brandstofkoste te bepaal.
  • Chemie: Geen aanpassings is sedert die saamstel van die 2021/2022-produksieseisoen aan die chemiekoste gedoen nie. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie.

Veranderlike koste
Met kunsmis- en brandstofpryse wat die afgelope paar maande voortdurend aan die toeneem is, kan die styging van die totale veranderlike koste vir mielies, sonneblom en sojabone duidelik in Grafiek 1 waargeneem word. Dit is kommerwekkend aangesien graanprodusente prysnemers ten opsigte van insetkoste is en dié hoër koste nie aan verbruikers deurgegee kan word nie. Produsente absorbeer dus enige insetprysstygings.

Grafiek 1 dui die beraamde totale veranderlike koste vir die volgende scenario’s aan:
– 2021/2022-produksieseisoen (soos saamgestel September 2021)
– 2022/2023-produksieseisoen (insetkoste soos beskikbaar Februarie 2022)
– 2022/2023-produksieseisoen (insetkoste soos beskikbaar Maart 2022)
– 2022/2023-produksieseisoen (insetkoste soos beskikbaar April 2022)
– 2022/2023-produksieseisoen (insetkoste soos beskikbaar Mei 2022)
– 2022/2023-produksieseisoen (insetkoste soos beskikbaar Junie 2022)

Die totale veranderlike kostes vir mielies (gemiddelde opbrengs) het vanaf R9 388/ha (soos bepaal vir die 2021/2022-produksieseisoen) tot en met R13 625/ha (Junie 2022) verhoog. Dit is ’n drastiese styging van 40% met kunsmis wat die grootste bydraende faktor is. Volgens verdere berekeninge het die totale veranderlike koste van sonneblom en sojabone tydens dieselfde tydperk met gemiddelde ±29 – 51% toegeneem.

Grafiek 1: Noordwes-Vrystaat: Maandelikse verandering in die totale veranderlike koste.

Brutomargevergelyking
Alhoewel die somergraan plantseisoen eers oor sowat vyf maande afskop is dit noodsaaklik om ’n idee te kry van hoe die winsgewendheid van somergraangewasse met mekaar vergelyk. Die ontleding van bruto marges is ’n algemene manier om die relatiewe winsgewendheid van graangewasse te toon.

Tydens die bepaling van die bruto marges is slegs veranderlike kostes in ag geneem en sluit dit vaste koste uit. In Grafiek 2 kan daar wel ’n rooi lyn waargeneem word wat ’n vastekostebedrag van R2 500 aandui. Indien die staaf laer as die rooilyn is, is dit ’n aanduiding dat produsente nie hulle totale koste (veranderlike + vaste koste) kan dek nie.

Grafiek 2: Noordwes-Vrystaat: Maandelikse brutomargeverandering vir mielies, sonneblom en sojabone.

Winsgewendheidsbarometer
Met die samestelling van die barometer word daar gepoog om vroegtyding ‘n aanduiding van die verskil in winsgewendheid tussen die drie vernaamste somergewasse, naamlik mielies, sonneblom en sojabone, vir die komende seisoen te illustreer.

Volgens die onderstaande barometer is sonneblom ’n staatmakergewas vir die Noordwes-Vrystaat, alhoewel die voorkoms van siektes opbrengste beduidend kan affekteer. Volgens die berekeninge en indien die Safex-pryse realiseer, blyk somergraanverbouing oor die algemeen relatief winsgewend te wees. Oliesaadpryse verhandel tans op hoë vlakke wat die winsgewendheidsituasie van dié gewasse baie gunstig maak.

Grafiek 3: Noordwes-Vrystaat: Winsgewendheidsbarometer.

Slotsom
Die winsgewendheid van enige gewas is ’n funksie van die kommoditeitsprys, opbrengs en produksiekoste: Indien enige van hierdie faktore verander, verander die winsgewendheid van die bepaalde gewas. Weens kommoditeitspryse wat tydens die skryf van hierdie artikel teen baie goeie vlakke (ondersteun deur hoë internasionale pryse) vir die komende seisoen verhandel, is graan- en oliesadeproduksie oor die algemeen relatief winsgewend. Benewens die uitermatige kunsmis- en brandstofprysstygings, is dit nie algemeen dat al die pryse van die somergraangewasse op relatiewe hoë vlakke verhandel nie. Daar heers groot dankbaarheid vir die beter ekonomiese situasie waarin die graanbedryf homself bevind. Nietemin is die geweldige stygings in insetkoste, spesifiek kunsmis, wel ’n groot bron van kommer.